DIT GAAN ALLES BY SATAN OOR ONS GELOOF IN ONS HERE

DIT GAAN ALLES BY SATAN OOR ONS GELOOF IN ONS HERE

Sakkie Parsons

‘n Dame skryf aan my en ek ken haar deur die internet baie goed want sy ontvang al baie jare my gedagte uit die Woord en sy skryf ook gereeld aan my.

Sy vertel my van baie dinge in hulle lewe, wat om dit sag te stel, nou skielik net heeltemal verkeerd loop en ek lees so tussen die lyne, dat dit vir hulle gewoon net nie sin maak dat hulle, wie ons Here dien, met soveel probleme opgesaal word nie.

Ek deel met jou wat in my hart opgekom het  toe ek met deernis en ook hartseer lees wat hulle ervaar en hoe satan aan hulle geestelike lewe ruk en pluk om hulle van binne uitmekaar te probeer skeur. 

Wat al julle probleem aanbetref:

Onthou ek wat ons Here in Sy kosbare Woord vir ons sê en dan lyk dit vir my, of ons Here dink julle is baie sterk om die frustrasies van die lewe wat julle pad langs kom te kan hanteer en verdra.

So ek wys eers vir jou en jou geliefdes die volgende gedeeltes uit ons Here se kosbare Woord: 

1KOR 10:13  Onthou, die versoekings ( beproewings) wat oor julle pad kom, is nie

uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking (beproewing) te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking (beproewing) sal Hy vir ’n uitweg sorg sodat julle dit kan verduur. 

Ek kan nou nie sê hoekom ons Here in julle lewe toelaat wat Hy toelaat nie buiten, dat ek baie, baie seker weet daar is ‘n baie goeie rede waarom Hy dit toelaat.

Vir nou gaan ek net met jou as voorbeeld Job se geval deel, om vir jou te wys watter soort einde daar vir ons wag, as ons volhard in die geloof.  Ja, al moet ons volhard tot in die hiernamaals.

Want as satan ons aanval, gaan dit vir hom oor ons geloof.  Ons geloof in ons Here: 

JHN 5:4  want elkeen wat God as Vader het, oorwin die wêreld. Die oorwinning wat die wêreld verower het, is ons geloof. 

Miskien wil ons Here soos in Job se geval, net vir satan, wie ons aanklaer voor ons Here is, wys om dit so te stel,  van watter stoffasie julle gemaak is.

Onthou jy, wat Job aanbetref?

Ons lees: 

JOB 1:6-8

6 Eendag het die hemelwesens* voor die Here kom staan. Die aanklaer was tussen hulle. 7 “Waar was jy heeltyd?” vra die Here vir die aanklaer. Die aanklaer antwoord die Here: “Ek het heen en weer oor die aarde gereis en gekyk wat daar aangaan.”

8 Die Here vra toe vir die aanklaer: “Het jy vir Job opgemerk? Hy dien My. Daar is nie nog iemand soos hy nie. Hy lewe onberispelik. Hy is ’n mens met integriteit.

Hy aanbid My en vermy die kwaad.” 

Dit klink darem vir my vreeslik baie na spog met Job en as jy nou verder gaan lees, lees ons hoe satan vir ons Here sê, dat Job Hom net dien omdat ons Here vir Job so seën – maar as ons Here dit alles van Job wegneem, sal Job nie net sy rug op ons Here draai nie.  Nee, sê satan.  Job sal vir God in Sy gesig vloek.

Natuurlik het ons alwetende God vooruit geweet dat dit is wat satan gaan sê.

Onthou jy wat ons Here toe vir satan gesê het?

Kom ons lees dit net gou weer: 

JOB 1:12 “Goed, jy mag hom toets,” sê die Here vir die aanklaer. “Doen net wat jy wil met alles wat hy besit. Jy mag hom net nie fisies skade aandoen nie.” Die aanklaer is toe weg van die Here af.

