MOENIE JOUSELF LOSDRAAI UIT JESUS SE LIEFDESARMS NIE
Sakkie Parsons
Ek deel graag vandag met jou oor hierdie saak wat my na aan die hart lê – dat jy jou eie redding kan verwerp as jy jou rug op Jesus draai – die Enigste Een waardeur daar vir ons versoening en redding gekom het. Ons Enigste Saligmaker en Verlosser en die Enigste Een deur wie ons hemel toe kan gaan:
JOH 14:6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
Ek wens net meer van die predikers wil ook vir die mense vertel, dat alhoewel niemand Jesus van jou kan wegneem nie en al hoewel Jesus self jou nooit sal verlaat nie, ekself – en eintlik is dit so ‘n skrikwekkende iets om eens net aan te dink, dat ek nie eens myself as ‘n voorbeeld sou wou gebruik nie – maar dit is die beste wyse om hierdie skrikwekkende waarheid aan mense oor te bring wat ek nou aan kan dink –
Die Woord van ons Here wys baie duidelik ook vir my, dat ek, om dit so te stel, myself uit Jesus se wonderlike goddelike liefde kan losdraai. Ja, myself uit Sy arms los maak en die aanlokkend stem van satan volg. Totdat ek so ver van Jesus af weg is, dat ek nie meer kan terug gaan nie – gewoon omdat ek dan nie meer na Hom wil teruggaan nie en ek dan die magtelose prooi van satan word.
Kan Ek My Redding In Jesus Verwerp En Verloor?
Ja – en dit gaan geheel en al my besluit wees. Ek sal niemand nie eens soos Adam destyds die gemors waar ek in is op ‘n ander mens en ja selfs op satan kan afskuif nie, net soos wat Adam dit ook nie kon doen nie.
Want Adam net soos jy en ek, is na God se beeld geskape. Ons Here het nie ons as marionette geskape nie.
Ek weet ek het dit al met jou gedeel en ek het ook al heelwat hieroor geskryf en ek weet mense wil ook nie hieroor praat nie, want dit wil by sommige mense net nie mooi inpas soos wat hulle graag wil glo nie – maar ek deel maar net met jou gou weer in baie kort, die beste en duidelikste voorbeeld wat ons in die Woord het om te wys waarvan ek praat. As ek sê, baie mense is al hel toe, omdat hulle geglo het: “eenmaal gered is altyd gered.”
Ek praat van Judas Iskáriot.
Ons lees die eerste keer van hom die volgende:
MAT 10:1 En Hy (dit is Jesus) het sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees. (hou in gedagte, dat Jesus self ook sê, dat satan nie teen homself kan opstaan nie)
Dan lees ons verder:
MAT 10:2-4
2 En dit is die name van die twaalf apostels: die eerste Simon wat Petrus genoem word, en Andréas, sy broer; Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, sy broer;
3 Filippus en Bartholoméüs; Thomas en Matthéüs, die tollenaar; Jakobus, die seun van Alféüs, en Lebbéüs wat genoem word Thaddéüs;
4 Simon Kananítes en Judas Iskáriot, (wie ook die mag gehad het, oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees)die een wat Hom verraai het.
Dit was waar hy was. Te wonderlik oppad hemel toe – en kyk waar het hy op-geëindig:
MAT 26:14-16
14 Toe gaan een van die twaalf, met die naam van Judas Iskáriot, na die owerpriesters
15 en sê: Wat wil u my gee, en ek sal Hom aan u oorlewer? En hulle het vir hom dertig silwerstukke afgeweeg.
16 En van toe af het hy ‘n goeie geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.
Lees net wat getuig Jesus self later van hierdie apostel Judas Iskáriot, (wie ook die mag gehad het, oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees) wie Jesus aste ware met die hand uitgesoek het om saam met Hom hier op aarde te werk en wie Hy opgelei het om Sy werk na Sy kruisiging, opstanding uit die dood en opvaring na die hemel voort te sit.
JHN 6:70 Jesus antwoord hulle: Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie? En een van julle is ‘n duiwel!
Omdat hy dit toegelaat het en toe ‘n duiwelse gees in hom gehad het, en hy so Jesus vir satan verruil het, kon hy nie weer terugkeer nie gewoon, omdat hy nie meer wou terugkeer na Jesus toe nie.
