DIE LIEFDE – DIE VERVULLING VAN DIE WET
Sakkie Parsons
Iemand vra my, wat hier op neergekom het: “As jy verkondig dat sekere dele van dit wat in die Ou Testament nie meer op ons van toepassing is nie, hoe bepaal jy wat
gaan en wat gaan nie?”
Eerstens, is die Ou Testament net so deel van die Woord van ons Here as die Nuwe Testament.
Daar is egter baie wette, byvoorbeeld seremoniële wette ens in die Ou Testament, wat na my mening nie meer op ons as Christene van toepassing is nie omdat Jesus dit vervul het en dit, na my mening, behels grootliks die Wet van Moses.“.
Omdat ons die Heilige Gees gelukkig inwonend in ons het en na Hom luister en wanneer ons dan die Woord in geheel lees, verstaan ons dat die Ou Testament die beloftes van Christus bevat en die Nuwe Testament met Christus se koms die vervulling daarvan is en dat Jesus Christus vir ons ‘n nuwe Verbond/Testament gegee het.“
Soos jy aan dit wat ek aan jou gaan stuur, sal sien – omdat ons Here met ons, Sy kinders, ‘n Nuwe Verbond gesluit het – is dit vir my persoonlik ‘n maklike maatstaf, dat die dinge wat in die Ou Testament geskryf staan wat ons moet, of nie moet doen nie, en wat nié in die Nuwe Testament ondersteun/onderskryf word nie, nie op ons van toepassing is nie.
Want jy sien:
GAL 4:4 Maar toe, op die regte tyd, het God sy Seun gestuur. Hy is uit ‘n vrou gebore, onder die wet,
GAL 4:5 sodat Hy hulle wat onder die wet is, kan vrykoop. Ja, sodat ons tot kinders aangeneem kan word.
HEB 8:13 Deur van ‘n nuwe verbond te praat het God die vorige een as uitgedien verklaar. En wat uitgedien is en steeds nog verder verouder, staan gereed om heeltemal afgeskaf te word.
Ek gee net ‘n paar voorbeelde om te demonstreer wat ek bedoel as ek sê dat die Wet van Moses, nie op ‘n Christen van toepassing is nie.
Terwyl jy dit lees, moet jy deurentyd in gedagte hou dat die Woord ons leer, soos ek jou sal wys, dat indien jy een van die wette van Moses oortree, jy al die wette van Moses oortree het.
Anders gestel – Wanneer jy een van die wette van Moses op jouself van toepassing maak, is jy verplig om al die wette van Moses op jouself van toepassing te maak:
EXO 21:29 As dit al vantevore gebeur het dat die bul mense probeer doodmaak het, maar die eienaar het niks daaraan gedoen nie, moet die eienaar saam met die bul doodgegooI word.
LEV 20:27 “Mans en vroue onder julle wat hulle besig hou met geeste of beswerings moet gestenig word. Hulle is skuldig aan ‘n baie ernstige oortreding.”
LEV 12:2-5
2 Wanneer ‘n vrou swanger word en geboorte skenk aan ‘n seun, sal sy vir sewe dae onrein wees, net soos gedurende haar menstruasie.
3 Op die agste dag moet die seuntjie besny word.
4 Daarna moet die vrou vir nog 33 dae wag totdat sy ophou bloei ná die geboorte. Gedurende die tyd van suiwering mag sy aan niks raak wat heilig is nie. Sy mag ook nie na die heiligdom toe gaan totdat die tyd van suiwering verby is nie.
5 As ‘n vrou geboorte skenk aan ‘n dogter sal sy vir twee weke lank onrein wees, net soos gedurende haar menstruasie. Daarna moet die vrou vir nog 66 dae wag totdat sy na die geboorte opgehou het om te bloei.LEV 20:10 “As ‘n man egbreuk pleeg met ‘n ander man se vrou, moet beide die man en vrou doodgemaak word.
Glo my, ek kon nog baie ander voorbeelde ook gegee het.
Soos ek gesê het – Wat sekere van die mense wat sekere gedeeltes uit die Wet van Moses op hulleself van toepassing maak, skynbaar vergeet, maar wat die meeste mense met ópset nalaat om te verkondig – omdat dit vir hulle oor die een of ander rede voordelig is om net sekere dele van die Wet van Moses op hulleself en hulle volgelinge van toepassing te maak – is die volgende:
JAK 2:10 Julle weet mos: iemand wat al die gebooie onderhou behalwe één, is net so skuldig as iemand wat ál die gebooie oortree.
JAK 2:11 Want dieselfde God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy dan nou aan jou huweliksmaat ontrou is, maar tog moord pleeg, het jy mos al die gebooie oortree.
Dit geld natuurlik ook anders om. Indien jy een deel van die Wet van Moses op jouself van toepassing maak, is jy verplig om die hele Wet van Moses op jouself van toepassing te maak.
My groot held Paulus verduidelik dit so aan die Christene destyds, wat geglo het dat al is jy ‘n Christen, moet jy jou nog laat besny:
GAL 5:3 Ek sê dit weer: Elkeen wat besny word, is verplig om die hele wet na te kom.
GAL 5:4 Julle wat deur God vrygespreek wil word deur die wet te onderhou het julle van Christus losgemaak. Julle het God se onverdiende goedheid (genade) verbeur.
Om dan op te som:
Die Wet van Moses en al sy insettinge, was vir die Jode.
En die Liefdeswet van Christus is vir my en jou en al Sy ander dissipels:
MAT 22:36-40
36 “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”
37 Jesus se antwoord was: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’
38 Dit is die eerste en belangrikste opdrag.
39 Die tweede, ewe belangrike opdrag is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’
40 Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee hoof gebooie.”
Daarom kon my groot held Paulus as volg skryf:
ROM 13:9 “Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgesom in hierdie een groot opdrag: "Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself."
ROM 13:10 Die liefde doen niemand kwaad aan nie. Daarom voldoen die liefde aan al God se vereistes.
Die volgende dagstukkies wat ek geskryf het, kan help om hierdie sienswyse van my nog beter te verduidelik en ek stuur dit op aanvraag met die grootste liefde aan jou:
• Hoe heerlik! Jy en ek is vry. Kom ons Wandel met hierdie vryheid in die weë van ons Here.
• Die wet deur Moses en die genade en waarheid deur Jesus.
• Wie volop saai, sal ook volop maai.
• God het ‘n blymoedige gewer lief.
Groete,
Sakkie