Met ander woorde, so lyk dit vir my, as ek so tussen die lyne lees –

Nou toe gaan maak nou ‘n gek van jouself voor al jou engele.

Wat natuurlik toe ook gebeur het.

Want toe, nadat satan Job se lewe uit ‘n menslike oog gesien heeltemal totaal en al verwoes het, jy kan dit self gaan lees daar van af JOB 1:13-19, lees ons die volgende van Job se optrede in JOB 1:20-22: 

20 Job het toe opgestaan. Hy het sy klere stukkend geskeur. Hy het ook sy hare afgeskeer. Daarna het hy op die grond voor God geval.

21 Hy het gesê:

“Naak het ek uit my ma se skoot gekom, en naak sal ek weer wees die dag wanneer ek doodgaan. Die Here het my alles gegee wat ek gehad het, en nou het Hy dit alles weggeneem. Prys die Naam van die Here!”

22 In alles wat gebeur het, het Job nie gesondig nie en God nie verwyt nie. 

Dan om ‘n werklik baie kort opsomming van Job se verhaal af te sluit, kan jy die laaste hoofstuk van Job gaan lees, om te sien, hoe ons Here vir Job geseën het. As jy daardie hoofstuk lees, onthou dan ook, dat Job die oudste boek in die Bybel is en dat sy verhaal een van die oudstes in die mens se geskiedenis is en dat Job, voor satan hom aangeval het, op daardie tydstip in die vroeë jong geskiedenis van die mens, die rykste mens in die ooste gewees het. 

Jy kan dit daar van JOB 1 af self gaan lees.

Die satan se aanslag op Job, om Job se geloof in Ons Here te vernietig was uiteindelik so geweldig, dat hy, dit is satan, gesorg het, dat hy ‘n tweede keer gaan probeer om Job se geloof in ons Here te vernietig en hierdie keer wil hy Job self aanval en die eens rykste man in die Ooste beland op ‘n ashoop, waar hy sy swere met potskerwe krap en selfs sy vrou hom aanmoedig om God te vloek en te sterf.

Jy kan self dit gaan lees daar in JOB 2 vanaf vers 1 maar ek kwoteer vir jou hier net vanaf vers 7.

Ons lees:  JOB 2:7-10

7  Die aanklaer is toe weg van die Here af. Hy het Job met pynlike swere getref. Sy hele lyf was oortrek van die swere.

8  Job het op die ashoop gaan sit en met ’n gebreekte potskerf sy swere gekrap.

9  Sy vrou vra hom: “Hoekom hou jy aan om die Here te dien? Vloek God en sterf!”

10 Job het haar geantwoord: “Jy praat nou soos ’n mens wat God glad nie ken nie. Ek het die goeie geskenke uit God se hand aanvaar. Moet ek nie nou ook die slegte aanvaar nie?” Job het steeds niks verkeerds gedoen of gesê nie.

Dan as jy die laaste hoofstuk van die verhaal van Job gaan lees, sien jy, dat ons Here vir Job dubbel geseën het.  Want Job het geglo in ons Here en Job was toe  sommer dubbel die rykste man in die mens se jong vroeë geskiedenis.  Want en ek herhaal, Job se geloof was in ons Here.

Dit was Job se geheim.  Sy onwrikbare geloof in ons Here.

Onthou jy wat jy reeds ‘n bietjie vroeër in hierdie skrywe gelees het: 

1JHN 5:4  want elkeen wat God as Vader het, oorwin die wêreld. Die oorwinning wat die wêreld verower het, is ons geloof. 

Lees hierdie wonderlike vertroostende wete wat ons het, terwyl ons soms in magteloosheid na ons omstandighede kyk: 

OPB 321-22

21  Die een wat aanhou oorwin, hom sal Ek toelaat om saam met My op my troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

22  Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê. 

Ja, ons kyk maar ons kyk in die geloof na die aanslae van satan wat soms golf na golf oor ons spoel en ons weet omdat ons Here se Heilige Gees in ons woon: 

2KOR 4:6-9

6  God het gesê: “Laat daar lig skyn uit die duisternis.” So het Hy ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God wat uit die gesig van Jesus Christus straal.

