MOENIE JOU MEDEMENS LAAT STRUIKEL NIE

MOENIE JOU MEDEMENS LAAT STRUIKEL NIE

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my onder andere as volg:

“Wat gebeur in die geval wanneer iemand n sigarette of drankwinkel bedryf?”

Hierdie soort besighede is maar net twee van baie besighede wat ek dink ‘n Christen nie behoort te bedryf nie maar ek is oor hierdie twee gevra en ek bepaal my dan by hulle.

My antwoord op “Wat gebeur as ‘n Christen hierdie soort besigheid bedryf?” is heel eenvoudig:

Al wat gebeur, is een groot tragedie op die ander, waarvan die geestelike tragedie die heel grootste is.

Laat ek uit die Woord verduidelik wat ek hier sien en kom ek begin by die mense om jou met wie jy vanuit hierdie besighede handel dryf.

Om mee te begin:
Daar is nie ‘n dokter van wie ek weet, wie vir jou gaan sê dat rook goed vir jou gesondheid is nie en nou praat ek nie eens van die mense vir wie ‘n roker om haar/hom benadeel nie.

Dan moet jy ook nou maar self terwyl jy na die Heilige Gees in jou hart luister, besluit wat is die kanse dat jy net een hele dag, vergeet maar vir ‘n oomblik al die ander dae, nie drank aan iemand gaan verkoop wat daaraan verslaaf is, of iemand wat daardie drank gaan misbruik nie.

Luister wat sê die Woord van daardie roker en onthou ook, wat die roker aan die mense om hom doen en ook die drankverslaafde en misbruiker en onthou dan vir die huidige in elk geval, is jy deel van die oorsprong van die verskriklikheid wat voor ons Here se oë afspeel:

1 KOR 3:17 As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom skade aandoen. God se tempel is immers heilig en julle is self daardie tempel.
1 KOR 6:19 Of verstaan julle nie dat julle liggame 'n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon en deur God aan julle gegee is nie? Julle behoort nie aan julleself nie,
1 KOR 6:20 want julle is teen 'n duur prys (die kruisdood van Christus) gekoop. Daarom moet julle God met julle liggaam verheerlik.

Wil jy dalk jouself verontskuldig soos Kain destyds, deur te sê, dat jy nie die persoon wat by jou koop se oppasser is nie?

Wel, luister wat sê die Woord, met ander woorde, ons Here self aan jou, hoe jou optrede moet wees:

FIL 2:4 Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange.
FIL 2:5 Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees:

Dan is daar natuurlik ook die voorbeeld wat ek in my getuienis as kind van ons Here aan die mense wie weet waarvoor ek staan stel, wat ook hier ter sprake kom.

1 KOR 8:10 Julle sien, dit kan maklik gebeur dat iemand jou sien aansit vir 'n ete in 'n afgodstempel. (agter die toonbank van byvoorbeeld ‘n drankwinkel staan) Omdat jy die nodige kennis het, besef jy daar is niks daarmee verkeerd nie. Maar gaan jy nie daarmee jou sensitiewe medegelowiges aanmoedig om teen hulle gewete in afgodsoffervleis te gaan eet nie?  (met vrede in hulle harte drank misbruik of rook nie).

ROM 14:20 Moenie langer toelaat dat die Here se werk afgebreek word en dit oor kos (of byvoorbeeld drank of sigarette) nie. Onthou, 'n mens kan alles eet, maar dit is sleg as jy deur iets wat jy eet (of in hierdie geval verkoop)'n medegelowige laat struikel.

As ek dink aan my getuienis as kind van ons Here en die feit –

2KOR 5:10 Ons almal moet voor die regbank van Christus verskyn sodat elkeen van ons kan ontvang volgens wat ons in ons aardse liggaam gedoen het, of dit goed en of dit sleg was.

Sjoe!  As ek aan al hierdie dinge dink, wel dan soos ons in Afrikaans sê:

“Die kool is die sous net eenvoudig nie werd nie.”

Liewer onthou ek en probeer ek na die beste van my vermoë só lewe:

MAT 5:14 Julle is die lig wat die wêreld moet verlig.  ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie!
MAT 5:15 ‘n Mens steek ook nie ‘n lamp op en maak dit dan onder ‘n emmer toe nie.  Allesbehalwe!  Jy sit dit bo-op ‘n lampstander.  Dan maak dit lig vir almal in die huis.
MAT 5:16 Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ‘n helder lig sal laat uitstraal.  Dan sal die mense dit sien, en julle hemelse Vader daarvoor prys!”

So my vriendin/vriend.

ROM 6:13 Julle is betrokke in 'n geestelike oorlog. Moenie langer julle liggaamlike vermoëns as wapens van ongeregtigheid vir die sonde beskikbaar stel nie, maar stel julleself voortdurend vir God beskikbaar omdat julle uit die dood weer lewendig geword het. Stel al julle liggaamlike vermoëns as wapens van geregtigheid tot God se beskikking.

ROM 15:2 Ons moet aan die beswil van ons naaste dink en hulle so in hulle geloofslewe help opbou.  (nie van agter ‘n toonbank van ‘n drank of sigaret winkel afbreek, of dalk vernietig nie.

Groete,
Sakkie