LAAT U WIL GESKIED – DEEL 1

LAAT U WIL GESKIED – Deel 1

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“Ek sukkel om iets te verstaan, êrens in die Bybel staan daar, dat as jy glo , jy sal ontvang, maar dat als binne die wil van God moet wees.
Iemand anders skryf ook en sê hulle bid byvoorbeeld vir ‘n kind wat siek is en dan gaan die kind tog dood.
‎Ek kan nie geloof hê, as ek nie seker is of dit in God se plan is nie,
Hoe kan ek weet dit waarvoor ek bid is in God se plan?’

Ek wil dan begin deur die volgende 3 gedeeltes uit die Woord met jou te deel en alles wat ek nou met jou gaan deel, onthou deurentyd, dat ek hierdie 3 gedeeltes as my maatstaf gebruik in my denke oor hierdie saak en dat hierdie 3 gedeeltes natuurlik ook deur die res van ons Here se word gerugsteen word.

Ons lees:

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Dan lees ons verder:

ROM 9:20  O mensekind, sit jou hand op jou mond!  Wie is jy om God te kritiseer!  Kan die produk van iemand se handewerk vir sy vervaardiger sê: “Hoekom het jy my juis só gemaak?”
ROM 9:21  As ’n pottebakker byvoorbeeld kleikruike maak, is dit nie sy volste reg om uit dieselfde klei ’n sierkruik én ’n vullisbak te maak nie?

Dan ook die volgende gedeelte:

1JOH 5:14  Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister.
1JOH 5:15 As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, toestaan.  (soos wat dit volgens Sy wil is.)

Ek het al vir baie mense in my lewe gebid waar ons Here volgens ‘n mens se maatstaf nie geantwoord het nie.  Dit wil egter nie sê dat ons Here nie geantwoord het nie.  Dan het ek al vir mense gebid waar ons Here volgens ‘n mens se maatstaf geantwoord het.

Ek met my menslike verstand het nie ‘n verklaring hoekom ons Here handel soos Wat Hy op my gebede gehandel het nie maar hoekom sal ek my met vrae  hieroor bemoei, as die Almagtige Alwetende, my Skepper, Verlosser en Saligmaker  vir my in Sy Woord sê:

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Ja, ek weet daar is mense, sommige is hoog geleerde sielkundiges  en sommige is daarby ook teoloë wat sê jy mag maar vrae vra, maar ek persoonlik het so ver ek kan onthou, van my bekering af, nog nooit die behoefte gehad om te vra “hoekom” nie maar dan, hoekom sal ek so iets doen, as Hy klaar vir my gesê het, dat net die heel beste vir my gaan gebeur.   En wie is ek in elk geval om na God te kyk en te vra:
“Waarom?”

ROM 9:20  … Kan die produk van iemand se handewerk vir sy vervaardiger sê: “Hoekom het jy my juis só gemaak?”  (of toegelaat dat hierdie of daardie in of met my lewe gebeur?)

In hierdie skrywe gaan ek uit van die veronderstelling, dat ek deel met mense van die eenkant van die spektrum, van mense wat glo dat Jesus God is wat mens geword het, tot by die anderkant van die spektrum van mense wat werklik ‘n diep liefdesverhouding met Jesus Christus het.

Ek skryf nie hierdie gedagte uit die Woord aan byvoorbeeld ‘n ateïs nie, gewoon omdat ek nie met iemand oor ons Here kan gesels, as die persoon nie eens in die eerste plek glo dat ons Here bestaan nie.
Persoonlik redeneer ek net met ‘n ateïs as ons redeneer of daar ‘n God is.
Oor hoekom God só of só maak, mors ek nie my tyd nie, gewoon omdat ek net my tyd gaan mors om oor God te praat as hy nie eens glo dat daar ‘n God is nie.
Wat is die nut tog om met iemand oor byvoorbeeld die prag van die Voortrekkermonument te praat, as hy om te begin nie eens glo, of wíl glo dat daar ‘n Voortrekkermonument is nie.  Dit is mos om my energie en kosbare tyd te mors.

Nou goed.
Die eerste wat ek altyd behoort te onthou as ek bid, is dat ek altyd moet bid en dit dan bedoel en glo.

Wat bedoel ek behoort deel van my gebed te wees wat ek werklik moet glo en bedoel?

By geleentheid leer Jesus ons hoe om te bid en dan begin Hy so:

MAT 6:9  Bid dan soos volg:
Dan gee Hy ons ‘n voorbeeld van hoe ons moet bid maar ek kwoteer hier net dit wat spesifiek op my skrywe in hierdie gedagte uit die Woord relevant is, dat jy dit moet weet en nooit uit jou gebede behoort te laat nie en dat jy daaraan moet werk om dit werklik te glo en werklik te bedoel as jy dit bid.

Jesus sê dat ons moet bid:

MAT 6:10  … Laat u wil hier op aarde uitgevoer word soos in die hemel.

Ek hou hier van die ouer Vertaling se woorde.  Seker omdat ek met hierdie vertaling tot bekering gekom het:

MAT 6:10  … laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;

As jy in die geloof dit gebid het en dit werklik bedoel het, kan jy, soos ek die Woord verstaan, verseker weet, dat jy het gebid en wat ook al gebeur, dit is die heel beste wat ooit kon gebeur het.  Want jy is ons Here se kind en Hy sê:

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Want hoe heerlik!
Jy het gevra vir iets wat volgens Sy wil moet wees en Hy sê:

1JOH 5:14  Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. 15 As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, toestaan.  (Dit wat volgens Sy wil is.)

Dan mag Hy soms antwoord volgens wat ek nie so wou hê nie en ek mag selfs by myself wonder hoekom Hy nou juis op hierdie wyse geantwoord het maar ek sal altyd hierdie groot vrede in my hart hê –

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Een ding wat ek nié sal doen nie, is om die Almagtige Alwyse God te bevraagteken.
Want ek besef maar al te goed:

ROM 9:20  O mensekind, sit jou hand op jou mond! Wie is jy om God te kritiseer! Kan die produk van iemand se handewerk vir sy vervaardiger sê: “Hoekom het jy my juis só gemaak?”

In my volgende skrywe deel ek onder andere met jou ‘n geval waar ons Here in een geval mense se gebede nié geantwoord het nie en net daarna dieselfde mense se gebede op ‘n bonatuurlike wyse geantwoord het.

Vir nou laat ek jou met die volgende uit ons Here se Woord:

HEB 11:1  Wat is geloof dan? Dit is ’n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, (volmaak volgens Sy plan vir ons) inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, (Hy op Sy presiese volmaakte oomblik, volgens Sy wil) waar sal maak.

Groete,
Sakkie