EK HET DIE GOEIE STRYD GESTRY, EK HET DIE WEDLOOP VOLTOOI, EN EK HET GELOWIG GEBLY

EK HET DIE GOEIE STRYD GESTRY, EK HET DIE WEDLOOP VOLTOOI, EN EK HET GELOWIG GEBLY

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra:

“Kan jy my sê hoe Paulus gesterf het?”

Oor Paulus sou ek maklik ‘n boek kon skryf.

Nou ek weet die persoon het my gevra hoe Paulus dood is maar ek sou eers graag iets oor die vroeëre lewe van hierdie fenomenale man wou sê.

Ek wil begin met die volgende stelling:  Na my mening het geen mens so ‘n groot invloed op die Evangelie van Jesus en die Christendom gehad soos Paulus van Christus (soos ek hom graag noem) gehad het nie. Ek wil my verstout deur te sê dat selfs die invloed wat hy voor sy bekering op die verspreiding en groei van die Evangelie van Jesus Christus gehad het, al klaar so fenomenaal gewees het dat die positiewe gevolge van sy onbekeerde optrede tot op datum nog deur geen Evangelis geëwenaar is nie.

Dit gesê is dit volgens my denke, nie eens te betwyfel dat dit wat hy na sy bekering, onder leiding van die Heilige Gees tot stand gebring het, hy, om dit
so te stel, heeltemal in ‘n klas van sy eie is.

Laat ek eers verduidelik wat hy met ‘n bietjie hulp van sy volksgenote voor sy bekering gedoen het om die Evangelie van Jesus Christus te bevorder.

Jesus se bevel aan Sy dissipels, met ander woorde ook aan jou en my was en is:

MAT 28:18-20
18 Jesus kom toe nader en sê vir sy dissipels: "God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou.
19 Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis."

Kyk wat het in werklikheid daar aan die begin toe gebeur:
Jesus het uit die dood opgestaan en aan baie, baie mense verskyn en is toe opgeneem in die Hemel.
Duisende mense het tot bekering gekom. By geleentheid omtrent 3000 op een dag. Hulle het te heerlik in hulle gemaksone by mekaar en vir mekaar gelewe en kerk gehou, terwyl om hulle in die wêreld daar buite miljoene mense op die hel afstorm en dit was natuurlik nie presies soos ons Here dit bedoel het nie.  Kyk net hoe heerlik het dit met hulle gegaan:

HAN 2:41-47
41 Dié wat Petrus se boodskap aanvaar het, is gedoop en hulle het lede van die kerk geword. Hulle was so 3 000. Die eerste gemeente in Jerusalem – 'n besielende voorbeeld
42 Hulle het hulle volledig gewy aan die leer van die apostels, aan die versorging van mekaar, aan die gemeenskaplike maaltye, en aan gebede.
43 Diep ontsag het oor elke persoon gekom, en die apostels het baie wonders en wondertekens laat plaasvind.
44 Al die gelowiges het gereeld bymekaargekom, en hulle het alles wat hulle besit het, met mekaar gedeel.
45 Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.
46 Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die maaltyd van die Here gevier, en hulle kos met jubelende blydskap en in alle opregtheid geëet.
47 Hulle het God deurentyd geprys, en die goedgesindheid van die hele volk geniet. En die Here het elke dag mense wat verlos word, by hulle gevoeg.

Te heerlik om so te lewe. Dit alles was wonderlik, maar nie presies wat ons Here aan hulle gesê het om te doen nie. Hulle het die Heilige Gees inwonend in hulle gehad maar hulle moes nie net in Jerusalem bly en daar heerlik in hulle gemaksone die Evangelie uitlewe nie.  Hulle moes die Evangelie oor die hele aarde versprei:

HAN 1:8 Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel – in Jerusalem, oor die hele Judea, in Samaria, en tot in die uithoeke van die aarde."