7  Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte – (ons stoflike liggame) die alles oortreffende krag kom van God en nie van ons nie.

8  Op elke manier word ons

onder druk geplaas,

maar ons is nie verpletter nie;

ons is verward,

maar nie wanhopig nie;

9  ons word vervolg,

maar nie in die steek gelaat nie;

platgeslaan,

maar nie vernietig nie. 

Hoekom nie?  Want ons weet! 

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

ROM 8:29  Want God het hulle reeds vooruit geken, en Hy het hulle aangewys om net soos sy Seun te word. Op hierdie manier sal Christus Jesus die oudste seun wees, omring deur baie broers en susters. 

Soms gebruik ons Here juis hierdie aanvalle van satan, wat ons geloof probeer verwoes, om ons geloof nog meer in Hom te versterk en nader aan Hom te leef, in die besef watter lyding Jesus vir ons deurgemaak het.  Ons GOD is getrou:

1 KOR 1:9  “God is getrou deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.”

1 THES 5:23-24

23 “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus.”

24 “Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.”

So my broer en suster in die geloof –

Soos ons mos in Suid-Afrika in moeilike omstandighede sê en ons geloofshelde soos Job in gedagte hou:

“Vasbyt.”

Sodat ons ook dit sal kan uitjubel: 

2TIM 4:7-8

7 Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly. 

Lees hierdie wonderlike sekere wete wat jy en ek het, daardie kere wanneer satan ons aanklaer ons geestelik laat swik en hy ons dan aankla, soos wat hy verseker gretig doen en altyd sal doen –

Gryp dan in die gees  wanneer jy geswik het, vir Jesus met jou werklike berou vas.  Want hoe wonderlik: 

1JOH 2:1-2 … ons het ’n Helper (advokaat teenoor ons aanklaer)by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige.

2 Hy is die versoeningsoffer vir ons sondes. Nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele mensdom. 

‘n Ouer vertaling stel dit so: 

1JHN 2:1  My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak (‘n advokaat teenoor ons aanklaer) by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.

1JHN 2:2  En Hy is ‘n versoening (waarvoor daar geen teenargument van ons aanklaer voor ons Here is nie)vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld. (dit is almal wie JESUS aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker)

*As jy nog nié vir Jesus aangeneem het as Jou Verlosser en Saligmaker nie, kan jy dit net daar doen waar jy nou tot hier gelees het.

Sê net vir Jesus in jou eie opregte woorde wat uit jou hart kom, dat jy weet, dat jy sonder Hom verlore en oppad hel toe is – en dat jy nie meer verlore wil wees nie maar Hom wil volg.  Met ander woorde, dat jy volgens Sy beginsels wil lewe en ‘n liefdesverhouding met Hom wil hê.

Dan soek jy ‘n gemeente wie die hele Woord van ons Here as die onfeilbare word van ons Here aanvaar en skakel in by hulle.

Hoe wonderlik –

As jy dit gedoen het, het jy nou ‘n Advokaat, Jesus Christus – wie jou Voorspraak voor ons Here teen satan jou aanklaer is.

Jy kan ook gaan lees in ons Here se kosbare Woord van nog baie meer voorbeelde van gelowiges wat in die moeilikste omstandighede en aanslae wat soms jare geduur het, vasgestaan het in hul geloof in ons Here – en so nie toegelaat het dat satan hulle geloof kon steel of verwoes nie.  Soos onder andere:  Josef se wonderlike lewensverhaal, die dissipels en vroeë Christene se vervolging, asook Paulus se geweldige stryd en oorwinning en dan die grootste voorbeeld van almal – ons Here Jesus Christus, wat die grootste offer en lyding vir ons deurgemaak het, en dit wat gelyk het soos ‘n neerlaag aan die Kruis, die grootste Oorwinning ooit gewees het. 

Groete,

Sakkie