LEWE NA DIE DOOD – DEEL 1

LEWE NA DIE DOOD – DEEL 1

Sakkie Parsons

Na aanleiding wat ek geskryf het oor ”Jou laaste tree op aarde en jou eerste tree daarna” en ‘n hele paar ander gedagtes oor dieselfde onderwerp, skryf iemand toe weer aan my en ek plaas die vraag soos ek dit ontvang het:

Pastoor, nou sê asb vir my, wat word dan van die oordeelsdag, as al God se kinders dan reeds nou al by Jesus is?

Ek het gedink  dat almal wat sterf, gaan na n plek van rus?

So, kom ek begin dan daar waar ons almal voor die regterstoel van ons Here gaan verskyn en ek gaan ten minste twee voorbeelde uit die Woord gebruik vir elke stelling wat ek maak, om te staaf wat ek skryf.

Eerstens, gaan elke mens, of jy ‘n Christen is, of watter geloof jy ook al beoefen het, eendag voor die regterstoel van GOD staan en – Wie is die almagtige GOD van hemel en aarde, wie jy daar voor jou op Sy troon gaan sien?

ROM 14:10   “… Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word.

ROM 14:11  Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.”

Sien jy Wie is die Almagtige, die alleenwyse en die regverdige GOD, voor wie elke mens, wie al gebore was en wie nog gebore gaan word, op daardie groot oordeelsdag se troon gaan verskyn?

Onthou jy wat jy nou net gelees het?

ROM 14:10   “… Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word.

Net sodat daar absoluut geen twyfel kan bestaan van hoe ek jou nou laat verstaan het, Wié hierdie enige alleenwyse regverdige GOD is, voor wie elke mens gaan verskyn –  ja, ook hulle wie selfs Sy bestaan ontken en hand en tand beveg – (want jy gaan verder in hierdie reeks van twee, weer getuienis oor hierdie onbetwisbare waarheid lees), deel ek met jou voorlopig, nog een gedeelte uit ons Here se kosbare Woord:

2KOR 5:10  Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.

Nou, as dit alles eendag gaan gebeur – Waar is die siele wie van die begin van die skepping af geleef het en reeds oorlede is, nou? En waar gaan jy en ek heen as ons eendag sterwe?

*Wel, die antwoord is vir my baie duidelik –

Alle mense wat afsterf of afgesterf het, se siele is óf in die hemel, óf in die hel.

Laat ek met ‘n eenvoudige voorbeeld verduidelik:

As iemand vandag ‘n kriminele oortreding begaan – kom ons gebruik die ergste;

Sê nou iemand pleeg ‘n moord en hy word op heterdaad betrap waar hy die moord voor ‘n paar getuies pleeg en die getuies het die moord met hulle fone afgeneem.

Dan word hy gevange geneem en gaan sit in die tronk en wag om voor ‘n regter te verskyn.

Hy het nou nog nie voor ‘n regter verskyn nie en hy is ook nog nie skuldig bevind nie maar omdat hy op heterdaad betrap was, sit hy klaar in die tronk en ervaar reeds die tronk en wag hy nou in die tronk net om voor ‘n regter te verskyn om te hoor vir hoe lank hy nog in die toekoms in die tronk gaan bly maar en ek beklemtoon net weer, hy is nou al klaar daar en ervaar reeds wat dit beteken om in die tronk te wees.

Wel, presies is dit wat gebeur het en wat nou nog gebeur en wat gaan gebeur, totdat Christus gaan verskyn, met elke goddelose mens, wat al ooit geleef het en in sy goddeloosheid gesterf het en dit gaan so aanhou, totdat Christus kom.

Elke goddelose mens wat al ooit gesterf het, en hom/haar nié van hulle goddeloosheid bekeer het nie, sit nou in die hel – en soos die moordenaar in ons voorbeeld wat op heterdaad betrap was, ervaar hulle reeds wat hulle vir ewig gaan ervaar nadat hulle deur Christus tot ewige gevangenis in die hel veroordeel is.

Want onthou –

Elke mens wat ‘n goddelose lewe gelewe het en nou nog lewe, het dit direk voor GOD gedoen en doen dit op hierdie oomblik direk voor GOD.  Hulle was dus en is nou, tot nou toe in hulle lewe op heterdaad betrap en omdat hulle nie hulleself in hierdie lewe tot ons Here bekeer het nie en jy tree hierdie lewe uit, tree jy die helse gevangenis in.

Nou kan iemand vra en met reg ook:

Wat dan nou van die mense wie geleef en gesterf het voor Jesus se geboorte en die begin van die Nuwe Testament?

Wel eerstens het die mense voor Jesus die mosaïes wet gehad en het die goddelose mense direk voor ons Here goddeloos gelewe en geld vir hulle wat geld vir iemand wie op heterdaad in sy/haar goddeloosheid betrap is en nou in die hel wag om voor die regterstoel van GOD te verskyn om veroordeel te word.

Maar nie net het die mense van die ou Testamentiese tyd die mosaïes wet gehad nie, maar elke mens wat ooit gebore was en is en sal word, is na die beeld van GOD geskape en almal het ‘n Godsbesef in hom of haar:

ROM 2:12-16

12  Want almal wat sonder wet gesondig het, sal ook sonder wet verlore gaan; en almal wat onder die wet gesondig het, sal deur die wet geoordeel word;

13  omdat nie die hoorders van die wet by God regverdig is nie, maar die daders van die wet geregverdig sal word.

