MOENIE JULLE LAAT MISLEI NIE

MOENIE JULLE LAAT MISLEI NIE

Sakkie Parsons

Ek wil graag vandag deur enkele voorbeelde uit die Woord met jou deel hoe satan soms deur mense, valse leraars,  gedeeltes uit die Woord misbruik om eerstens hulle eie soort evangelie van Jesus te verkondig.

Tweedens die Woord net so effe verdraai om selfs soos wat ‘n dame aan my geskryf het, hoe byvoorbeeld 1Korinthiërs 7:36 deur ‘n valse leraar verdraai was om sy wellustige sin te probeer kry.

Ek het ‘n ‘Gedagte uit die Woord’ oor 1KOR 7:36 geskryf wat ek met jou sal deel as jy my vra.

Ek sê altyd vir mense –

Een feit wat ons altyd baie goed moet onthou is die volgende:

Die satan ken die Woord so goed soos baie van ons en beter as die meeste van ons.

Die satan het al in Genesis vir die eerste keer deur die Woord te verdraai, so misbruik om mense in die hel te probeer kry en oor die afgelope meer as 6,000 jaar het hy nog nooit daarmee opgehou nie, gewoon omdat dit nog altyd vir hom gewerk het.

Die eerste keer toe hy dit gedoen het, moes hy, as te ware noodgedwonge ‘n slang gebruik maar daarna het hy nog nooit nodig gehad om dit weer so te doen nie, omdat daar oorgenoeg mense om ons Here se volgelinge is, wat te gewillig is om deur hom misbruik te word.

Ek deel nou met jou enkele voorbeelde uit ons Here se kosbare Woord, om jou te wys hoe hy deur mense, valse leraars, ons Here se Woord en in hierdie eerste voorbeeld, ons Here se liefdevolle genade verdraai om mense te mislei.

Ons lees:

GAL 5:1  Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.

Die valse verdraaiing van hierdie gedeelte is dan die volgende:

Julle is nou vrygemaak van, ‘jy mag nie meer hierdie en daardie nie’.  Geniet jou lewe, jy is nou mos gered.

So jy hoef nie meer skuldig te voel omdat jy hierdie of daardie sondige verslaafdheid in jou lewe nie wil opgee nie.  Geniet die lewe soos jy doen.

Wat is egter die regte betekenis van Galasiërs 5:1?

Dit is kinderlik eenvoudig, as jy jou deur ons Here se Heilige Gees laat lei en die Woord in konteks lees.

Net ‘n bietjie verder in GAL 5, naamlik GAL 5:13 word dit nog meer duidelik, as jy dit nie reeds in GAL 5:1 kon sien nie.

Lees net weer GAL 5:1 en dan wat daarmee saam die regte betekenis so pragtig duidelik uitwys:

GAL 5:1  Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie. (diensbaarheid hier sluit die sondige juk/leefwyse wat jy gelewe het in)

Dan om te onderstreep hoe Galasiërs 5:1 gelees moet word; dat vryheid in Christus nie as ‘n lisensie vir sonde, (veral sonde wat ek byvoorbeeld nie kan oorwin of wil oorwin nie), gesien behoort te word nie,  lees ons net ‘n bietjie verder in dieselfde hoofstuk van Galasiërs 5:

GAL 5:13  Want julle is tot vryheid geroep, broeders; (en susters.  Misbruik net nie julle vryheid om steeds in julle sonde voort te ploeter nie) gebruik net nie julle vryheid as n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde. (eerstens jou liefde vir jou God en tweedens, jou liefde vir jou medemens)

Ek sluit dan hierdie skrywe aan jou af met nog een verdraaiing van ons Here se kosbare woord.  Ook omdat ek dan nou juis in hierdie gedagte uit die Woord probeer leiding gee, terwyl ek ook in liefde vermaan.

Daar is ook mense wat maklik vir jou sal sê:

“Moet my nie oordeel nie, want jy mag nie oordeel nie en dan kwoteer hulle maklik vir jou  Matteus 7:1.

Ons lees:

MAT 7:1  Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.

MAT 7:2  Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.

Dan sal hulle die gedeelte verklaar deur te sê, dat nie jy, (wie hulle nou probeer reg help), of enige iemand anders het die reg om hulle op die sonde in hulle lewe te wys, of inderdaad selfs die reg om te sê, dat dit in hulle geval sonde is nie.

Die waarheid is egter, dat ons Here Sy kinders juis die opdrag gee om mekaar te vermaan, soos ek jou nou sal wys – maar dit moet nie huigelagtige vermaning wees terwyl ekself agter die deur staan nie.

Eerstens lees ons:

JHN 7:24  Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel ‘n regverdige oordeel.

Dit is Jesus wat in albei gevalle wat jy nou gelees het gepraat het en Jesus praat nie uit twee monde uit nie.

Om te ondersteun wat ek jou nou uit Johannes 7:24 gewys het, gebruik ek nog een voorbeeld uit die Woord van die baie wat ek kon gebruik het:

ROM 12:6-8

6  En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is:

7  is dit profesie, na die maat van die geloof; of bediening, in die werk van bediening; of wie leer, in die lering;

8  of wie vermaan, in die vermaning; wie uitdeel, in opregtheid; wie n voorganger is, met ywer; wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid.

Ja, ons moet mekaar vermaan en soos jy nou gelees het – in alle opsigte so mekaar ondersteun om nie van ons geloof in Christus af te wyk nie – maar ons moet dit altyd doen met die liefde van Christus wat in ons gesien kan word.

Daarom gaan Paulus voort net nadat hy geskryf het wat jy nou gelees het en hy skryf:

ROM 12:9-11

9  Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan;

10  wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning;

11  wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here;

Ek gaan in die toekoms met jou nog sulke gevalle deel, van hoe mense die Woord verdraai om hulle soort evangelie te pas – maar vir nou sluit ek dan hierdie skrywe af met die verdere wonderlike raad uit ons Here se kosbare Woord, wat Paulus geskryf het, net nadat hy met ons oor ons optrede teenoor mekaar en vermaning van mekaar geskryf het:

ROM 12:12  verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.

Groete,

Sakkie