Nou sal ‘n jong Fariseër met die naam van Saulus van Tarsus, wie se ywer geen perke ken nie, vol haat en wrewel teen die volgelinge van Jesus optree en hulle uit hulle gemaksone die hele wêreld in jaag en in sy poging om hierdie Evangelie te verwoes, hulle aste ware dwing om as sendelinge hulle God en Verlosser se bevel teenoor hulle uit te voer en hierdie Evangelie aan die hele wêreld gaan verkondig.  Ons lees die eerste keer van hierdie man se groot ywer in Handelinge 7.

Eers pas hy die mense se klere op terwyl hulle Stefanus stenig:

HAN 7:58 Hulle het hom uit die stad gesleep en hom met klippe doodgegooi. Die amptelike getuies het hulle klere uitgetrek en by die voete van 'n jong man met die naam Saulus neergesit.
HAN 7:59 Terwyl hulle besig was om Stefanus te stenig, het hy gebid: "Here Jesus, ontvang my gees."  Dan lees ons:

HAN 8:1 Saulus het saamgestem met die teregstelling van Stefanus.

Vervolging verstrooi die gelowiges

'n Hewige vervolging van die kerk in Jerusalem het daardie dag begin. Al die gelowiges, behalwe die apostels, het uitgewyk na die gebiede van Judea en Samaria.

HAN 8:2 (Godvresende mense het Stefanus begrawe en hulle het baie oor hom getreur.)

HAN 8:3 Saulus het die kerk oral probeer vernietig. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vroue laat uitsleep en in die tronk laat sit.

Hyself getuig later jare oor hierdie tyd in sy lewe as volg:

GAL 1:13  Want julle het gehoor van my lewenswandel vroeër in die Jodedom, dat ek die gemeente van God uitermate vervolg en dit verwoes het;
GAL 1:14  en dat ek in die Jodedom vooruitgegaan het bo baie van my leeftyd onder my stamgenote, terwyl ek veral ‘n yweraar was vir die oorleweringe van
my voorvaders.

Jy sien hy was nie net ‘n Fariseër nie.  Hy was een van die toonaangewende onder sy tydgenote. Hy was daar bo en steeds besig om te klim. By ‘n ander geleentheid skryf hy, om te wys dat mense wat nou as Christene op hulle Joodse agtergrond wil roem, hoe nikswerd dit waarop hulle wil roem in werklikheid is:

FIL 3:5-8
5 Ek is op die agtste dag besny.  Ek is ‘n gebore Israeliet, uit die stam van Benjamin.  ‘n Egte Hebreër!  As lid van die Fariseërs het ek streng volgens Joodse wette gelewe.
6 Ek was fanaties en het die kerk vervolg!  Wat die gehoorsaamheid aan wette betref om my saak met God reg te maak, kon niemand ‘n vinger op my lê nie!
7 Alhoewel ek hierdie menslike dinge eers as ‘n wins beskou het, beskou ek hulle in die lig van wat Christus vir my gedoen het, nou as ‘n verlies.
8 Ja, om Christus Jesus, my Here, persoonlik te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ‘n verlies beskou.  Ter wille van Hom het ek alles as verlies afgeskryf.  Ek beskou dit as gemors sodat ek Christus as wins kan verkry.

Ten spyte van al hierdie teenstand het Paulus met die hulp van ons HERE die Evangelie van JESUS verkondig en versprei:

2KOR 11:24-30

24 Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van 39 houe gekry;  

25 drie maal is ek met stokke geslaan en een keer is ek met klippe gegooi.  Drie maal het ek skipbreuk gely en een van daardie kere het ek 'n dag en 'n nag op die oop see oorleef.  

26 Ek was dikwels op reis; in gevare van riviere; van rowers; van my volksgenote; van heidene; gevare in die stad en in verlate gebiede; gevare op see en gevare onder vals mede-gelowiges.

27 Ek weet van harde werk en swaarkry, van baie nagte se wakkerbly, van honger en dors; van dikwels sonder kos te moet klaarkom, van koue en sonder klere wees.

