BYBELSE RYKDOM IS NIE WÊRELDSE RYKDOM NIE

BYBELSE RYKDOM IS NIE WÊRELDSE RYKDOM NIE

Jesus Christus en Sy vrede is wáre rykdom

Sakkie Parsons

Iemand het my mening gevra oor “Prosperity Preaching”. (En ek gebruik die bekende Engelse term dan vir ‘Rykdom prediking’.) 

‘n Paar redes hoekom ek nie met die meeste van die “prosperity preachers” se stellings kan saamgaan nie is as volg:

Hulle laat dit partykeer klink, dat as dit finansieel nie met jou goed gaan nie, dit is omdat jy God nie behaag nie, of dan ten minste iets doen wat God ontevrede met jou maak.

Vir diegene wat “prosperity” altyd aan geld wil verbind, net die volgende, want soos ek altyd sê:

“Ek het net die Bybel as my hoogste gesag.”

Mat 8:19  ‘n Skrifkenner kom toe na Hom toe en sê vir Hom:  “Leermeester, ek sal U volg, maak nie saak waarheen U gaan nie!”

Mat 8:20  Maar Jesus het vir hom gesê:  “Die jakkalse het gate en die voëls het neste, maar Ek, die Seun van die Mens, het geen tuiste waar Ek my kop rustig kan neerlê nie.”

JESUS,  die Koning van die konings, het nie eens ‘n behoorlike slaapplek gehad nie.

Wat Jesus ook vir hierdie man sê, is na my mening die volgende:  Dat as hy vir Jesus gaan volg, vir hom in elk geval dit – veral wat tydelike behoeftes aanbetref – nou nie juis maanskyn en rose gaan wees nie.

Jy sien Jesus leer ons:

JHN 16:33  “Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind.  In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed:  Ek het die wêreld oorwin.”

Jy sien, as jy Jesus se vrede het, dan pla jou gebrek jou nie, want jy het Sy vrede.

Kyk nou vir ‘n oomblik in die wêreld in om jou.

Dit kan finansieel goed met jou gaan en jy kan eensaam wees. 

Jy kan verslaaf wees.  Jy kan wil selfmoord pleeg en so kan ek aangaan.

Jesus sê egter, dat as jy Sy vrede het, kan jy maar verdrukking en als wat die wêreld jou kant toe kan gooi beleef, maar as jy Sy vrede het, is jy rustig, want Hy het die wêreld oorwin.

Ek lewe ‘n heerlike “prosperity” lewe, want my “prosperity” lê in Jesus se vrede.

Jesus sê van Johannes die doper die volgende:

Luk 7:28  “Ek sê vir julle, van almal wat ooit geleef het, is niemand groter as Johannes nie.  Tog is selfs die geringste persoon in die koninkryk van God groter as hy!”

Luk 7:29  Toe hulle dit hoor, het al die mense, ook die onregverdige tollenaars, saamgestem dat God se plan reg was, want hulle is deur Johannes gedoop.

Kyk wat gebeur toe met Johannes:

Mat 14:6-11  Met Herodus se verjaarsdagviering het Herodias se dogter voor die gaste gedans.  Herodes was so in sy skik daarmee 7dat vir haar gesweer het:  “Sowaar, vra van my net wat jy wil.”  8Aangepor deur haar ma vra sy toe:  “Bring vir my op ‘n skinkbord die kop van Johannes die Doper!”  9Die koning was bitter ontsteld hieroor, maar omdat hy ‘n eed afgelê het en nie voor die gaste sleg wou lyk nie, het hy opdrag gegee dat haar wens uitgevoer moes word.  10Hy stuur toe soldate en laat Johannes in die tronk onthoof.  11Sy kop is op ‘n skinkbord ingebring en aan die meisie gegee wat dit weer na haar ma toe gevat het.

Dit klink nie vir my of Johannes veel wêreld se “prosperity” gehad het nie.

Ek kan aangaan en die lys nog langer maak  maar al wat ek wil sê, is dat ons

nie “prosperity” altyd aan finansies en besittings moet koppel nie.

Inteendeel – ek verstaan die Bybelse “prosperity” heeltemal anders.

Jesus sê:

Mat 5:3-12

3 “Gelukkig is dié mense wat weet hoe nodig hulle God het, want hulle het deel aan Sy koninkryk.

4  Gelukkig is die treurendes, want God sal self hulle trane afvee.

5  Gelukkig is dié wat sag van hart is, want die nuwe aarde sal hulle erfporsie wees.

6  Gelukkig is dié wat honger en dors na wat voor God reg is, want Hy sal hulle hartsverlange bevredig.

7  Gelukkig is dié wat met deernis uitreik na mense in nood, want God sal aan húlle deernis bewys.

8  Gelukkig is dié wie se harte volkome op God gerig is, want hulle sal vir God sien.

9  Gelukkig is die vredemakers, want God sal vir hulle sê:  ‘Julle is Mý kinders.’

10  Gelukkig is dié wat vervolg word ter wille van wat voor God reg is, want hulle het deel aan Sy koninkryk.

11  Gelukkig is julle wanneer julle bespot en vervolg word en allerhande leuens oor julle versprei word omdat julle my dissipels is.

