GOD SE GEES BOKANT ELKE ANDER GEES – DEEL 2

GOD SE GEES BOKANT ELKE ANDER GEES – DEEL 2

Sakkie Parsons

Ek het in my vorige skrywe in hierdie kort reeks van twee gedagtes uit die Woord afgesluit met die volgende stelling wat iemand in ‘n skrywe aan my gemaak het naamlik:
“… en ‘n bose gees, deur die Here gestuur, het hom verskrik." Wat is die mening daarvan, ek bedoel, die Here maak tog sekerlik nie gebruik van geeste onder die mag van satan nie?”

Hier dan is hoe ek dit uit die Woord verstaan:

Ons Here is soewerein, alwetend, almagtig en alomteenwoordig, die Skepper van alles wat in die skepping is en Hy kan en doen soos Hy goeddink.
Daarom kan Hy en mag Hy en doen Hy dit dan ook.

Ons Here gebruik wel satan se geeste soos ek jou in Saul se geval sal wys en daar is ook ander gevalle, buiten die van Saul, waar ons Here satan se magte gebruik het en ek deel met jou die volgende:

 1KOR 5:5  Dan moet julle daardie man aan satan oorgee sodat sy sondige aard vernietig word, maar hyself verlos kan word op die oordeelsdag.

Asook die voorbeeld in my groot held Paulus se eie lewe:

2KOR 12:7-9  

7… Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my te kasty.
8  Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat.
9  Hy het egter vir my gesê: “My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.”

Terug by Saul en die bose gees wat hom geteister het.
Ons weet nie altyd waarom ons Here satan se geeste toelaat om te doen wat hulle doen nie maar ek dink in Saul se geval kan ons tog ‘n rede sien.

Ek sien dit so:

Ons Here wou nie meer vir Saul as koning oor Sy volk hê nie, omdat hy so ongehoorsaam gewees het.
Ons Here kies toe ‘n skaapwagter doer ver op die vlaktes van Israel agter sy skape, om Sy volk se koning te word:

1SAM 16:12  Isai het so gemaak en hom (dit is Dawid) laat roep. Hy was rooierig van voorkoms, aantreklik met mooi oë. Uiteindelik sê die Here: “Dis die regte een. Salf hom.”
1SAM 16:13 Terwyl Dawid daar tussen sy broers staan, neem Samuel die olie wat hy saamgebring het en gooi dit uit op Dawid se kop. Van toe af het die Gees van die Here kragtig in hom gewerk. Daarna het Samuel na Rama toe teruggegaan.

Hoe nou gemaak?
Daar is die skaapwagter wat die nuwe koning van Israel moet word doer vêr in die veld op die vlaktes van Israel by sy skape.
Hoe gemaak om hom daar in die paleis te kry waar hy deur die mense raakgesien kan word?
Wel, vir ons almagtige alwetende God is dit natuurlik nie ‘n probleem nie.
Sy Gees het Saul verlaat en soos almal vir wie ons Here se Gees verlaat het, is daar ook nou in Saul se binneste ‘n leemte en satan se bose geeste verdruk mekaar om die geleentheid te kry om van hom besit te neem en soos ons ook in die geskiedenis van Job in JOB 1:8 en verder sien, kan satan net doen dit wat hy deur ons Here toegelaat word.

So, ons Here laat ‘n gees wat die ongehoorsame Saul gaan teister toe, om die leemte in sy binneste te vul, sodat dit die volgende gevolge kan hê:

1SAM 16:15-19  

15 Toe sê sy amptenare vir hom: “Dis duidelik dat ’n bose gees deur God gestuur is om u te teister.
16  Laat ons iemand kry wat goed op die lier kan speel. Wanneer die bose gees u lastig val, sal die musiek u kalmeer sodat u gou weer beter sal voel.”
17  “Goed,” sê Saul. “Soek iemand wat goed kan speel en bring hom na my toe.”
18  Een van Saul se amptenare sê toe vir hom: “Ek het ’n seun van Isai uit Betlehem teëgekom wat goed kan speel. Hy is dapper en ’n goeie vegter. Hy is goed met woorde en ook aantreklik. Die Here is met hom.”
19  Saul het boodskappers na Isai toe gestuur en gesê: “Stuur jou seun Dawid, die skaapwagter, na my toe.”

En soos hulle sê:
“Die res is geskiedenis.”

Met my menslike verstand sal ek nooit eens probeer om te verstaan hoekom ons Here werk en dinge toelaat soos wat Hy werk en toelaat nie, maar as iemand wat Jesus Christus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker, is daar drie beginsels in kind van God wees, wat hierdie spesifieke sy van ons godsdiens aanbetref wat ek goed verstaan, omdat ons Here dit so duidelik vir ons, Sy kinders, in Sy Woord laat skryf het.

Die eerste is, dat gehoorsaamheid aan ons Here een van die hoogste prioriteite in my lewe moet wees:

1SAM 15:22  Maar Samuel antwoord: (en hy praat met die ongehoorsame koning Saul).
“Wat verkies die Here:
Brandoffers of gehoorsaamheid?
Gehoorsaamheid is beter as offers;
om te luister is beter as die vet van ramme.
1SAM 15:23  Opstandigheid is net so ’n oortreding soos waarsêery,
en hardkoppigheid is net so ’n sonde soos afgodery.
Omdat jy die Here se woord verwerp het,
het Hy jou (dit is Saul) as koning verwerp.”

Die tweede is, dat ons Here is God Almagtig en ek Sy skepsel, om dit so te stel, bevraagteken nie Sy doen en late nie:

ROM 9:20-22 
20 O mensekind, sit jou hand op jou mond! Wie is jy om God te kritiseer! Kan die produk van iemand se handewerk vir sy vervaardiger sê: “Hoekom het jy my juis só gemaak?”
21  As ’n pottebakker byvoorbeeld kleikruike maak, is dit nie sy volste reg om uit dieselfde klei ’n sierkruik én ’n vullisbak te maak nie?
22  Net so het God ook die volste reg om die voorwerpe van sy oordeel, wat vir ondergang gereedgemaak is, nog met groot geduld te verdra sodat Hy uiteindelik sy oordeel en sy mag bekend kan maak.

Die derde beginsel wat hierdie saak aanbetref, wat ons Here vir jou en my pragtig uiteen gesit het, sodat ons nie dieselfde pad as Saul hoef te loop nie.  Is die volgende:

EFE 6:11  Om staande te bly teen die listigheid van die duiwel moet julle God se gevegstoerusting aantrek.

Dan noem Paulus in vers 12 ‘n paar soorte bose geeste wat gereed staan om ons aan te val, of van ons besit te neem:

EFE 6:12  Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose regeerders en maghebbers, teen die geeste wat heerskappy in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes.

Dan, vanaf vers 13 en verder gebruik Paulus beeldspraak en noem hy die vereistes en beginsels wat in ons lewens gestalte moet kry as ons teen satan se bose geeste staande wil bly en hulle oorwin:
 

EFE 6:13-18 
13 Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek.
      Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied,
      en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan.
     
14 Staan dus vas deur waarheid as ’n gordel om julle heupe te dra en
      trek God se vryspraak as borsharnas aan.
     
15 Trek die bereidheid om die Goeie Nuus van vrede te verkondig, aan soos skoene aan julle voete.
     
16 Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Daarmee kan julle al die brandpyle blus wat die Bose afskiet.
     
17  Gebruik God se verlossing as ’n helm om julle koppe te beskerm. En gebruik die swaard van die Gees, dit is God se woord.
     
18 Doen alles deur gebed en smeking. Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei. Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort.

 

Groete,
Sakkie