Ek deel graag met jou dit wat in my hart opgekom het, nadat ek op 10 Januarie 2026 die “Om die dorp” 21.1 kilometer wedloop saam met my gids Dennis Frost gedoen het.
Eerstens wil ek noem, dat dit ‘n baie goed georganiseerde wedloop gewees het en ek het die wedloop geweldig geniet saam met Dennis, wat my vir die eerste keer oor 21.1 kilometer gelei het.
Dit was ‘n wonderlike oggend maar na 2 uur op die pad het ons die son begin voel.
Ons het ongelukkig twee keer die verkeerde rigting ingeslaan, wat beteken het dat ons baie tyd verloor het en dan moes omdraai en teruggaan na waar ons moes gedraai het – en natuurlik so nog meer tyd verloor het en soos ek genoem het, het dit twee keer met ons gebeur.
Wat natuurlik vir my wonderlik was, was die goed georganiseerde waterpunte, waar die mense baie vriendelik en hulpvaardig was, en in my geval elke keer op my vra, terwyl ek my hand uithou so deur die waterpunt, vir twee watter sakkies – ek sommer vinnig baie vriendelik gehelp is en soos jy op die foto’s op my webtuiste kan sien, het dit gehelp dat ek die wedloop kon voltooi. Hierdie mense was so vriendelik en so behulpsaam. Want jy sien, die meeste van hulle was ook langafstand atlete, lede van die klub wat die wedloop aangebied het – en hulle weet wat dit is om ‘n langafstand wedloop te stap of hardloop – en hulle weet uit ondervinding, wat jou behoefte is as jy as atleet by daardie waterpunt kom – en daarom help hulle en tree hulle op soos wat hulle ons gehelp en teenoor ons opgetree het.
Laat jy en ek ook by waterpunte in hierdie lewe aanmeld vir diens, want ons weet mos wat mense se behoeftes in hierdie lewe is – en kom ons begin as volg optree teenoor ons mede- atlete in die wedloop oppad na die ewige lewe:
FIL 2:4–5
4 Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange.
5 Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees:..
Toe ek na die tyd terugdink aan die wedloop en watter heerlike ondervinding, eintlik heerlike avontuur dit weer vir my gewees het, het die volgende in my hart opgekom, wat ek nou ook met jou deel.
Weet jy, ek kan nog so goed onthou toe ek tot bekering daar in 1973 gekom het.
Dit was so wonderlik met al die ander gelowiges hier om jou en jy is die ene vuur en vlam vir Jesus en Sy evangelie. En jy geniet so hierdie wedloop waar jy nou in is – maar hierdie lewenswedloop na ons eindbestemming toe, tap maar jou geestelike energie deur gebeure en soms ook mense en veral satan – want satan wil nie hê jy moet jou eindbestemming bereik nie. Daarom gaan hy alles in sy sataniese boosheid probeer om te sorg dat jy nie jou eindbestemming in die hiernamaals in die hemel bereik nie.
Terug by my 21 kilometer wedloop.
So met die tyd het die ander hardlopers om ons minder en stiller geword, want die een kilometer na die ander begin sy tol eis en na twee ure op die pad het jy die son ook al lekker voel bak op jou en konsentrasie is ook nie meer heeltemal wat dit moet wees nie – en daar neem ons ‘n verkeerde draai – maar die pad is nou lekker oop, daar is nie meer mense om my wat my ‘n bietjie gespanne hou dat ek hoef te konsentreer dat ek nie teen iemand vas loop nie en dit is lekker.
Dit is egter lekker, want dit is die verkeerde pad en toe ons dit agterkom, toe is dit nie meer so lekker nie, want die tyd stap aan en jy het nou baie tyd gemors in ‘n verkeerde rigting en nou moet jy nog tyd gebruik om terug te kom op die regte pad.
Toe by ‘n ander geleentheid neem ons wéér die verkeerde pad – maar dit is ‘n lekker afdraande en dit is net te lekker, want jou liggaam kry ‘n bietjie geleentheid om weer amper reg te kom. Toe kom ons agter ons is weer op die verkeerde pad en weer het ons tyd gemors en weer moes ons tyd gebruik om op die regte pad te kom – maar hierdie keer is dit nie net omdraai nie maar omdraai en opdraande tot daar waar ons weer op die regte pad kon kom.
Net so is dit met ons wedloop deur hierdie lewe, want – leer die Woord ons – ons is verseker in ‘n wedloop in hierdie lewe en ons stryd is nie teen tyd nie maar teen satan:
HEB 12:1-3
1 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,
2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
3 Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.
Hoe wonderlik om te weet, dat in die wedloop van die lewe is daar een reël wat jy nie in die padreëls kry, dat jy dit mag doen nie – inteendeel, Jesus se Heilige Gees moedig ons aan om van daardie padreël in ons lewensweg gebruik te maak en dit is ‘n “U-draai.
Ons moes in ons 21 kilometer twee keer ‘n U-draai maak om op die regte pad te kom en as ons in ‘n motor was en ‘n verkeerskonstabel het ons dan gesien, was ons in die moeilikheid – maar die Woord is vol daarvan, waar ons aangemoedig word om ‘n “U-draai te maak.
So, as jy dalk vandag hier lees en jy is op die verkeerde pad –
Maak ‘n U-draai terug na Jesus en soos in my geval, is dit nie altyd lekker om te dink wat nou vir jou wag nie, maar soos in my geval in my 21 kilometer wedloop, dit is uiteindelik die enigste wyse wat jy by die regte eindbestemming gaan uitkom.
Ek laat jou dan wat hierdie skrywe aanbetref met die volgende uit ons Here se kosbare Woord.
MAT 7:13 Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.
MAT 7:14 Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.
Maak daardie U-draai terwyl jy onthou:
NAH 1:7 Die HERE is goed, ‘n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil.
Hoe wonderlik!
Dan kan jy ook dit eendag uitroep, soos wat my groot held Paulus dit kon uitroep toe hy al die wenstreep daar voor hom sien:
2TIM 4:7 Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.
2TIM 4:8 Verder is vir my weggelê (jou medalje) die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan (jou wie daardie U-draai gemaak het en)almal wat sy verskyning liefgehad het.
Groete,
Sakkie