WEES GETROU AAN JULLE HUWELIKSMAATS

WEES GETROU AAN JULLE HUWELIKSMAATS.

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my:

”1 Korinte 7 : 1 – 7 praat oor huwelike. Kan jy asseblief vir my se wat dit als behels?”

Voor ek begin om jou te vertel hoe ek hierdie gedeelte verstaan wil ek net met jou die volgende aangaande Korinte in daardie tyd deel:

In Korinte was die tempel van Venus.

Korinte se godsdiens was ook die aanbidding van Venus – die godin van liefde en deel van die godsdiens wat Venus aanbetref, was dat daar 1,000 tempel- prostitute gewees het en dit het nie net bygedra om seksuele losbandigheid te bevorder nie, maar omdat hierdie seksuele losbandigheid ook deel van daardie godsdiens was, het seksuele losbandigheid hoogty gevier in Korinte.

Sedeloosheid was aan die orde van die dag.

In hierdie verband net die volgende heerlike gedagte:

Dit wys ook aan jou en my, dat dit nie saak maak hoé sedeloos en boos die omgewing is waarin jy woon nie, maar met die hulp van die Heilige Gees van Jesus Christus, kan jy en ek nog steeds die Evangelie verkondig en suksesvol wees.

Terug by die onderwerp.

Ek gaan hierdie gedeelte vers vir vers verduidelik hoe ek die gedeelte met die lig tot my beskikking verstaan.

Ons lees:

Vers 1:

      1KOR 7:1  Ek kom nou by die vrae wat julle in julle brief gestel het. Ja, ’n selibaatlewe is goed.

In ‘n ouer vertaling lees hierdie gedeelte as volg:

      1KOR 7:1  Met betrekking tot die dinge waaroor julle aan my geskryf het—dit is goed vir ‘n man om ‘n vrou nie aan te raak nie.

      Met die drange en gedagtes wat in ‘n mens se hart kan opkom wat net vir die huwelik bedoel is ingedagte, is ek persoonlik heel gemaklik met die verstaan van:

      1KOR 7:1  Met betrekking tot die dinge waaroor julle aan my geskryf het—dit is goed vir ‘n man om ‘n vrou nie aan te raak nie.

      Met ander woorde as jy nog nie met jou beminde getroud is nie.  Om sommer platweg te praat – Moet nie vatterig raak nie.

Vers 2:

1KOR 7:2 Maar omdat daar soveel onsedelikheid is, behoort elke man sy

eie vrou te hê en elke vrou haar eie man.

      Paulus sê hier seks is bedoel om net binne die huwelik plaas te vind en eerder as om seksueel losbandig te lewe en of na die tempel van Venus te gaan, sal dit goed wees as jy met ‘n lewensmaat in die huwelik tree en dan seksueel nét met mekaar verkeer en ek benadruk, net met mekaar:

HEB 13:4  Respekteer die huwelik in alle omstandighede. Wees getrou aan julle huweliksmaats. God sal almal wat immoreel lewe en in die huwelik ontrou is, in die oordeel bring.

      Let op, dat midde-in daardie losbandige wyse van leefstyl om die gemeente in Korinte, Paulus die gemeente net een uitweg gee as dit by seks kom.

      Seks tussen ‘n man en vrou binne die huwelik.

      Want jy sien.

      Soos ek en so lyk dit vir my, ook my groot held Paulus die Christelike seksuele leefwyse verstaan, is enige ander seksuele verbintenis onchristelik.

Vers 3 en 4:

      1KOR 7:3  Die eggenoot behoort nie sy vrou seksuele intimiteit te ontsê nie. Dit is haar reg as getroude vrou. Net so moet die vrou ook nie haar man hierdie intimiteit ontsê nie.

      1KOR 7:4  Met die huwelik het die vrou medeseggenskap oor haar liggaam oorgedra aan haar man. Net so het die man medeseggenskap oor sy liggaam aan sy vrou oorgedra.

Hierdie twee verse vul mekaar eintlik aan.

      As die een lewensmaat in haar of sy hart dalk in die ontsê rigting beweeg, sal dit goed wees om haar of homself net weer aan die volgende te herinner:

      Dit is Jesus self wat hier praat:

MAT 19:4  Hy antwoord hulle: “Het julle nie in die Skrif gelees dat die Skepper die mens van die begin af man en vrou gemaak het nie?

MAT 19:5  En die Skrif sê verder: ‘Daarom sal ’n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg. So sal hulle tot een liggaam verenig word.’

MAT 19:6  Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam.

Daarom dan ook kon Paulus vervolgens skryf:

      1KOR 7:4  Met die huwelik het die vrou medeseggenskap oor haar liggaam oorgedra aan haar man. Net so het die man medeseggenskap oor sy liggaam aan sy vrou oorgedra.

Want jy sien:

MAT 19:6  Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam.

Dit is uiteindelik hoe álles in ‘n goeie Christelike huwelik behoort te funksioneer.  Seks is net ‘n baie goeie voorbeeld om te gebruik, omdat dit albei partye in die huwelik so baie intiem raak.

Vers 5.

Hierdie vers spreek ook vir homself en onderskryf ook net weer  wat Paulus reeds geskryf het.  Buiten dat dit na my mening ook weer die eensgesindheid in alle opsigte, waarna in die huwelik moet nagestreef word, beklemtoon:

      1KOR 7:5  Julle moet mekaar dus nie seks ontsê nie, behalwe as julle ooreenkom op ’n beperkte tyd van onthouding sodat julle, julle meer volkome aan gebed kan toewy.

