STRY DIE GOEIE STRYD VAN DIE GELOOF
Sakkie Parsons
Iemand het aan my geskryf oor ‘n persoon vir wie sy lief is en wat swaarkry vanweë ‘n siekte toestand en my gevra, hoe moet ‘n mens ‘n situasie hanteer, wat lyk of ons Here nie antwoord nie.
Die persoon skryf dan aan my onder andere as volg:
“Sy is baie moedeloos en sê dat die Here nie na haar luister nie. Sy sê ons sing van ” He can move mountains”, maar hoekom wil Hy haar nie gesond maak nie.”
Dit is dan hoe ek kyk na hierdie soort probleem, van om siek te wees, soms tot die dood toe, of ‘n liggaamlike gestremdheid van die een of die ander aard te hê en ons Here op die oog af nie antwoord op my hulpgeroep nie.
Ek glo ook dat ek met ‘n sekere mate van gesag oor hierdie onderwerp kan praat.
Want, ek was met ‘n oogprobleem gebore, wat al hoe meer verswak het, tot waar ek vandag heeltemal blind is.
Dan, het hulle in 1997 melanoom kanker by my ontdek en die dokter het toe vir ons gesê, dat as hulle dit nie kan keer nie, ek drie tot ses maande het om te lewe.
Ek was toe vir 14 maande behandel en daar was nog nooit weer by my kanker gekry nie.
Persoonlik het en sal ek, so glo ek, nooit ons Here se hantering van my lewe bevraagteken nie. Omdat ek hierdie heerlike wete het:
Rom 8:28 En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.
Ook redeneer ek soos my groot held Paulus –
Rom 9:20 O mensekind, sit jou hand op jou mond! Wie is jy om God te kritiseer! Kan die produk van iemand se handewerk vir sy vervaardiger sê: “Hoekom het jy my juis só gemaak?”
Nou goed –
Ek reken dat die berge wat ons van sing, natuurlik nie letterlik berge is nie. Dit, na my mening is die probleme wat soos berge soms voor ons lê.
Soms bid ek en ons Here verwyder die berge voor my.
Soms bid ek en ons Here dra my op vlerke oor die berge voor my.
Soms sê ons Here vir my:
“Daar is die berg Sakkie. Klim hom uit.”
Soms sê ons Here vir mense, soos wat dit Hom behaag het om vir my te sê:
“Hierdie berg my kind gaan hier bly en ek wil dat jy in sy skaduwee vir my ‘n lewende getuie moet wees.”
Nou, omdat ek Sy kind is, en so ‘n groot wolk van getuies om my het –
Heb 12:1 Met so ‘n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ‘n houvas op ‘n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê,
Heb 12:2 ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!
Ja, terwyl ek so ‘n groot wolk van getuies het, (gaan lees asseblief Hebreërs 11), sal ek as dit moet ook al die pad Hemel toe in die skaduwee van hierdie hoë berg wat oor my troon, soos my groot held Paulus hemel toe loop.
Onthou jy wat hy omtrent homself geskryf het?
2KOR 12:7-9
7 ..Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n boodskapper van satan om my te kasty.
8 Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat.
9 Hy het egter vir my gesê: “My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.” Daarom dal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk.
Sy hele lewe wat hy ons Here gedien het, het hy in gehoorsaamheid in die skaduwee van daardie berg geloop en in daardie berg se donker skaduwee, as dissipel van Jesus sy lig laat skyn, soos Jesus gesê het dat ons moet doen.
Mat 5:16 “Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ‘n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien, en julle hemelse Vader daarvoor prys!”
Hy het ook nie opgehou nie, selfs nie toe hy as ‘n bejaarde man in die tronk gesit en wag het, dat hulle hom kom haal, om hom tereg te stel nie.
Nee selfs toe skyn sy lig nog steeds vir ons Here deur dit wat hy destyds geskryf het. En selfs nou skyn dit nog op jou rekenaarskerm, as jy lees:
2TIM 4:6 Wat my betref, word my lewe alreeds uitgegiet as ‘n offer aan God. Die tyd van my dood is op hande.
2TIM 4:7 Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly.
Ek weet nie waarom ek deur hierdie lewe al die tyd in die skaduwee van hierdie hoë
berg moet reis na my Jesus toe nie. Net soos Paulus ook nie presies geweet het
waarom baie dinge gebeur het nie.
1KOR 13:12 Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ‘n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder duidelik wees. Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan.
Ek weet egter, soos Paulus ook geweet en getuig het, terwyl hy op die laksman
gewag het – en daarom kan ek vir jou sê, dat dit nie saak maak hoe hoog die berg is
in wie se skaduwee jy dalk deur hierdie lewe moet reis nie. Uiteindelik is wat tel, dat
ons weet:
2TIM 4:8 En nou wag die prys vir my: die lourierkrans van geregtigheid wat die Here, die regverdige Beoordelaar, my sal gee op die groot dag van sy wederkoms. En dié prys is nie net vir my nie, maar vir almal wat gretig uitsien na sy heerlike verskyning.
So, ek wil jou aanmoedig –
Wat jou omstandighede ook al is –
JAK 1:2-4
2 My liewe broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees.
3 Julle weet mos: Wanneer ‘n mens se geloof ‘n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard.
4 Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks kortkom nie.
So, my vriend /vriendin.
1TIM 6:12 Stry die goeie stryd vir dit waarin ons glo. Hou stewig vas aan die ewige lewe wat God jou gegee het, en wat jy so opreg bely het voor baie getuies.
Om ‘n aansluitende vraag en antwoord oor hierdie onderwerp te lees, kan u met graagte die volgende Gedagte uit die Woord ook aanvra – die naam daarvan is:
“Daarom bid en beur ek in gehoorsaamheid voort.”
Groete,
Sakkie