Die wedloop het plaasgevind op die 8ste November 2025 maar die 7de November het dit heerlik hard en lank gereën.
Dennis Frost, my gids vir die wedloop, bel my toe die Vrydagaand en sê ek moet vir my plastiese sakke saambring om oor ons tekkies te trek tot by die wegspring, want ons weet nie presies waar ons gaan parkering kry nie en daar gaan baie modder en waterplasse wees, waar ons onvermydelik moes deur.
Toe ek die foon neersit, plant ons Here die eerste saadjie van hierdie gedagte waaroor ek skryf in my kop.
Terwyl ek 4 lekker sterk vuilgoed sakkies wat ek in my kombuis gebruik, en 4, net die regte lengte toutjies in my rugsak sit, kom die gedagte by my op:
“Dit is darem heerlik as jou gids vir die wedloop ‘n ekspert met baie jare se ondervinding is.”
Toe ons die volgende oggend uiteindelik ‘n lekker staanplek onder die omstandighede kry, trek ons, ons sakke oor ons tekkies en ek maak myne met die toutjies wat ek saamgebring het vas en ons klim uit. Dennis het toe sy eie wat hy met jare se ondervinding gebruik maar sê vir my, dat myne is perfek. Hoe kon dit ook anders – ek het die Heilige Gees met al die ondervinding gehad om in my woonstel te wys wat is die beste.
Ons is toe deur modder moerasse en waterkuile. Nee, dit was darem nie so erg nie. Ons is deur modder en waterplasse tot by waar Wayne en sy vrou Mia die klub se tent vir die dag opgeslaan het.
Toe ontdek ek, dat hulle ook eksperts is met baie jare se ondervinding want die tent is toe op ‘n lekker plek, nie te naby nie, maar ook nie te ver van die mobiele toilette af nie en ek en Dennis is toe gou daarheen, weer deur modder en waterplasse.
Hoekom dit so wonderlik was, dat ons so binne bereik van die toilet geriewe af is –
Honderde mense staan in rye om voor die wedloop net gou daar ‘n draai te gaan maak en jy wil dan nie ver stap en ‘n oop toilet soek en as jy hom uiteindelik gekry het weer ‘n lang pad terug stap na die wegspring, terwyl jy hoor hoe word die minute en later die sekondes afgetel nie.
Toe ons na die wedloop so saam sit en gesels en iemand die opmerking maak, dat my tekkies so mooi skoon is en my gedagtes weer so oor die oggend en die stap deur die modder en water plasse gaan, kom die volgende gedagte toe by my op wat ek met jou wil deel:
Omdat ek die regte vriend gehad het om my by te staan, het ek skoon gebly.
Daar is egter werklik net een Vriend wat jou en my kan help, om nie vol van hierdie wêreld se gemors en modder aan die ander kant van die graf oor die eindstreep te arriveer nie.
En Hy is wat dit aanbetref ‘n Ekspert in alle opsigte, van hoe om nie deur die modder en gemors van hierdie wêreld besmeer te word nie.
Ons lees:
HEB 4:14-16 Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou.
15 Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een (die Ekspert) wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.
16 Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.
En verder:
FIL 2:5-11 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.
6 Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie,
7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword;
8 en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.
9 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,
10 sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,
11 en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God
Uiteindelik is al wat gaan saak maak as ek my laaste tree hierdie kant van die graf gegee het, en ek gee my eerste tree aan die anderkant van die graf die ewigheid in –
Gaan ek skoon saam met Jesus as my Gids aan die anderkant van die graf arriveer?
Of gaan ek sonder Hom vuil, besmeerd van die wêreld se modder aan die anderkant van die graf arriveer?
Want dit gaan uiteindelik die bepalende faktor wees, van waar ek die ewigheid gaan deurbring.
JHN 3:17-18 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
18 Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.
Groete,
Sakkie
