ONS STAAN KAALGESTROOP EN WEERLOOS VOOR DIE EEN AAN WIE ONS REKENSKAP MOET DOEN

ONS STAAN KAALGESTROOP EN WEERLOOS VOOR DIE EEN AAN WIE ONS REKENSKAP MOET DOEN

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my soos volg:

“Help asb ons wil net bietjie hoor.
Sien die Here als soos in als ons bedoel nou soos als soos wanneer mens kaal is en ek dink jy weet wat ons bedoel?”

Wat die persoon eintlik wil weet, so lyk dit vir my, is of ons Here ook alles van ons sekslewe af weet.
Ek het so effe geglimlag toe ek die skrywe aan my gelees het.  Nie oor die vraag self nie maar die, om dit so te stel, pragtig diplomatiese wyse dat die vraag gestel is.

Ek wil my antwoord so begin:

Ons God is die Almagtige, die Alomteenwoordige, die Alsiende, die Alwetende, die Alwyse God.

Hy het die heelal geskep.  Met die aarde wat deel daarvan is en almal en alles wat op en in die aarde is en Hy hou dit alles – ook vir jou en my – tot in die fynste volgens Sy wil in stand.
Omdat dit in hierdie skrywe oor die mens, jou en my gaan, deel ek met jou die volgende:

PSM 33:13-15
13 Die Here kyk vanuit die hemel (in Sy grootse liefde) en sien die hele mensdom.
14 Vanaf sy woning sien Hy al die bewoners op die aarde. (Ook dit wat hulle doen)
15 Omdat Hy hulle harte gemaak het, verstaan Hy alles wat hulle doen.

Omdat Hy ons en ook, soos Sy Woord dit stel, ons harte geskape het, weet , sien  en verstaan Hy natuurlik ook alles wat ons dink, doen, ervaar en voel.  Dit is alles wat in ons harte, of dan binneste aangaan.

Hy het al die mooi en heerlikhede wat daar tot ons beskikking is vir ons daar gestel, sodat ons dit volgens Sy wil kan geniet.
Oorspronklik soos ek die Woord verstaan, het ons Here intieme gemeenskap geskep vir ‘n man en sy vrou om in die huwelik uit te lewe en te geniet.
Ek sê volgens Sy wil.  Want byvoorbeeld verkragting is ook seks en sodomie volgens wat ek die Woord verstaan, bly sodomie.

Wanneer ons Here na jou en my Sy hoogste skepping kyk, kyk Hy met Sy wonderlike Goddelike liefde na ons en wil Hy dat alles wat Hy daar vir ons gestel het om in hierdie lewe te geniet, ons dit binne Sy alwyse reëls sal waardeer en geniet en verseker weet Hy soos ek genoem het, van alles, letterlik álles wat in ons lewe gebeur, of dit in ons binneste/harte of buite ons liggame gebeur:

PSM 139:1-8
U ken my deur en deur
1 Vir die koorleier: Van Dawid. ’n Psalm.
   Here, U deursoek my en ken my.
2 U weet of ek sit en of ek opstaan,
   U ken my gedagtes van ver af.
3 Of ek op pad is, en of ek gaan lê,
   elke oomblik weet U waar ek is.
4 Selfs voordat ek praat, Here,
   weet U al presies wat ek gaan sê.
5 U sluit my in van voor en van agter.
   U hand van seën is op my.
6  Dié kennis laat my in verwondering, dit is vir my te hoog om te begryp!
7 Waarheen sou ek kon gaan om U Gees te ontwyk?
   Of waarheen sou ek kon uitwyk om U teenwoordigheid te ontvlug?
8 Gaan ek op na die hemel toe, is U daar;
   gaan lê ek in die doderyk, dan is U ook daar!

Hoe heerlik lees ons nie dan ook net ‘n bietjie verder in dieselfde Psalm in die wete – Ja, ons kan níks vir Hom wegsteek nie:

PSM 139:11-17
11 Sou ek sê:
     “Mag duisternis my oorweldig en die lig nag word rondom my,”
12 dan is die nag vir U nie donker nie, maar is so helder soos dag,
     want duisternis is vir U soos lig.

13 U self het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot gevorm.
14 Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het.
     U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed!
15 My bene was vir U sigbaar toe ek stilletjies gevorm is in die dieptes van die moederskoot.
16 U het my gesien voor ek gebore is.
     In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was.
17 Kosbaar is u gedagtes vir my,o God!
     Hoe onmeetlik is die totaal!

Op ‘n ander plek lees ons:

HEB 4:13  Voor God kan absoluut niks weggesteek word nie. Ons staan kaalgestroop en weerloos voor dié Een aan Wie ons verantwoording moet doen.

Gelukkig soos ek reeds gewys het, kyk ons Here na ons met die grootse deernisvolle liefde en hanteer hy alles wat in ons lewe aangaan met die grootste liefdevolle deernis.

Ons lees net ‘n bietjie verder in HEB 4:15-16:

HEB 4:15 Hierdie Hoofpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy is in elke opsig op dieselfde manier as ons versoek, maar Hy het nie voor die sonde geswig nie.
HEB 4:16 Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy ontferming en genade bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word.

So, hoe kyk ons Here, volgens wat ek uit die Woord verstaan, na ‘n man en vrou wat binne die huwelik intimiteit beoefen?

