OM CHRISTUS ONTWIL

OM CHRISTUS ONTWIL

Sakkie Parsons

Iemand vra my die volgende:

“Wat bedoel mense as hulle in gebed sê:  ‘Om Christus ontwil’?  Staan dit in die Bybel dat mens so moet bid?”

Hier in baie kort is hoe ek dit verstaan:

“Om Christus ontwil,” is in ander woorde: “Ter wille van Christus.”

Ter wille van Christus vir wat Hy op Golgota gaan doen het, sodat ons nou in heerlike groot vrymoedigheid self na God almagtig kan gaan en met Hom oor dit gesels waaroor ons met Hom wil gesels.

JOH 14:6  Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.”

Hoe heerlik dat die voorhangsel van bo tot onder geskeur het!:

MAT 27:50-51
50 Maar Jesus het weer baie hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.
51 Op daardie oomblik het die swaar gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo tot onder. Die aarde het gebewe en die rotse het uitmekaargebars.

Op die ander gedeelte van jou vraag of ons so iets in die Woord vind, deel ek byvoorbeeld met jou die volgende:

2KOR 5:20-21
20  Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.
21  Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

In die NLV lees hierdie gedeelte as volg:

2KOR 5:20-21
20 Ons tree op as ambassadeurs vir Christus terwyl God deur ons ’n appèl aan julle rig. Ons smeek julle ter wille van Christus: Kom tot versoening met God!
21  God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons hegte verhouding met Christus, deur God vrygespreek kan word.

JESUS CHRISTUS – die Naam bo alle ander name:

EFE 1:20-22
20 Toe God Christus uit die dood opgewek het en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het. 

21 Nou is Christus hoog verhewe bo alle magte en kragte wat daar in die hemel en op die aarde is. 
Hy is nie net hoog verhewe bo enigiemand in hierdie wêreld nie, maar ook in die wêreld wat kom.

22 God het alle dinge onder sy beheer gestel en Hom ook as Hoof van alles aan die kerk gegee.

Hoe wonderlik wanneer ons dan bid:

“Ek vra dit in die naam van Jesus.”

Vir my byvoorbeeld is dit om vir ons Here in ons eie woorde natuurlik met die volgende bedoeling te sê:
 

“Here, ek kom na U toe met die gesag van Jesus.  Die gesag en reg wat Hy my deur Sy liefdevolle genade gegee het om self na U te kom.”

Want, en ook weer verwys ek terug na die Voorhangsel wat van bo tot onder geskeur het en ons, Jesus se dissipels, nou self toegang tot die Allerheiligste het en self met ons Here byvoorbeeld oor ons sonde mag praat.  Iets wat die mense onder die Mosaïese wet in die Ou Verbond natuurlik nie mag gedoen het nie.  Tensy ons Here self eerste met hulle gepraat het.

Kom ons dank ons Vader vir Sy enigste Seun Jesus Christus – ons Redder en ons Here in wie se Naam ons kan bid:

EFE 5:20 Sê altyd in die Naam van ons Here Jesus Christus vir God die Vader dankie vir alle dinge.

Groete,
Sakkie