GETUIENIS OOR DIE “THE BEAST” 15 KILOMETER WEDLOOP

Laat ek net begin om te noem, want dalk lees hier iemand wat nie weet nie –

Ek is blind, daarom het ek ‘n gids nodig as ek aan wedlope deelneem.

Deur die liefdevolle genade van ons Here kon ek saam met my gids, Marix Venter, op 28 Maart deelneem aan die “The Beast” wedloop in Overkruin Pretoria.

Wat ‘n ondervinding.

Die wedloop was so goed georganiseer en die beamptes was so behulpsaam en vriendelik en die waterpunte elke 3 kilometer, was absoluut uitstekend – maar glo my dit was werklik ‘n “beast” van ‘n wedloop.

Daar was tien-talle berge, nee – dit het maar net so gevoel – maar ek is seker hulle het al die moeilike bulte in daardie omgewing vir ons uitgesoek.

Ek wil nou met jou deel ‘n paar gedagtes wat by my opgekom het, in nabetragting, toe ek weer so terug dink aan die wedloop en ek onthou, dat hierdie lewe ook soms deur  “the beast” naamlik deur satan vir ons ‘n “beast” van ‘n stryd gemaak word.

Ons Here het in Sy kosbare Woord vir ons genoeg teen die “beast” satan gewaarsku en ons ook oorgenoeg kere vertel wat die antwoord teen die bose ‘beast’ in hierdie lewe is.

Ons lees dan ook, en ek kwoteer maar net twee voorbeelde uit ons Here se kosbare Woord van die baie wat ek kon gebruik het om te staaf wat ek bedoel.

Jesus het ons vooruit gewaarsku oor wat vir ons voorlê as ons Hom gaan volg tot in die hemel in die hiernamaals:

JHN 16:33  Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.

Onthou ook, die duidelike prentjie wat Jesus vir ons voorhou as ons Hom tot in die hemel in die hiernamaals wil volg

LUK 9:23  En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.

Met dit wat jy nou net gelees het in gedagte net die volgende:

In Jesus se tyd, as jy iemand gesien het met ‘n kruis oor sy skouer wat hy dra, het jy geweet dat daar vir daardie man ‘n moeilike tyd voorlê, wat gaan aanhou tot hy dood is.

In jou en my geval het ons egter hierdie heerlike wete, dat ons nie deur hierdie lewe gaan sonder Iemand wie ons help nie en hierdie Persoon weet presies wat dit is om ‘n kruis te dra. Hy immers het ‘n kruis tot op Golgota gedra en toe aan die kruis gaan hang, sodat jy en ek die wonderlike keuse kan hê, om te kan kies om ook ons kruis deur hierdie soms, “beast” van ‘n lewe te dra.  Nie tot op ‘n plek te dra waar ons gekruisig gaan word nie – maar uit hierdie lewe uit, tot in die ewige lewe saam met Hom in die hemel.

Dan wil ek net nog een gedagte deel wat ek in die “The Beast” wedloop ervaar het en wat ek jou wil aanmoedig om vir die mense om jou te wees:

Marix, my gids, het my te wonderlik oor die spoed-hobbels en om en deur die baie ongelyke dele in die pad gelei en by elke waterpunt het sy eers gesorg dat ek my sakkies met water in my hand het, voor sy geneem het wat sy wou hê – en oral waar sy my om en verby mense moes neem, het sy al die tyd vir my mooi verduidelik hoe ek links of regs of stadiger moes beweeg, totdat ons verby die mense is.

Sy het alles spontaan gedoen, omdat sy al baie jare ‘n padwedloop atleet is.

Toe het ek ook weer onthou wat Jesus gesê het – en Hy het dit gesê om aan ons te demonstreer, dat dit aste ware in ons gene as kinders van God op hierdie wedloop van die wêreld is. As ek werklik deur hierdie lewe beweeg met my oë stip gerig op Jesus, kom dit ook sommer spontaan – ons hoef nie eens daaroor te dink nie.  Net soos wat Marix gedoen het wat sy vir my spontaan gedoen het.  Sy het nie eers nodig gehad om daaroor te dink nie.  Sy het dit net gedoen.

Onthou jy?

MAT 25:34-40

35  Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.

35  Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee;

36  Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. (Dit is in jou wese as ware kind van God.  Dit is nie iets waaroor jy eers behoort te dink nie.  Daarom dan ook die vraag aan die Koning)

 37  Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee?

38  En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee?

39  En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom?

40  En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.

So dan my broer en suster in Jesus Christus –

Ons lees: en hier gaan ek die NLV gebruik, omdat ek dit daar in so ‘n mooi Afrikaans lees:

ROM 8:14-17

14  Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God – hulle is God se kinders.

15  Die Gees wat julle ontvang het, is nie ’n Gees wat weer van julle vreesbevange slawe maak nie. Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God: Abba – ons Vader. (want Hy is julle Vader en julle is mos Sy kinders)

16  Want die Gees self bevestig teenoor ons eie gees dat ons God se kinders is.

17  En as ons God se kinders is, maak Hy ons ook sy erfgename. Saam met Christus deel ons in God se rykdom. As ons bereid is om saam met Christus te ly, sal ons sekerlik ook deel in Sy heerlikheid.

Dan nog verder:

ROM 8:29  Want God het hulle reeds vooruit geken, en Hy het hulle aangewys om net soos sy Seun te word. (met dieselfde familietrekke) Op hierdie manier sal Christus Jesus die oudste seun wees, omring deur baie broers en susters. (wat jou en my, wie Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker insluit)

So my vriend/vriendin –

Ons sê dat ons kinders van God is.  Wel, laat die mense dan die familie ooreenkoms/trekke van Jesus in ons lewe sien as hulle met ons te doen kry.

Groete,
Sakkie