Ek kan dit so stel –
Byvoorbeeld:
Ek weet my kinders geniet dit geweldig om op ‘n skoppelmaai te ry.
Nou bou ek vir hulle ‘n skoppelmaai en dit is vir my te heerlik om hulle te sien speel op daardie skoppelmaai.
As hulle egter op daardie skoppelmaai, wat ek aste ware vir hulle geskep het,  wil speel op ‘n wyse wat die skoppelmaai nie bedoel is nie, soos om soos ‘n akrobaat op hulle hande te probeer skoppelmaai ry, sal dit my geweldig ontstel en ek sal dadelik ingryp.
Ook, as iemand die skoppelmaai steel en ek sien die skoppelmaai op ‘n ander plek en kinders speel daarop, sal ek ook baie ontsteld wees.  Maak nie saak hoe lekker hulle speel nie.  Ek sal ingryp.
Dan wil ek ook net noem dat deel van ons Here se reëls in hierdie wonderlike liefdesspel tussen ‘n man en vrou in die huwelik sluit ook in dat die een nooit die ander een in iets sal dwing waarmee die persoon nie gemaklik is en selfs vir die persoon onaanvaarbaar is nie.
As my kinders op die skoppelmaai wat ek vir hulle gemaak het speel en hulle ry saam en vir die een swaai hulle nou te hoog en die ander een bly die skoppelmaai steeds so hoog laat swaai sal ek dit ook nie goedkeur nie.

Onthou ook die volgende:
As ek buite ons Here se vasgestelde reëls enige iets geniet wat Hy daar tot my beskikking gestel het, moet ek weet dat ek nou ongehoorsaam is en as ek aanhou om ongehoorsaam te wees, dan is ek met opset moedswillig ongehoorsaam teenoor ons almagtige God.
Van hierdie soort opsetlike moedswilligheid lees ons in die Woord:

HEB 10:26-31
26 As ons opsetlik bly sonde doen nadat ons die volle waarheid leer ken het, bly daar geen offer vir die sondes oor nie.
27 Al wat oorbly, is die vreeslike vooruitsig van God se oordeel, ja ’n gloeiende vuur wat God se vyande gaan verteer.
28 Enige persoon wat die wet van Moses verbreek het, is op die getuienis van twee of drie mense sonder enige begenadiging doodgemaak.
29 Dink net hoeveel swaarder sal die straf van daardie mense wees wat die Seun van God onder hulle voete vertrap en die verbondsbloed wat hulle geheilig het, met minagting bejeën en die Gees van genade beledig het.
30 Ons ken tog die Een wat gesê het:
“Ék sal die straf voltrek,
Ek sal die kwaad vergeld.”

En verder:
“Die Here sal oor sy volk oordeel.”
31 Hoe verskriklik is dit om in die hande van die lewende God te val.

Ons dien ‘n wonderlike God vol liefde en so verkondig die meeste evangeliste Sy evangelie en dit is natuurlik ook waar maar daar is nóg iets wat by hierdie groot waarheid verkondig moet word en dit is:

So groot soos Sy liefde is, so groot is ook Sy regverdige oordeel.

Daarom sê Hy weer vandag vir jou en ook vir my wie hier skryf, wat Hy ook vir die owerspelige vrou gesê het.
Onthou jy?
Hulle wou hê Hy moes haar veroordeel maar, so glo ek, wys Jesus eers vir hulle deur in die sand te skryf wat Hy van hulle weet en toe, soos ek dit sien, sluip al haar beskuldigers stil-stil weg en toe Jesus weer orent kom is hulle almal weg.
Toe sê hy vir die vrou wat owerspel gepleeg het, want sy hét owerspel gepleeg:

JOH 8:10  Toe Jesus weer orent kom, het Hy vir haar gesê: “Vrou, waar is hulle heen? Het niemand jou veroordeel nie?”
JOH 8:11  Sy het geantwoord: “Niemand nie, Meneer.” Jesus sê toe vir haar: “Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” (moet nie meer moedswillig wees en met jou owerspelige lewe voort gaan nie)

So, jy hoef nooit iets negatief te ervaar wat ons Here self daar gestel het vir jou om te geniet nie maar as jy dit buite Sy reëls beoefen en tot nou toe moedswillig gelewe het , sê Jesus, jou liefdevolle Verlosser en Saligmaker, Hy wie ook nou op hierdie oomblik gereed staan, as jy Hom vra, as jou liefdevolle Advokaat voorspraak in die hoogste hof in die heelal.  Hy, van wie geskryf staan:

1JOH 2:1-3
1… ons het ’n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige.
2 Hy is die versoeningsoffer vir ons sondes.  Nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die   hele mensdom.
3 En hieraan weet ons dat ons Hom regtig ken: as ons sy opdragte gehoorsaam.

Onthou nou en ek praat nie van verslawing nie, solank verslawing in jou lewe nou nie vir jou die norm word nie – jy moet altyd daarteen veg.

Om telkens deur byvoorbeeld dieselfde versoeking versoek te word is nie moedswilligheid nie, in elk geval nie van jou kant af nie.  Dit is die bose moedswilligheid van satan.
Om willens en wetens weer en weer daaraan toe te gee,  dit is blatante moedswilligheid.

Hierdie Jesus – Ons liefdevolle Advokaat en Voorspraak by ons Here in die hoogste hof in die heelal, sê vandag vir  jou daarom het jy tot hier gelees:

JOH 8:11  … “Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

Met ander woorde, moet nou nie meer moedswillig die sonde doen nie.

Groete,
Sakkie