12  Wees bly, ja, jubel daaroor, want God sal julle ryklik daarvoor beloon.  Onthou, so het hulle die profete voor julle ook vervolg.”

Dit is die tipe “prosperity” wat my loon groot maak in die Hemel.

Verder sê Jesus:

JHN 14:26  ..en wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

JHN 14:27  Ek laat vir julle vrede na;  my vrede deel Ek met julle.  Ek gee nie soos die wêreld gee nie.  Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie.

Jesus sê – Hy gee ons Sý vrede – nie die vrede soos die wêreld gee nie.

Hy gee my Sý vrede, nie die wêreldse se groot bankrekening-vrede nie.

Jy sien, dit lyk vir my – en eintlik is dit maar al wat ek wil tuisbring –

Baie predikers koppel finansies en besittings aan hoe goed jou verhouding

met God is.

As God jou nie met dit seën nie dan is daar fout met jou – en dit is net dood

eenvoudig nié so nie.

Jakobus stel dit so:

JAK 1:2-4

2  My liewe broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees.

3  Julle weet mos:  Wanneer ‘n mens se geloof ‘n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard.

4  Julle moet egter enduit volhard.  Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees.  Julle sal niks kortkom nie.

Dit lyk vir my dat Jakobus vir my sê, om te “prosper” in die “prosperity” van die geestelike en nie in die “prosperity” van die wêreld en van Mammon nie.

Ek sê ook nie jy moet nou ‘n behoeftige wees nie.

Ek sê: Moet nie byvoorbeeld geld, besittings en status as maatband gebruik vir hoe goed jou verhouding met ons Here is nie.

Ek wil afsluit met die getuienis van my groot held Paulus.

Onthou nou as jy sy getuienis lees –

God het hom ‘n baie groot gedeelte van die Nuwe Testament laat skryf.  So jy kan net dink wat ons Here van hom gedink het.

Iemand het van Paulus gesê, dat geen ander mens op aarde soveel gedoen

het om die Evangelie te versprei nie.

Paulus sê:

2KOR 11:24-28  Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van 39 houe gekry;  25drie maal is ek met stokke geslaan, en een keer (was hy gestenig en vir dood gelos) is ek met klippe gegooi.  Drie maal het ek skipbreuk gely en een van daardie kere het ek ‘n dag en ‘n nag op die oop see oorleef.  26Ek was dikwels op reis;  in gevare van riviere;  van rowers;  van my volksgenote;  van heidene;  gevare in die stad en in verlate gebiede;  gevare op see en gevare onder vals mede-gelowiges.  27Ek weet van harde werk en swaarkry, van baie nagte se wakkerbly, van honger en dors, van dikwels sonder kos te moet klaarkom, van koue en sonder klere wees.  28Behalwe al dié dinge, was daar nog elke dag die bekommernis oor al die gemeentes.  

Dit klink nie vir my na die tipe “prosperity” wat so maklik van party kansels af verkondig word nie.

Tog was hierdie man so vol van God se “prosperity” dat God se Woord van

hom as volg getuig:

HAN 19:11  God het deur Paulus se optrede wonderbaarlike dinge gedoen

HAN 19:12  sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy vel geraak het, op siekes gesit is, hulle siektes verdwyn het.  Selfs bose geeste het uit mense uitgegaan.

Dit is nou volgens my “prosperity!”  Dit is nou volgens my die regte soort

“prosperity!”

Paulus getuig van die regte soort  “prosperity” aan die einde van sy lewe met feitlik geen aardse besittings nie – en terloops toe hy hierdie woorde getuig het, het hy in die tronk gesit – maar luister tog na Jesus se vrede, of dan God se “prosperity” in sy woorde.

2TIM 4:7  Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly.

So, dit is nie te sê dat God ontevrede is met jou, en daarom gaan dit nie finansieel goed met jou nie.

Ek moet ook nie dink omdat dit materialisties met my goed gaan, dat dit die

bewys is dat God tevrede met my is nie.

Lees gerus 1 TIM  Hoofstuk 6 in die Nuwe Lewende Vertaling, oor wat ons Here van hierdie valse “prosperity predikers sê:

In kontras met die vals leerstellings bring die ware godsdiens groot

geestelike rykdom.

1TIM 6:5 Hierdie mense veroorsaak altyd moeilikheid.  Hulle gedagtes is korrup, en hulle praat nie die waarheid nie.  Vir hulle is godsdiens net ‘n manier om ryk te word.

1TIM 6:6 Tog is ware godsdiens saam met tevredenheid ‘n groot   

       rykdom.            

Groete

Sakkie