DIE STRIK VAN DIE VYAND
Sakkie Parsons
Iemand het eendag gevra:
“Wat help dit om die Here te dien, kyk hoe gaan dit met my.”
Dit is juis waarom ek hierdie skrywe skryf.
God koop niemand om nie maar Hy het wel ‘n groot beloning eendag vir die wat Hom dien ten spyte van dit wat satan probeer doen om hulle weg van ons Here af te kry.
So:
Mense vra van tyd tot tyd: ”Waarom gaan dit soms, om dit baie lig te stel, so moeilik met ‘n kind van ons Here?”
Die antwoord vir my is eintlik heel eenvoudig:
Omdat daar ‘n satan is natuurlik.
Ons moet voorbereid wees op die aanslae van satan wat ons redding wil steel en ons saam met hom hel toe wil sleep.
Die eerste wat ek dink ons moet onthou, is dat toe Adam en Eva teen ons Here gerebelleer het, het sonde die wêreld ingekom om almal en alles in en om ons te besoedel. Tot so ‘n verskriklike groot mate, dat almal wat jy nou om jou sien, die een of ander tyd, wat hierdie lewe aanbetref sal doodgaan en alles wat jy nou om jou sien, sal die een of ander tyd tot niet gaan.
ROM 5:12 Toe Adam gesondig het, het sonde in die wêreld ingekom en deur Adam se sonde ook die dood. En so het die dood tot alle mense deurgedring, want almal het gesondig.
So seker soos wat jy en ek weet, dat ons aan die een en enigste God almagtig behoort, wat Sy seun gestuur het, sodat ons vir ewig by Hom kan lewe:
JOH 3:16-16
16 "God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.
18 "Die persoon wat aanhou glo in Hom, word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.
Net so seker as wat ons hierdie groot waarheid weet wat jy nou gelees het wel net so seker kan ons weet, dat daar ‘n satan is, wat sy uiterste gaan doen om jou en my teen ons Here te draai en in die proses, gaan hy die lewe vir jou en my so moeilik as moontlik probeer maak.
Want hy wil jou en my so ver kry, dat ons of sê:
“Daar is nie ‘n God nie” of hy wil dat ons sal sê:
“As daar ‘n God is, wil Hy nie, of is Hy nie by magte om my te help nie.” Of hy wil dat iemand sal sê soos jy daar aan die begin gelees het:
“Wat help dit om God te dien, kyk hoe gaan dit met my.”
Sommer so in die verbygaan, want dit is weer ‘n heel ander onderwerp:
Ek dien nie ons Here, omdat ek wil dat Hy my ‘n wonderlike lewe hier op aarde moet gee nie.
Ek dien ons Here omdat Hy my uit sy liefdevolle genade gered het en my die groot genade gegee het, om vir Hom lief te wees.
EFE 2:4-6
4 Maar God se onverdiende liefde is oorvloedig. Die liefde waarmee Hy ons liefhet, is so groot
5 dat toe ons verkeerde lewe ons geestelike dood veroorsaak het, Hy ons saam met Christus lewend gemaak het. Dis dus God se onverdiende goedheid wat maak dat julle gered is!
6 Omdat ons aan Christus Jesus verbind is, het God ons saam met Hom opgewek en saam met Hom ‘n sitplek in die hemel gegee.
Terug by ons eintlike onderwerp.
In satan se poging om so veel mense as moontlik van ons Here af weg te kry, sien hy niemand maar niemand oor nie. Hy het nie eens vir Jesus oorgesien nie.
MAT 4:8-10
8 Vervolgens neem die duiwel Hom na die top van ‘n baie hoë berg en wys vir hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag en praal.
9 Daarop sê hy vir Jesus: “Dit alles sal ek vir jou gee. Al wat jy moet doen, is om neer te kniel en my te aanbid.”
10 Toe sê Jesus vir hom: “Trap, Satan! Daar staan in die Skrif: ‘Jy moet die Here jou God aanbid en Hom alleen vereer.’
Omdat satan is wie hy is, kan jy, kind van God, seker wees.
Soos wat daar op aarde elke jaar ‘n winter gaan wees – net so seker kan jy wees, dat daar mooi tye in jou lewe gaan wees maar daar gaan ook, as gevolg van satan, lelik in jou lewe wees en soos die winters op aarde elke jaar, gaan daar soms lelik wees wat baie leliker gaan wees as ander wat jy reeds belewe het.
As ek so na my ondervindinge en waarnemings op my pad deur hierdie lewe kyk, wil dit vir my voorkom, dat hoe hegter jou verhouding met ons Here, hoe harder is die aanslae van satan.
Wat byvoorbeeld die dissipels in die Woord aanbetref, het nie een van hulle uit ‘n menslike oogpunt gesien, ‘n lekker lewe gehad nie.
Ons weet byvoorbeeld dat koning Herodes vir Jakobus laat doodmaak het.
HAN 12:1 In dié tyd het koning Herodes Agrippa party van dié wat aan die kerk behoort, laat arresteer en hulle mishandel.