      Daarna moet julle weer saamkom om te verhinder dat Satan julle tot sonde verlei weens julle gebrek aan selfbeheersing.

Vers 6.

      1KOR 7:6  Ek gee vir julle my mening hieroor; ek bedoel dit nie as ’n absolute reël nie.

      Waaroor gee Paulus sy mening wat hy nie as ‘n absolute reël in die Christelike godsdiens beskou nie?

      Wel, na my mening is dit duidelik, dat dit die direkte voorafgaande gedeelte is naamlik:

      1KOR 7:5  Julle moet mekaar dus nie seks ontsê nie, behalwe as julle ooreenkom op ’n beperkte tyd van onthouding sodat julle, julle meer volkome aan gebed kan toewy.

      Daarna moet julle weer saamkom om te verhinder dat Satan julle tot sonde verlei weens julle gebrek aan selfbeheersing.

Dit is amper, as jy nie reg daarna kyk nie, as of Paulus hier teen homself sowel

as die Christelike siening van die huwelik praat.

Want hy praat van “behalwe.”

Eintlik is daar mos nie in die huwelik ‘n uitsondering nie.

Die man en die vrou is voor ons Here mos een.

Hyself het net ‘n rukkie vroeër geskryf:

      1KOR 7:3  Die eggenoot behoort nie sy vrou seksuele intimiteit te ontsê nie. Dit is haar reg as getroude vrou. Net so moet die vrou ook nie haar man hierdie intimiteit ontsê nie.

      1KOR 7:4  Met die huwelik het die vrou medeseggenskap oor haar liggaam oorgedra aan haar man. Net so het die man medeseggenskap oor sy liggaam aan sy vrou oorgedra.

Sê Paulus dat ek nou sommer my vrou intimiteit mag wyer?

Nee natuurlik nie.

      Wat Paulus in 1KOR 7:6 sê is, dat as my vrou ‘n paar dae byvoorbeeld in vas en gebed oor ‘n saak wil gaan, behoort ek nie so onbedagsaam te wees om op intimiteit, soos selfs net liefkosing aan te dring, wat my vrou se geestelike ingesteldheid en aandag by ons Here kan ondermyn nie.

      Dit is met ander woorde nie sy wat haarself van my weerhou nie maar ek wat bedagsaam genoeg is om haar toe te laat om haar in ons Here af te sonder.

      Hier sien ons ook iets anders, as ek vir ‘n oomblik mag afdwaal.

      Ons sien hier ook die absolute eerlik opregtheid van Paulus se verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus.

      Hy gee nie voor soos so baie valse evangeliste vandag voorgee, dat alles wat hy verkondig, hy by ons Here sonder uitsondering direk gekry het nie en dit is natuurlik ook wat hom so geloofwaardig maak.

      Elke keer as hy iets verkondig wat hy nie direk van ons Here gekry het nie, stel hy baie duidelik, dat dit nie die geval is nie.

      In hierdie geval lees ons:

      1KOR 7:6  Ek gee vir julle my mening hieroor; ek bedoel dit nie as ’n absolute reël nie.

Ek deel met jou nog so ‘n geval:

      1KOR 7:25  Wat die ongetroude meisies betref, beskik ek nie oor ’n opdrag van die Here nie. Maar die Here het my begenadig om betroubare leiding te gee en daarom gee ek nou my mening aan julle deur.

      Terug by ons onderwerp.

      Vers 7.

      1KOR 7:7  Eintlik sou ek wens dat almal – soos ek – sonder die huwelik sou regkom.  Maar ons het verskillende gawes van God ontvang, die een hierdie, die ander een weer ander.

      Die eerste wat ek hier dadelik en báie duidelik wil stel is dat Paulus verseker nie hier die wens uitspreek dat alle Christene liewer nie getroud moet wees nie.

      As dít die geval sou wees, sou hy ‘n evangelie verkondig geheel en al in stryd met ons Here se siening van die mens en ‘n huwelik in die Evangelie van Jesus Christus.

      Ons Here het juis die man en vrou geskep om in ‘n huwelik een te kan word:

GEN 2:18 Daarna sê die Here God: “Dis nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n metgesel maak, een soos hy.”

GEN 2:24  Dit verklaar waarom ’n man van sy pa en ma weggaan, saam met sy vrou lewe en hulle dan soos een mens word.

Soos jyself vanaf 1KOR7 1 kan sien is Paulus beslis nie teen die huwelik nie en as jy EFE 5:22-23 gaan lees, sal jy dit nog duideliker sien.

Die wens wat Paulus hier in 1KOR 7:7 uitspreek is dat, en ek wil amper sê, juis in Korinte op daardie stadium, waar die morele standaarde so laag was,  die broers en susters meer selfbeheersing en kuisheid sou gehad het, soos wat hy Paulus het.

Ek sluit af met wat ek as ‘n oorkoepelende gedagte sien wanneer jy 1KOR 7:1-7 lees.

Jy is lief vir jou lewensmaat.

Behandel jou lewensmaat ook altyd met die grootste respek.

Onthou soos die Woord sê:

HEB 13:4  Respekteer die huwelik in alle omstandighede. Wees getrou aan julle huweliksmaats. God sal almal wat immoreel lewe en in die huwelik ontrou is, in die oordeel bring.

Groete,

Sakkie