VERGEWE JOUSELF

VERGEWE JOUSELF

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en met my gedeel van die ommekeer, of dan terugkeer na Jesus wat hy in sy lewe gemaak het.

Hy deel toe ook met my, hoe moeilik hy dit vind om homself te vergewe vir al die slegte dinge wat hy gedoen het en hoe hy bang is, dat ons Here die verkeerd wat hy gedoen het, nog steeds teen hom gaan hou.

Hier volg dan nou wat ek vir hom geskryf het en wat ek ook graag met jou wil deel.

Ek wil graag iets vir jou sê na aanleiding van wat jy vir my skryf.

Jy skryf:

“Ek voel nog steeds skuldig oor wat ek gedoen het, ek is nog steeds bang dat ek gaan weg gewys word alhoewel ek gereeld met God praat en vra om my te vergewe.”

Die wonderlike heerlikheid vir jou en my, ons Here se kinders is dit:

1JHN 1:9  As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede.

Hy wil net dat ons in alle opregtheid na Hom gaan en die saak met Hom uitmaak.  Anders gestel – in opregtheid ekskuus sê met die absolute voorneme om dit nie meer te doen nie, selfs al sal ons dit dalk weer doen.

JES 1:18  “Kom nou, laat ons die saak uitpraat,” sê die HERE.  “Maak nie saak hoe diep die vlek van julle sonde is nie, Ek kan dit verwyder.  Ek kan julle so skoon maak soos sneeu wat pas geval het. Selfs al is die vlek so rooi soos purper, Ek kan julle wit maak soos wol.”

Die satan gaan egter aanhoudend probeer om ons verlede teen ons koppe te slinger, om ons te probeer oortuig, dat ons nie regtig vergewe is nie.

Wat ek en jy dan moet doen, is om soos Jesus gedoen het, die Skrif teen hom te kwoteer en hom in die Naam van Jesus Christus van ons af weg te stuur.

‘n Voorbeeld wat Jesus aan ons gee hoe om dit te doen, kry ons in Mat 4:3-4

MAT 4:3  Toe kom die duiwel, die groot versoeker, na Hom toe en sê vir Hom:  “Kyk, as jy dan die Seun van God is, beveel hierdie klippe om brode te word.”

MAT 4:4  Maar Jesus het hom geantwoord:  “Nee!  Daar staan in die Skrif geskryf:

      ‘’n Mens het meer as brood nodig om van te lewe.

      Wat jy eintlik nodig het, is om te leef van elke woord uit God se mond.’

Die gedeelte uit die Woord wat Jesus hier as wapen teen satan gebruik, kry ons in Deu 8:3.

DEU 8:3  Ja, Hy het jou nederig gemaak deur jou te laat honger ly en jou toe manna laat eet, kos wat nie jy of jou voorouers vroeër geken het nie.  Hy het dit gedoen om jou te leer dat mense meer as brood nodig het om van te leef.  Ware lewe vir die mens kom van elke woord uit die mond van die HERE.

Jy sien, Die Woord is die Wapen wat ons Here ons gegee het om satan mee te troef.

EFE 6:17  En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees— dit is die woord van God—

Omdat die Woord ons wapen is waarmee ons satan mee kan troef, probeer satan hard en kry dit by baie mense ook reg, om te sorg dat hulle nie ‘n liefde ontwikkel om die Woord te lees en bestudeer nie.  Soveel so, dat baie Christene nie eens hierdie eienaardige fenomeen in hulle lewens raaksien nie.

Hulle sal gereeld geld uitgee om die koerante te koop en tyd maak om dit ook te lees en dan weg te gooi.

Hulle sal geld uitgee om duur tydskrifte te koop, wat hulle ook weggooi as hulle dit klaar gelees het.

Hulle sal duur betaal vir ‘n groot verskeidenheid boeke wat hulle van voor tot agter deur sal lees maar wat die Woord van ons Here aanbetref, is daar net nie ‘n werklike begeerte in hulle harte om te lees nie.

Die satan het aste ware hulle wapen uit hulle hande geklap, iets anders in hulle hande gesit en nou staan hy voor hulle en terwyl hy sy bose kitaar slaan, dwing hy sy magtelose prooi om voor hom na sy pype en op ritme van sy deuntjie te dans.

Wat ‘n absolute hartseer tragedie dat mense vir wie Jesus aan die kruis gaan hang het, hierdie genot aan satan verskaf!!!

Terloops, in EFE 6:13-17 word die volle wapenrusting van die Christen uitgestal vir almal wat wil gaan kyk wat jy alles in jou stryd teen satan nodig het.  Eintlik kan jy sommer lees vanaf EFE 6:12  Dan sien jy ook sommer teen wie jy die wapen uitrusting moet aantrek

Ten slotte nog net hierdie laaste gedagte:

Mense het al selfmoord gepleeg omdat hulle, hulleself nie kon vergewe oor wat in hulle verlede gebeur het nie.

As jy met wérklike berou ons Here vergifnis gevra het, het Hy jou vergewe.

Vergeef jy ook nou jouself oor wat jy in die verlede gedoen het.

Met ander woorde, begrawe die verlede.

Want as jy dit nie doen nie, bestaan daar ‘n wesentlike gevaar, dat jou verlede jou fisies of psigies sal begrawe.

Kan jy dink watter groot verlies dit sou gewees het as Paulus, wie, toe hy nog Saulus gewees het, ‘n medepligtige aan moord op christene gewees het,  homself bly verwyt het en geglo het dat hy niks vir ons HERE kon beteken nie.  Nee – ons HERE sê juis deur Paulus vir ons:

FIL 3:13 Nee, liewe broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker:  ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. 

FIL 3:14 Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee omdat Christus Jesus dit vir my verdien het.

Groete,

Sakkie