14  Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle geen wet nie;

15  omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig, (want elke mens word met ‘n Godsbesef gebore, omdat die mens na God se beeld geskape is)

16  in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel, volgens my evangelie.

Ek beklemtoon ook net weer – Die mens is na GOD se beeld geskape en een van daardie eienskappe wat die mens het omdat hy/sy na GOD se beeld geskape is, is ‘n Godsbesef om te weet om reg of verkeerd te lewe.

GEN 1:27  En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.

GEN 1:28  En God het hulle geseën, …

Dan hoef die mens ook net na die skepping van ons Here te kyk, om te weet wat reg of verkeerd is en wat goed of sleg is in ons lewe in die oë van ons Here.  Ons Here se skepping herinner ons gedurig daaraan as ons daarvoor kyk:

PSM 19:2-3

2  Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.

3  Die een dag stort vir die ander ‘n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan:

4  daar is geen spraak en daar is geen woorde nie—onhoorbaar is hulle stem.

PSM 97:6  Die hemele verkondig sy geregtigheid, en al die volke sien sy heerlikheid.

PSM 97:7  Beskaamd staan almal wat (en gaan almal staan wat met hulle Godsbesef) die beelde dien, wat hulle op afgode beroem; al die gode buig hulle voor Hom neer.

Ek deel nou met jou ‘n voorbeeld uit die Woord wat vir ons gegee word van hoe dit werk.

Jy ken mos die verhaal van die bose Sodom en Gomorra, daar taamlik vroeg in die mens se geskiedenis in die Woord.

Ons lees wel vroeër van Sodom en Gomorra, maar wat hierdie skrywe aan betref, kan jy daar van Genesis19:1 gaan lees, as jy jouself net weer wil vergewis van hulle geskiedenis en hoe boos hulle was en hoe ons Here toe met hulle gedeel het.

Dan lees ons weer  heelwat van hulle einde as voorbeeld vir ons in die Nuwe Testament en dit is ongeveer 2,000 jaar later – maar ek deel met jou net die volgende:

JUD 1:7  soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as ‘n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.

Sien jy wat sê die Woord hier vir ons van Sodom en Gomorra?

JUD 1:7  soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as ‘n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.

Ons lees nie, dat hulle die straf sál ondergaan nie.  Ons lees dat hulle die straf rééds ondergaan.

Nog ‘n Vertaling stel dit as volg:

JUD 1:7 ….As waarskuwing vir almal word hulle nou gestraf met die vuur wat ewig brand.

Hulle sit reeds in die helse tronk en wag om voor die Regter te verskyn, om hulle vonnis te ontvang.

Dan, soos ek ook al by meer as een geleentheid gehoor het dat mense sê en ander weer vra:

Is dit moontlik om iemand uit die hel uit te bid?

As iemand in die hemel nie eens iemand die geringste hulp kan gee wat in die hel is nie, watter kans dink jy het iemand hier op aarde om iemand in die hel van enige hulp te wees?

As jy nou gaan lees wat ek jou voorhou, onthou, dat dit Jesus is wat vir ons van hierdie voorbeeld vertel en soos ek altyd sê, sê ek nou maar weer – As Jesus jou wys, dat niemand nie eens iemand in die hemel iemand in die hel van hulp kan wees nie, kan jy maar weet niemand, ook nie wie op aarde is, kan iemand in die hel help nie.

LUK 16:23-26

23  En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.

24  En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.

25  Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte.

26  En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.

Soos ek genoem het, beklemtoon ek net weer.  Onthou nou ook Wie ons hierdie voorbeeld wys van hoe onmoontlik dit is om iemand in die hel te help – Dit is Jesus.

*As ek dan nou verstaan, dat as ek ‘n goddelose lewe leef en nié my van my goddeloosheid bekeer en Jesus Christus aanneem as my Verlosser en Saligmaker nie, gaan ek hierdie lewe die een of ander tyd, (wat ek nie weet wanneer dit gaan wees nie), uittree, die hel se gevangenis in, om daar die hel se smart te gaan ervaar, totdat ek voor die troon van Christus gaan verskyn, om my vonnis te hoor, dat dit wat ek tot nou toe ervaar het , tot in alle ewigheid gaan aanhou.

Nou wat dan van hulle wie hulleself in alle opregtheid tot Jesus Christus bekeer en Hom aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker?

Waar is hulle wie reeds uit hierdie lewe getree het en nog in die toekoms uit hierdie lewe die ewigheid in gaan tree?

Daaroor praat ek met jou in deel twee van hierdie kort reeks.

Vir nou sluit ek hierdie skrywe af met twee gedeeltes uit ons Here se kosbare Woord, waaroor jy, wie nou tot hier gelees het en nog nié vir Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie, báie, báie ernstig oor kan, nee nie ‘kan’ nie maar dringendoor moet gaan besin.

Het jy al vir Jesus aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker?

Onthou ook, dat as jy nie seker is of Jy Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie, wel dan het jy Hom nog nie aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker nie.

Jesus sê weer vandag vir jou deur hierdie skrywe wat jy tot hier gelees het:

OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My. (dit is, tot in aller ewigheid gelukkig saam wees)

HEB 3:7  Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor,

HEB 3:8  verhard julle harte nie …

Groete,

Sakkie