DIE HUWELIK

DIE HUWELIK

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra of ek nie vir hom iets wil skryf oor die huwelik nie en ek deel sommer dit wat ek vir hom gestuur het ook met jou.

Onthou tog as jy dit lees, dat ek nie myself uitgee as ‘n huwelikberader nie maar verseker as iemand, wat ook soos Paulus kan sê:

1KOR 7:40… En ek meen dat ek ook die Gees van God het.

Die eerste wat vir my baie duidelik is as kind van God, is dat uit ‘n Christelike oogpunt, die huwelik deur God bedoel is vir ‘n man en ‘n vrou en net vir ‘n man en ‘n vrou.
God het die man en die vrou vir mekaar in die huwelik geskape en nie die man vir die man, of die vrou vir die vrou nie.

GEN 2:18,20-23 
18 Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas.
20  So het die mens dan name gegee aan al die vee en aan die voëls van die hemel en aan al die wilde diere van die veld, maar vir die mens het hy geen hulp gevind wat by hom pas nie.
21  Toe het die HERE God ‘n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak.
22  En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou en bring haar na die mens.
23  Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.

Nou volg ‘n vers, wat so lyk dit vir my deur baie mans nie in die Woord van God raakgesien word nie:

GEN 2:24  Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.

Die NLV stel dit as volg:
GEN 2:24 Dit verklaar waarom ‘n man van sy pa en ma weggaan, saam met sy vrou lewe en hulle dan soos een mens word.

Hier moet ‘moeder se seun’ wat nou ‘n getroude man is, sy vrou – met wie hy nou een is in die huwelik – heel eerste stel in familieverband.  Sy vrou alleen is nou vrou van die huis en nie sy moeder ook nie. 
Omdat ek al baie met hierdie soort probleem te doen gekry het, voel ek taamlik sterk daaroor.
‘n Jong pasgetroude dame kan soms baie magteloos voel.  Veral as die man nog taamlik vas aan sy ma is en sy ma, om dit so te stel, hom nie regtig wil laat gaan nie.

Let nou op dat daar nie geskryf staan dat jy jou ouers nou verwerp en verwaarloos nie, maar wel dat jy jou ‘n lewe in nuwe eenheid saam met jou vrou begin.  Jesus onderstreep die gebod dat jy jou vader en moeder moet eer en respekteer:

MAT 15:4 Want God het bevel gegee en gesê:  “Eer jou vader en moeder…”

Om jou vader en jou moeder te eer en te respekteer, beteken egter nie dat jy een van hulle toelaat om jou huwelik te regeer nie.  Dit beteken ook nie dat jy hulle nou afskeep en nooit meer gaan besoek nie.   Dit beteken dat jy hulle met die nodige respek en eerbied sal behandel en daarmee saam dat hulle as ouers jou huwelik en nuwe gesinslewe ook met die nodige respek en eerbied sal behandel met die nodige privaatheid wat daarmee gepaard gaan. 

‘n Ander aspek is dat baie mense beweer dat hierdie deel van die Skeppingsverhaal net ‘n verhaal is.
Kom ons kyk dan nou wat sê God persoonlik van hierdie gedeelte.
Kyk wat sê Jesus van hierdie gedeelte, met ander woorde kyk as jy hier lees, of jy dink dat Jesus dink dit wat jy nou gelees het is maar net ‘n verhaal:

Net vir diegene wat dink dat Jesus nie God self is nie, die volgende:

JHN 1:1-3 
1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
2  Hy was in die begin by God.
3  Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

JHN 1:14  En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

So, kom ons kyk gou watse waarde heg Jesus, “die Woord wat vlees geword het,” aan hierdie gedeelte in Genesis.

MAT 19:3-9 NLV
3 Daar het toe Fariseërs na Hom toe gekom in ’n poging om Hom in ’n strik te laat trap. Hulle vra Hom toe: “Mag ’n man sommer oor enige onbenulligheid van sy vrou skei?”
4 Hy antwoord hulle: “Het julle nie in die Skrif gelees dat die Skepper die mens van die begin af man en vrou gemaak het nie?
5 En die Skrif sê verder: ‘Daarom sal ’n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg. So sal hulle tot een liggaam verenig word.’
6 Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam. Wat God so saamgevoeg het, mag ’n mens nie uitmekaarskeur nie.”
7 Hulle vra Hom: “Maar waarom het Moses dan gesê ’n man kan sommer net vir sy vrou ’n skeidokument gee en haar dan laat gaan?”
8 Hy sê vir hulle: “Moses het egskeiding toegelaat as ’n toegewing aan die sondige hardheid van julle harte, maar dit was nie wat God oorspronklik bedoel het nie.
9 Dít verseker Ek julle, ’n man wat van sy vrou skei oor enige ander rede as oor huweliksontrou en met iemand anders trou, is self skuldig aan huweliksontrou.”

Ag, ek weet ek hamer vir ‘n oomblik ‘n bietjie op een gedeelte spesifiek maar ek het al so vele kere hierdie soort probleem teëgekom dat ek my maar veroorloof om ‘n bietjie meer klem daarop te lê.
Het jy die een gedeelte gesien wat Jesus ook spesifiek kwoteer en dan ook nog iets byvoeg, om dit nog duideliker te maak?

MAT 19:5  en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees;
MAT 19:6  sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.

Nou kom ek by nog ‘n gedeelte wat deur baie mense na my mening ook uit verband gebruik word:

EFE 5:22-24 
22 Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.
23  Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.
24  Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.

Ek het al met mans gesels, wat as ek met hulle deel, hulle hierdie gedeelte voor my kop gooi maar hulle kan werklik net die een gedeelte kwoteer, naamlik.

EFE 5:22  Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig,…

Ek sou graag wil hê, dat ons mans liewer klem sal lê op die laaste gedeelte van hierdie Vers:

EFE 5:22  Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig soos aan die Here.

Nie asof ek goddelik is nie maar dat ek nie van my vrou iets sou verwag wat ek weet dat God nie sou wou hê dat ek van haar moet verwag nie.
Net so ook die vrou, haar optrede teenoor haar man moet wees, asof sy dit vir ons Here doen.
So doen albei dan presies wat God in elk geval van alle Christene verlang.

KOL 3:23  En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,
KOL 3:24  omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus.

Ek glo God het die man die Hoof van die huis gemaak, nie om baas te speel nie maar terwille van orde.
Daar is ‘n gesegde wat sê:
“Too many cooks spoil the broth.”
In huisgesinne waar die man en die vrou die hoof van die huis probeer wees, gaan dit dikwels soos ‘n ander gesegde sê:
“Too many chiefs and not enough Indians.”

In huisgesinne volgens my ondervinding, waar die man die hoof, en nie die baas is nie, kry jy God se perfekte gesinsharmonie.

Daar is nog iets wat ek nie mag nalaat om jou te wys nie:

EFE 5:25  Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het…

Kan jy sien?
Dit is nie ‘n opsie nie, dit is ‘n bevel van God, dat jy net jou eie vrou moet liefhê, soos ‘n man ‘n vrou mag liefhê

Let op na die volgende in dit wat jy nou net gelees het…

EFE 5:25  Manne, julle moet jul eie vroue liefhê…

Ten slotte moet ek altyd onthou hoe Jesus daardie een gedeelte in Genesis uitgelig en aste ware onderstreep het:

MAT 19:4-6 
4 En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie,
5  en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees;
6  sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.

Groete,
Sakkie