GOD ALMAGTIG HET JOU NODIG
Sakkie Parsons
Iemand skryf aan my, en sê, dat sy voel so “useless.”
Sy voel, dat sy geen doel meer in hierdie lewe het nie.
Miskien weet jy van iemand wat ook so voel met wie jy dalk hierdie ‘gedagte uit die Woord’ sou wou deel.
Wat ek nou vir jou gaan sê, moet jy tog asseblief baie, baie ernstig opneem, want, om dit so te stel, dit is die reine werklike waarheid.
Jy kan van een ding baie seker wees, soos wat jy weet jy lewe terwyl jy hier lees.
In God se oë is jy nie “useless” nie.
Hy het jou geskep en kan jy nou vir een oomblik jou indink, dat God Almagtig ooit sal besluit:
“Ek wil nou sommer iets “useless” skep.”
Nie net het Hy jou met ‘n baie, baie spesifieke rede en of doel geskep nie – maar net die feit, dat jy hier kan lees wat ek skryf, is die bewys vir jou, dat HY jou wil gebruik – en nie net gebruik nie maar dat HY, God almagtig jou nog steeds nodig het om iets in hierdie lewe vir Hom te doen en al kan jy niks doen as om net te lewe nie, lewe dit dan net so, dat die mense Jesus in en deur jou kan sien.
In die verband wil ek jou iets in die Woord wys.
Ons lees:
2TIM 4:2-5
2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;
3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.
5 Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.
Ek wil jou nou ‘n paar dinge hier in die Woord wys soos ek dit verstaan en na die beste van my vermoë in my lewe probeer uitleef.
Kom ons wees nou konsekwent en eerlik.
Jy gaan nie veel regkry as jy vandag teenoor die meeste mense om jou – en dit sluit baie van jou geliefdes in, as jy teenoor hulle: 2TIM 4:2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; as jy dit letterlik sou doen soos jy dit daar lees nie.
Om die waarheid te sê, ek kan nie ver verkeerd wees en besluit maar in jou hart of ek nou nie die waarheid praat nie –
In baie gevalle, as jy so die Evangelie teenoor hulle verkondig elke keer as jy hulle sien, gaan die hel, nie die hemel nie, om jou kop losbars.
En die rede is gewoon, omdat ons nou reeds in die tyd leef waarvan die Woord net in die selfde gedeelte vir ons die volgende sê:
2TIM 4:3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
2TIM 4:4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.
So, nou is die vraag:
Wat bedoel die Woord as ons lees: “Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;” in 2Timotheus 4:2?
Wel, ek dink Franciskus van Assisi het dit baie mooi opgesom toe hy reeds honderde jare terug gesê het en ek deel dit nou met jou in my eie woorde, want ek kan nou nie op die oomblik sy presiese woorde onthou nie:
“Verkondig die evangelie van Jesus Christus teenoor almal wat jy teëkom, by elke moontlike geleentheid en dan as dit nodig is, gebruik woorde ook.”
Met ander woorde –
Laat die mense oral waar jy gaan, eerstens en altyd Jesus in en deur jou en jou lewe sien.
Anders gestel –
Jy is mos ‘n kind van God.
So, laat die mense oral waar jy gaan die familietrekke van Jesus in en deur jou sien.
Ek kwoteer dan nou weer vir jou die laaste gedeelte van ons Skrifgedeelte in hierdie ‘gedagte uit die Woord’ wat op jou van toepassing is.
Dan sluit ek af deur weer die eerste gedeelte van ons Skrifgedeelte in hierdie ‘gedagte uit die Woord’ met jou te deel en as jy dit lees, onthou dan, dat jy nie vir ons Here “useless” is nie en soos ek ook hou van om vir mense te sê, sê ek dan nou ook weer vir jou:
Leef jou lewe as kind van God. Met ander woorde preek jou preek deur jou lewe, van Jesus se liefdevolle reddende genade oral waar jy gaan.
2TIM 4:5 Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.
So, gaan dink ‘n bietjie oor wat ek nou met jou gedeel het en onthou dan, dat jy baie “useful” vir ons Here is, daarom het Hy jou geskep en daarom is jy nog op hierdie aarde.
Kom nou weer in jou gees mooi regop en trek jou skouers terug en :
2TIM 4:2 verkondig die woord; (deur jou lewe) hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; (en dan, as dit dalk nodig is, gebruik woorde ook)
Groete,
Sakkie