Want jy sien:
HEB 6:4-6
4 Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het,
5 en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld,
6 en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak. (presies wat Judas sy verraaier gedoen het)
My groot held Paulus het ook met sulke mense te doen gekry, soos ek ook en baie ander gelowiges ook maar, om dit so te stel, nie almal wil die waarheid in die gesig staar nie:
1TIM 1:18-20
18 Hierdie boodskap vertrou ek aan jou toe, my kind Timótheüs, ooreenkomstig die profesieë wat vroeër aangaande jou uitgespreek is, sodat jy daardeur die goeie stryd kan stry
19 en aan die geloof en ‘n goeie gewete vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely, (hulle geloof het skipbreuk gelei, met ander woorde, hulle geloof het vergaan)
20 onder wie daar is Himenéüs en Alexander, wat ek aan die Satan oorgegee het,sodat hulle kan leer om nie te laster nie.
1TIM 4:1 Maar die Gees (wie nie kan lieg nie) sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word (jy kan net afvallig word van iets wat eens deel van jouself gewees het) en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang.
1TIM 6:20 o Timótheüs, bewaar jou pand en vermy die onheilige, onsinnige praatjies en teëwerpinge van die valslik sogenaamde kennis,
1TIM 6:21 waarvan sommige belydenis gedoen het en, wat die geloof betref, op ‘n dwaalweg geraak het. (hulle het op die pad hel toe beland. Want volgens Jesus is daar net een van twee paaie waar jy op kan wees) Mag die genade met jou wees! Amen.
Jesus sê dan ook:
MAT 24:11 En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.
MAT 24:12 En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.
Dit gaan so erg word, dat die meeste wie hulle bekeer het, op die einde sal verkoel en wat beteken dit?
Of dan wat is die gevolge dan daarvan?
OPG 3:15 Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud (want dan was daar nog hoop, dat jy jouself werklik sal bekeer en so warm word) of warm! (want dan het jy jouself werklik bekeer)
OPG 3:16 Maar nou, omdat jy lou is (jy van warm geloof deur kompromieë God en die wêreld dien, lou geword het) en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.
Ja, ek kan Jesus nie verloor as ek Hom gevind het nie – en niemand kan my uit Sy liefdevolle arms gryp nie – maar ek kan deur my eie wil gebruik, myself uit Sy liefdevolle arms los draai en Hom van my wegstoot. Hy gaan Homself nooit op my af forseer nie.
Iemand vra dalk: “Kan ek terugkeer na Jesus as ek Hom verloën of my losgemaak het van Hom?
Absoluut en verseker – maar elke oomblik wat ek versuim om dit te doen, word die gevaar dat ek so ver gaan afdwaal, dit ek dit nie meer gaan doen nie – omdat daar verseker ‘n tyd gaan kom, dat ek so ver van Hom af weg beweeg het, dat ek nie meer wil terugkeer nie en dit my ook nie ‘n bloue duit gaan skeel nie.
Moenie jou aan die slaap laat sus met satan se halwe waarheid, jy weet jy was een keer gered en nou is jy altyd gered nie.
Dit is ‘n halwe waarheid en daarom ‘n volle leuen en dit is ‘n ou ‘trick’ van satan om halwe waarhede evangelie te maak, wat hy die eerste keer in die tuin van Eden gebruik het en dit het daar gewerk en kyk net om jou wat die gevolge daarvan is.
Jy was eenmaal gered en van Jesus se kant af, is jy altyd gered maar die besluit bly by jou met jou eie wil waarmee ons Here jou geskape het, of jy Hom enduit gaan volg.
Soos wat dit ook Judas se eie besluit was, om sy redding, sy dissipel-wees en sy apostelskap in ons Here se gesig terug te gooi, vir dit wat die wêreld hom kon gee.
Nie Judas of jy of ek of enige ander mens, is ons Here se marionet nie, want Hy het ons na Sy beeld geskape hoe jy in hierdie lewe, lewe en in watter toestand jy uit hierdie lewe gaan tree, daardie besluit het ons Here totaal in ons eie hande gesit.
Hy het nog nooit nie en Hy gaan ook nooit Homself op jou of my of soos destyds op Judas af forseer nie.
As jy vandag weet of selfs wonder of jou saak met ons Here nog reg is, dan is dit nie reg nie. Jy is besig om op ‘n skrikwekkende afgrond die hel in af te stuur – en omdat jy tot hier gelees het, vra ek jou luister tog baie mooi en ernstig na die Woord wat jy nou aan die einde van hierdie skrywe gaan lees.
Want omdat jy hieroor wonder, is jy nog nie buite hoorafstand van Jesus se stem wat jou smeek om terug te kom nie en ook nie binne bereik van satan se grypende kloue nie:
So luister wat sê jou Verlosser en Saligmaker, wie ook volgens Sy eie woorde ook jou Vriend wil wees:
HEB 7:6-8
6 …. En ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou.
7 Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor,
8 verhard julle harte nie
OPG 3:20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My. (Jy en Jesus sal vir ewig wonderlik gelukkig saam wees)
Groete,
Sakkie