HAN 12:2 Hy het Jakobus, die broer van Johannes, met 'n swaard laat vermoor.
Volgens oorlewering, het nie een van die dissipels ‘n normale dood gesterf, buiten Johannes nie en ook hy het ‘n moeilike tyd op aarde gehad. Hy was onder andere op Patmos as ‘n gevangene gewees.
Petrus byvoorbeeld is volgens oorlewering onderstebo gekruisig en alhoewel daar nie Bybelse bewyse daarvoor is nie, skryf hy kort voor sy dood in die Woord:
2PET 1:13-15
13 Ek beskou dit inderdaad as my plig om julle hieraan te herinner so lank as wat ek nog lewe.
14 Ons Here Jesus het dit egter aan my bekendgemaak dat ek binnekort gaan sterf.
15 Daarom sal ek moeite doen om hierdie dinge aan julle te verduidelik. Ek wil hê julle moet dit onthou lank ná ek nie meer hier is nie.
Kyk gou watter soort lewe het, na my mening, die grootste apostel van alle tye gehad. Ek praat hier van my groot held Paulus, die man aan wie ons Here die grootste gedeelte van die Nuwe Testament toevertrou het. Wat ook volgens oorlewering, uiteindelik in Rome onthoof gewees het.
Daar was destyds, net soos vandag, mense wat geloop en spog het, wat hulle alles ter wille van Christen wees moes deurmaak en nou, nie omdat hy wou nie maar omdat sy teenstanders aste ware hom feitlik forseer het om dit te doen, vertel Paulus so ‘n bietjie van wat hy al moes deurmaak en dan gee hy ook duidelik te kenne, dat dit eintlik vir ‘n Christen dwaas is om te loop en spog oor wat jy moet ly omdat jy ‘n kind van ons Here is.
2KOR 11:23-27
23 Is hulle diensknegte van Christus, ek nog meer – nou praat ek regtig asof ek heeltemal van my verstand af is! Wat harde werk betref, uitermate; wat tronke betref, uitermate; wat katshoue betref, in die oortreffende trap; in doodsgevare dikwels.
24 Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van 39 houe gekry;
25 drie maal is ek met stokke geslaan, en een keer is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een van daardie kere het ek 'n dag en 'n nag op die oop see oorleef.
26 Ek was dikwels op reis; in gevare van riviere; van rowers; van my volksgenote; van nie-Jode; gevare in die stad en in verlate gebiede; gevare op see en gevare onder vals medegelowiges.
27 Ek weet van harde werk en swaarkry, van baie nagte se wakkerbly, van honger en dors; van dikwels sonder kos te moet klaarkom, van koue en sonder klere wees.
Luister mooi:
Nêrens in die Woord sien ek dat, aan menslike standaarde van hierdie wêreld gemeet, dit met ‘n Christen altyd of selfs baie keer voor die wind sal gaan nie. Omdat daar ‘n satan is, sê Jesus vir ons:
JOH 16:33 Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin."
Al kry ek swaar tydens my reis deur hierdie wêreld, en deel ek nie in wêreldse genietinge nie, het ek die belofte van die heerlike volle vrede ten spyte van lyding wat die menslike verstand moeilik begryp:
JOH 14:27 "Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld of beangs word nie.
Daarom kon die Christene daar aan die begin jubelend al singend na die brandstapels ens stap. Want hulle het hierdie groot waarheid baie goed begryp:
2KOR 4:17 Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan.
Eers toe my verhouding met ons Here die diepte bereik het, dat ek hierdie dinge kon verstaan, toe maak die volgende uit die Woord ook vir my die heerlike sin wat ons Here wil dat dit vir ons moet maak:
JAK 1:2-4
2 My broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees.
3 Julle weet mos: Wanneer 'n mens se geloof 'n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard.
4 Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle, julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks (geestelik) kortkom nie.
Uiteindelik en ek skryf dit jubelend in my hart. Hoe absoluut heerlik om te weet:
ROM 8:28 En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.
So, totdat Jesus my kom haal, lewe ek my lewe in Sy weë en is ek dankbaar om as gevolg van Sy groot liefdevolle genade deur my lewe en my woorde, deel van die waarwording van hierdie profesie van my God en Verlosser te wees:
MAT 24:14 Hierdie Goeie Nuus van God se koningsheerskappy sal eers in die hele wêreld, aan al die nasies, verkondig word voordat die einde kom.
ROM 1:16 Vir hierdie Goeie Nuus is ek allesbehalwe skaam. Dit is immers God se krag wat hier aan die werk is. Dit bring verlossing vir elkeen wat glo …
Jy kan ook saam met my en so baie ander deel van die vervulling van hierdie profesie van ons Here wees. Deur gehoor te gee aan hierdie bevel van Jesus aan ons kan jy dit deur jou woorde doen – maar kan jy dit ook deur die voorbeeld in jou lewe aan die mense om jou doen.
MAT 28:19 Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
MAT 28:20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis."
Groete
Sakkie