‘N PERSOONLIKE GETUIENIS OOR GEBED – RAKENDE MY VROU, CORNELIA, WAT IN 2019 NA JESUS VERHUIS HET

‘N PERSOONLIKE GETUIENIS OOR GEBED – RAKENDE MY VROU, CORNELIA WAT IN 2019 NA JESUS VERHUIS HET

Sakkie Parsons

Ek wil ‘n wonderlike getuienis met jou deel, wat etlike jare gelede plaasgevind het en omdat dit met my vrou gebeur het, bly dit maar vars in my gedagte.

My vrou, Cornelia, wie nou by Jesus is, het omtrent elke jaar Pleuritis gekry en daardie jaar was dit ook nie anders nie.

Vrydag die 23ste Mei 2008 gaan sien sy die dokter en hy skryf vir haar antibiotika, pyn en pille om inflammasie tee te werk voor.

Daardie Saterdagoggend word ek wakker en dit klink vir my of  my vrou baie rustig is.  Toe ek aan haar vat beweeg sy effens en ek vra haar of sy “all right” is maar sy beweeg net effens.  Toe ek nader ondersoek instel, kom ek met ‘n skok agter dat sy wakker is maar feitlik nie kan praat nie.  Verdere ondersoek en met baie moeilike woordvorming, kom ek ook agter dat sy baie moeilik beweeg.  Ek skakel toe my dokter en hy sê ons moet die pynpille stop, sy is seker allergies daarvoor.

Ek doen dit toe en gaan aan met die res van die behandeling, onder andere ook met die antibiotika.

Daardie Saterdagmiddag is alles nog dieselfde, buiten dat sy nou ook vomeer en geweldige kopseer het.

Omdat ek nie my dokter aan die hande kon kry nie, skakel ek my dogter Alta en vra haar raad.  Ek vra haar raad altyd as ek ‘n ander goeie opinie oor iets wil hê.

Sy skakel toe haar dokter en skakel my toe terug en sê, haar dokter sê ons moet dadelik die antibiotika staak, my vrou is allergies daarvoor.

Ons doen dit en van daardie Saterdagnag af verbeter sy maar by die Maandag is haar spraak nog nie reg nie, sy bly onvas op haar voete en haar kop pyn geweldig.

Die Maandagmiddag bel ek vir Alta en vra dat sy ‘n afspraak by haar dokter moet maak.

Dinsdag oggend die 27ste vroeg sien ons haar dokter en die laat haar dadelik opneem en begin met toetse.

Op hierdie stadium het ek gedink sy het ‘n beroerte aanval gehad.

Woensdag die 28ste doen hulle nog toetse en daardie Woensdagaand stuur ek ‘n e-pos aan al my vriendinne en vriende op my adreslys en vra hulle om saam met my te bid.

Donderdagmiddag die 29ste skakel ek die dokter om te hoor van die toetse en sy sê sy kry geen probleme nie maar sy hou my vrou nog een nag vir waarneming.

Daar is geen bloeding op die brein nie.  Daar is geen teken van beroerte of so iets nie.  Alles is normaal.

Van daardie Donderdagmiddag die 29ste Mei af, elke keer as ek my vrou skakel, klink haar stem beter.

Na besoektyd daardie Donderdagaand, skakel Alta my, want ek kon nie by die hospitaal kom nie en sê daar is niks verkeerd met my vrou se stem nie.

Ek skakel my vrou en daar is sy heeltemal normaal.

Dit, my vriend en vriendin, is wat gebed kan doen.

Ek het ‘n gesegde as iemand my vra hoe dit gaan:

“God is op die troon en die saak loop mooi.”

Terwyl ek daardie Sondag van 25 Mei 2008 sowel as die Maandag die 26ste en Dinsdag die 27ste, omtrent elke keer as ek my vrou gehoor praat het, of aan haar gedink het, aan die huil gegaan het, het ek in my gees en soms ook hardop uitgeroep:

“God is op die troon en die saak loop mooi.”

Want, ek het al die tyd onthou:

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens Sy doel vir hulle lewe.

Net as jy ‘n kind van God is, en jy het my vrou daardie Saterdag, Sondag, Maandag en Dinsdag gesien, kan jy ‘n dokter glo, as die vir jou sê daar is niks met jou vrou verkeerd nie.  Ja, jy kan die dokter glo want, jy weet mos, daar is ‘n liefdevolle Here en Hy het in liefde na baie gebede geluister.

As ek die eerste hoofstuk van Job onthou en hoe ons Here by satan gespog het met Job, dan dink ek Hy het destyds lekker met ons almal gespog wat daardie tyd deel gewees het van die groep vir wie ek toe pos gestuur het.

As jy toe deel van my e-pos geliefdes gewees het, wil ek net hê jy moet weet, ek raak sommer nostalgies oor julle, as ek lees wat ek hier skryf.

Ek sit voor my rekenaar en ek dink aan julle almal en in my gees roep ek uit:

“Wat ‘n pragtige klomp kinders van ons Here was hulle nie.”

As satan jou ooit weer wil wysmaak dat ons Here nie na jou gebed luister nie, dan onthou jy Donderdag 29 Mei 2008, toe jy saam met baie ander vir ‘n vrou gebid het, wat al die tekens van ‘n beroerte gehad het en by wie die dokter se toetse toe niks fout kon vind nie.

As jy wat nou hier lees nie destyds deel van die groep gewees het vir wie ek pos stuur nie, wil ek hê dat jy moet weet, dat ons Here het nie witbroodjies nie.  Jy, Sy kind is mede-erfgenaam saam met Christus.  Dieselfde Here wat in Mei 2008 genees het, genees nog vandag.

Ek sluit af met ‘n gedeelte wat destyds kort-kort in my gedagtes opgekom het en ek wil jou vra om dit in gedagte te hou as daar weer ‘n beproewing jou pad langs kom:

1PET 1:6  Hieroor kan julle baie bly wees, al moet die baie beproewings julle vir ‘n rukkie laat swaarkry.

1PET 1:7  Die doel met die beproewings is om die egtheid van julle geloof duidelik te laat word.  Julle geloof word getoets soos goud met vuur getoets en daardeur gesuiwer word, en onthou:  Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud.  As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer op die dag wanneer Jesus Christus aan die wêreld geopenbaar word.

Groete vanuit ‘n dankbare en nostalgiese hart,

Sakkie