ONS DURF NIE DIE HERE BLAMEER NIE

ONS DURF NIE DIE HERE BLAMEER NIE

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra:

“Waarom stuur God iemand in jou lewe vir wie jy lief word en dan laat die Here weer toe dat die persoon uit jou lewe gaan?”

Hier is hoe ek dit sien maar wat ek nou gaan sê, kan na my mening op feitlik alle situasies in ons lewens van toepassing gemaak word.

Baie keer gebeur daar dinge in ons lewe en dan gee ons, ons Here direk of indirek die skuld vir wat gebeur en die meeste van die tyd is dit nie ons Here nie maar ons, of die mense met wie ons deel se skuld.

Ek wil dit so vir jou verduidelik:

Jy en ek is na God se beeld geskape en twee van die kenmerke van God se beeld wat in jou en my lewe na vore kom, is die volgende.

Eerstens, ons is onsterflik, soos God ook onsterflik is.

Jy gaan een of ander tyd uit jou liggaam beweeg en jou liggaam gaan tot niet gaan maar jy gaan verder verewig lewe, of in die Hemel, of in die Hel – en alhoewel jy nie vir jou ‘n plek in die Hemel kan los werk of koop nie, want Jesus het reeds alles gedoen wat gedoen moes word om dit vir jou moontlik te maak om Hemel toe te gaan, gaan jy deur besluite wat jy neem of nie neem nie, bepaal waar jy die ewigheid gaan deurbring.

Dit bring my by nog ‘n eienskap van die beeld van ons Here wat ook deel van jou is.

Jy het soos ons Here ‘n wil van jou eie.

Byvoorbeeld:

Ons Here wil hê dat die hele wêreld moet Hemel toe gaan, daarom sê die Woord dan ook onder andere.

Mrk 16:15  En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.

Mrk 16:16  Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.

Jy sien, jou en my plek in die Hemel is reeds deur Jesus vir ons gereserveer.  Nou

hang dit van ons af, of ons, ons plek gaan inneem of nie.

Deur mense wat ons padlangs kom en soms deur dinge wat met ons gebeur ens, klop Jesus aan ons harte en deur die wyse wat ons reageer, maak ons vir Hom oop, of maak ons nie oop nie en sodoende bepaal ons waar ons die ewigheid gaan deurbring.

OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

So gebeur dit dan ook dat deur besluite wat ek en mense om my, baie keer neem, die gevolg is van wat met my gebeur en nie is wat ons Here wou hê nie maar Hy respekteer ons wil.

Ek kon nou baie voorbeelde genoem het maar ek wil volstaan met een:

Ek ontmoet ‘n persoon en ons begin met ‘n vriendskap.  Na verloop van tyd raak ons verlief op mekaar en nog later besluit die ander persoon, dat sy nie werklik lief vir my gewees het nie en breek die verhouding.

Miskien wou ons Here hê dat ons mekaar se lewensmaats moes wees maar die persoon op wie ek verlief is, besluit om buite die wil van ons Here te beweeg.

Ek glo dat dit dan nie minder hartseer vir ons Here is as vir my nie.  Want, nie net is die persoon nou ongehoorsaam aan ons Here nie maar sy veroorsaak ook hartseer vir een van Sy kinders maar ons Here het ons na Sy beeld geskape en Hy gaan haar vermoë om haar eie besluite te neem, wat deel van Sy beeld is, waarmee Hy haar geskape het, respekteer.

In ander gevalle volg ons soms ons eie menslike gevoelens of begeertes en maak ons ‘n gemors van ons lewens.  Dan kan ek egter nie nou sommer ons Here vir die tragedie in my lewe blameer nie.

Ek weet nie alle gevalle is so ‘n “open and shut case” nie maar een ding weet ek verseker –

JAK 1:13  Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.

Natuurlik gebeur daar dinge in my lewe, wat op die oog af geen sin hoegenaamd maak nie.  Na daardie dinge kyk ek op die manier wat my groot held Paulus my geleer het om te kyk en ek volg my liefdevolle God en Verlosser blindelings.  So met die tong in die kies, persoonlik volg ek Hom sommer letterlik en figuurlik blindelings.

1KOR 13:12  Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.

Jy sien, jy en ek, sien maar net ‘n baie, baie klein deeltjie van ons lewensweg maar Hy sien die wonderlike geheel.

Hoe kan dit ook anders?  Hy is dan die Argitek daarvan!

So, staan op uit jou hartseer en of probleem situasie en gryp Jesus jou Verlosser vas, sodat jy weer in die plan wat Hy vir jou uitgewerk het in kan beweeg, met hierdie heerlike wete:

1PET 1:6  Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge,

1PET 1:7  sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;

1PET 1:8  vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap,

1PET 1:9  en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.

Neem die verkeerd en of hartseer in jou lewe in die geloof na ons Here en glo my wat ek vir jou skryf, ek praat nie van hoorsê nie.  Ek praat van persoonlike ondervinding.

FIL 4:19  En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.

Groete

Sakkie