MOENIE OP MEKAAR NEERKYK EN MEKAAR VERNEDER NIE – WANT ALLES IS NET GENADE

MOENIE OP MEKAAR NEERKYK EN MEKAAR VERNEDER NIE – WANT ALLES IS NET GENADE

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:  “Ek is baie hartseer en ontsteld Sakkie, want daar het ‘n man wat baie ryk is, op iemand in my familie neergekyk wat sukkel om die mas op te kom, en hom voor andere op ‘n grappige wyse baie verneder.

Ek deel met jou my antwoord as volg: 

Ons Here het niks teen mense wat ryk is nie

Want – na alles, dit is Hy wat toegelaat het, dat hulle het wat hulle het – maar die Woord het, volgens wat ek die Woord verstaan, ‘n baie, baie ernstige waarskuwing vir sulke mense, want soos ek die Woord verstaan, kan jy dit as volg opsom:

Rykdom gee jou ‘n maklike gelykpad deur hierdie lewe, wat hierdie lewe aanbetref – maar omdat die mens is wat hy is, met sy geaardheid wat hy het, is dit ‘n skrikwekkend baie, baie moeilike pad deur hierdie lewe hemel toe – en die skrikwekkendheid van om op daardie wyse hemel toe te loop, lê daarin, dat soos in die geval van hoë bloeddruk, jy ervaar nie groot gevaar voordat dit te laat is nie – en die grootste gevaar vir ryk mense, is nie altyd dat hulle die verkeerde doen nie, maar omdat hulle nié die regte ding doen nie, omdat hulle nie glo, dat hulle in die verkeerde rigting oppad is nie en hulle rykdom hulle bewustelik, of in baie gevalle onbewustelik, in hulle koppe, op ‘n vlak net so effe hoër as ander mense en selfs hulle broers en susters in Christus plaas.

Kom ons neem nou maar die ryk man van wie Jesus ons vertel in Lukas 16:19-31.

Soos ek altyd sê as ek oor hom praat:

Ons lees nêrens, dat hy ‘n sondige lewe gelewe het nie.

Om die waarheid te sê as ons net Lukas 16:19 lees, praat Jesus eintlik uit ‘n menslike oog gesien, positief van hom.

Hy was ryk en hy het sy rykdom geniet.

Daar is tog nie iets daarmee verkeerd nie, is daar?

So, hoekom maak hy dan sy oë in die hel oop?

Wel, dit is ooglopend, as jy onthou wat uiteindelik die énigste wyse is hoe jy die ewigheid in die hel kan vryspring – en dit is om aan die anderkant van die graf saam met Jesus te arriveer.

Daarom, soos ek ook altyd vir mense sê as ons oor hierdie gedeelte uit die Woord gesels –

Dit is nie wat die ryk man gedoen het, wat hom in die hel laat beland het nie

Dit is wat hy nie gedoen het nie, wat hom in die hel laat beland het.

Ryk Christene raak gewoonlik so blasé wat hulle godsdiens in hulle Christen-wees aanbetref, dat hulle nie agterkom hoe hulle al hoe verder van Jesus verwyderd raak, dat hulle nie eens agterkom, dat Jesus al oor hulle Christelike horison verdwyn het nie – en as hulle anderkant die graf arriveer, is Jesus heeltemal buite hulle sig.  Dan ontdek hulle, dat hulle hulleself lankal van Jesus losgemaak het, al sit hulle elke Sondag in die kerk en al dien hulle (in sommige gevalle) vanweë hulle geld op al wat ‘n raad is.

Ek kan werklik vir jou baie voorbeelde uit die Woord wys van hoe gevaarlik en moeilik die pad hemel toe vir mense met baie rykdom is – maar ek volstaan met die volgende:

MAT 13:22  En by wie in die dorings gesaai is—dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar.

Sien jy wat jy daar lees?

MAT 13:22  …, en hy word onvrugbaar.

Hy wás nie onvrugbaar nie.  Hy was vrugbaar – maar hy het onvrugbaar geword.

Anders gestel:

Hy was oppad hemel toe maar is nou oppad hel toe:

MAT 13:22  En by wie in die dorings gesaai is—dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en (hy beland op die einde in die hel) hy word onvrugbaar.

JAKOBUS 5:1  Kom nou, julle rykes, ween en huil oor die ellendes wat oor julle kom.

JAKOBUS 5:2  Julle rykdom is bedorwe, en julle klere is deur die motte verniel.

LUKAS 1:51-53

51 Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi.

52  Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog.

53  Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur.

1TIM 6:9  Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang.

1TIM 6:10  Want die geldgierigheid is n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.

Iemand kan dalk sê dat ek dit darem so effe oordryf en selfs byvoeg, dat ek die Woord uit verband kwoteer.

Wel, dan onderstreep ek maar net alles wat ek jou nou voorgehou het met Jesus se woorde wat Hy by geleentheid gesê het:

MAT 19:24  “En verder sê Ek vir julle, dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.”

Om ryk te wees is dus nie ‘n oortreding nie – maar wel ‘n gevaar om weg te dwaal van Jesus af.  Om neer te kyk op ‘n ander persoon wat nie rykdom besit nie, vol hoogmoed en self-verering, is ‘n belediging teenoor sy Skepper:

SPREUKE 14:31 Wie die arme verdruk, beledig sy Skepper; maar wie Hom eer, ontferm hom oor die behoeftige.”

1 KOR 4:7 “Want wie sien jou as beter as ’n ander? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?”

JAKOBUS 4:6 God staan die hoogmoediges teen, maar aan die nederiges gee Hy genade.”

JAKOBUS 2:5–6 Het God nie juis die armes van hierdie wêreld gekies om ryk te wees in geloof nie?Maar julle het die arm man verneder.”

PSM 49:17-21

17 Wees nie bevrees as ‘n man ryk word, as die rykdom van sy huis groot word nie;

18 want by sy dood sal hy van alles niks saamneem nie; sy heerlikheid sal nie neerdaal agter hom aan nie.

19 Al ag hy homself gelukkig in sy lewe – en prys hulle jou, omdat jy aan jouself goed doen –

20 tog gaan sy siel na die geslag van sy vaders; tot in ewigheid sal hulle die lig nie sien nie.

21 Die mens wat in aansien is en geen verstand het nie, is soos die diere wat vergaan.

Ons het ‘n ander heerlike rykdom en ek laat jou dan nou met die volgende:

EFE 3:16-19

16  dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens,

17  sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is,

18  en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is,

19  en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.

Groete,

Sakkie