HOU JOU OË OP JESUS

HOU JOU OË OP JESUS

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my die volgende:

“Kan jy asb as jy tyd het vir my laat weet hoe sien jy die gawe van onderskeiding.
Vanoggend op Radio kansel het n vrou vertel; dat n mens wat hierdie gawe ontvang het bv. engele en demone kan sien.“

Dit is dan hoe ek na hierdie saak kyk:

In die Nuwe Testament is daar absoluut geen enkele geval so ver my kennis strek, waar iemand, buiten Jesus natuurlik,‘n demoon fisies gesien het, of waar die Woord ons enigsins laat verstaan, dat iemand wat die gawe van onderskeiding van geeste, of enige ander gawe het, nodig het om ‘n demoon fisies te sien, of sou wou sien nie en dankie tog daarvoor!

Terloops die woord “demoon” kom nie een keer voor in die Bybel wat ek lees nie.
Die woord “duiwel” kom egter 109 keer in een of ander vorm voor in die Nuwe Testament wat ek gereeld gebruik.   Ek sal dus van hier af die woord “duiwel” in die plek van “demoon” gebruik.

Hoe kyk ek na uitsprake soos die wat die skrywer hier bo my van vertel het?

Ekself is baie, baie skepties as iemand met my iets deel wat nie deur die Woord bevestig word nie en die uitspraak wat die vrou volgens die skrywe aan my gemaak het, is beslis iets wat volgens my kennis verseker nie in die Woord bevestig word nie.
Ekself het, dankie tog, nog nooit ‘n duiwel gesien nie en ek het ook geen begeerte om een te sien nie.  Ek het ook nog nooit ‘n persoon ontmoet wat die gawe van onderskeiding het, wat beweer het dat sy of hy, as gevolg van die gawe waarmee hulle geseën is, al ‘n duiwel gesien het nie.
Ja, ek het al mense gesien wat soos duiwels optree.
Maar dankie tog, dit was die naaste aan fisies duiwel sien wat ek gekom het.

As ons Here in jou hart vir jou gewys het dat Hy vir jou die gawe van onderskeiding gegee het en jy het nog nooit ‘n duiwel of natuurlik ook ‘n engel gesien nie, moet tog groot asseblief, as jy hoor van mense wat sê dat hulle die gawe van onderskeiding het en daarom sien hulle nou fisies duiwels en engele, dink dat ons Here jou afgeskeep het nie.
Ek herhaal.
Daar is geen bewys in die Woord, dat mense soos my groot held Paulus en die ander dissipels duiwels gesien het, of wou sien nie.
Hulle het net die duiwels met wie hulle te doen gekry het in die Naam van ons Here uitgedryf, of van hulleself af verjaag en aangegaan met die verkondiging van die Evangelie.

Daar is natuurlik bewyse van mense wat engele gesien het maar dit was nie noodwendig omdat hulle die gawe van onderskeiding gehad het nie.
Vir die, wat ek sommer die “duiweljagters” noem wat so oral rondgaan, wil ek maar net daarop wys:
Soos ek die Woord verstaan, het ons Here ons die mag oor duiwels gegee maar ons nie aangestel, om dit so te stel, hulle te jag nie.
Ek gee wat ek as die beste voorbeeld beskou waarvan ek weet:

MAT 10:1  En Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees.

Ook, toe Jesus Sy ander dissipels twee-twee uit gestuur het, het Hy hulle niks gesê wat “duiwel jag” aanbetref nie.
Een van die dinge wat Hy wel vir die 70 gesê het was:

LUK 10:9  En maak die siekes gesond wat daarin is, en sê vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom.

Toe hulle terugkom, kon hulle egter ook as volg getuig van die krag wat daar in die Naam van Jesus is:

LUK 10:17  En die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam.

Ek deel graag met jou hoe ek na mense en hulle uitsprake en aansprake kyk en ek wil aan jou voorstel om ook so na mense se uitsprake en aansprake te kyk.

1JHN 4:1  Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.

Persoonlik is my ondervinding oor die jare, dat hoe beter ek die Woord geken het hoe makliker was en is dit om 1JHN 4:1 in my lewe tot sy reg te laat kom.

Wat jouself aanbetref, sover dit wie, of wat ookal jou padlangs kom, aanbetref:

Hou jou oë net op Jesus en bestudeer die Woord en dan doen jy maar net wat Jesus vir jou en my in Sy Woord sê om te doen.

MAT 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
MAT 28:20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.

Wat die uitsprake of aansprake van mense om jou, onder andere oor duiwels, aanbetref, leef jy dan maar net na aan die Woord, ook wat jou gawe of gawes aanbetref, want jy weet mos by dit alles:

MAT 28:20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.

Ten slotte wil ek net nog iets spesifiek oor duiwels, sigbaar of onsigbaar sê, wat nog altyd vir my gewerk het, vandat ek in 1973 tot bekering gekom het.  Daarom wil ek dit ook vir jou voorstel.
Dit werk nog altyd vir my en dit sal vir jou ook werk, want dit is wat ons Here in Sy Woord sê dat ons moet doen.

Om mee te begin:

Moet nie van jou kant af met die duiwel deurmekaar raak nie.

EFE 4:27  en gee aan die duiwel geen plek nie.

Wees deurentyd op jou hoede vir hom.

1PET 5:8  Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.

As jy met hom te doen kry, hou jou oë op Jesus, dan sal jy die duiwel in elk geval nie kan of wil sien nie en weerstaan die duiwel dan in die Naam van Jesus.

JAK 4:7  Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

Dit is alles moontlik as jy die volgende onthou en op jouself van toepassing maak:

EFE 6:10  Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.

Hoe doen jy dit?

EFE 6:11-18 
11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.
12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.
13  Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.
14  Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan,
15  en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.
16  Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.
17  En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God—
18  terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges

Ek wil jou vra, nee, ek wil jou smeek.
Moet tog nie soos sommige mense, om dit so te stel, “duiwel behep” raak nie.

Nee, hou jou oë op Jesus en soos ek gesê het, dan sal jy nie, en hoe heerlik, enige
duiwel fisies kan, of wil sien nie.

Nog meer “Gedagtes uit die Woord” oor hierdie onderwerp en wat hierby aansluit is beskikbaar wat op e-pos aanvraag bestel kan word op of die Webtuiste beskikbaar is, naamlik:
Bly in alle omstandighede op julle hoede – Deel 1 en 2
Die Wapenuitrusting van God – Deel 1 en 2

Groete
Sakkie