28 Behalwe al dié dinge was daar nog elke dag die bekommernis oor al die gemeentes.

29 Watter medegelowige is swak, en ek voel nie saam swak nie?  Wie word tot struikeling gebring, en ek raak nie uitermate ontsteld nie?

30 As daar dan grootgepraat móét word, sal ek spog, maar dan veel eerder oor my swakhede.  

Hierdie Paulus van Christus het voor sy bekering gehelp dat daar in ‘n baie kort tyd duisende sendelinge uit Jerusalem die wêreld ingegaan het om die Evangelie van Jesus Christus te verkondig. Na sy bekering op die pad na Damaskus toe hy direk deur Jesus gekonfronteer was,  het ons Here aan hom die meeste van die Nuwe Testament toevertrou en dit is na my mening een van die grootste komplimente wat ons Here aan Paulus gegee het. Om te wys hoe ons Here hom met die Evangelie vertrou, was die volgende:

Die elf dissipels was almal by die Paasmaal toe Jesus die Nagmaal ingestel het maar Jesus laat nie een van hulle toe om jou en my oor die gebruik van die Nagmaal te leer nie maar Paulus is die apostel aan wie ons Here dit toevertrou om jou en my aangaande hierdie heilige sakrament te leer en hy was nie eens daar by Jesus gewees, toe Jesus die Nagmaal ingestel het nie. Jy kan dit gaan lees vanaf 1KOR 11:23.

Nou kom ek uiteindelik by die vraag aan my van hoe Paulus volgens oorlewering gesterf het.

Die eerste wat ons van moet kennis neem, is dat buiten vir Jakobus, ons nie Bybelse gegewens het van hoe die ander apostels gesterf het nie.  Daar is wel oorleweringe by monde van die vroeëre Christene van hoe die apostels doodgemaak was maar soos ek genoem het, vertel die Bybel ons net van hoe Jakobus dood is.  Ons lees van Jakobus se dood die volgende uit die Woord:

HAN 12:1 In dié tyd het koning Herodes Agrippa party van dié wat aan die kerk behoort, laat arresteer en hulle mishandel.
HAN 12:2 Hy het Jakobus, die broer van Johannes, met 'n swaard laat vermoor.

So ek wil dit net baie duidelik stel, dat wat ek nou gaan skryf, ek nie getuienis uit die Woord het nie maar dit is hoorsê van die vroeë Christene wat ek
met jou deel:

Paulus is volgens oorlewering in Rome onthoof, nadat hy eers wreed gemartel was op bevel van die bose keiser Nero.

Al wat ons, om dit so te stel in die Woord in verband met hierdie oorlewering kan bring is, dat Paulus uiteindelik in Rome in die tronk op geëindig het.

Nou deel ek gou in kort met jou hoe hy daar beland het en heel waarskynlik daar dood is. Aangesien in die Woord, nadat hy in die tronk in Rome beland het, alles wat ons van hom weet in die tronk in Rome plaasgevind het. en volgens dit wat ons in die Woord lees, daar niks verder oor my groot held Paulus van Christus bekend is nie, is dit wat ek nou met jou deel grotendeels afleidings wat ek maak maar ek kan ook met groot vrede in my hart sê dat dit ingeligte afleidings, Woord geïnspireerde afleidings is wat ek maak.

Kyk, my groot held Paulus was ‘n baie intelligente man en toe Festus aan hom vra of hy in Jerusalem sal teregstaan, het Paulus hom as Romeinse burger op die Keiser beroep.  Want hy het geweet die Jode wou meer as twee jaar gelede hom, toe hy as gevangene vervoer was, in ‘n hinderlaag laat vermoor het:

HAN 23:14-22
14 Hulle het na die priesterhoofde en die familiehoofde gegaan en gesê: "Ons het ons met 'n eed verbind om nie aan iets te proe totdat ons Paulus dood het nie.
15 Julle en die Joodse Raad moet die offisier oor duisend man laat weet dat Paulus weer voor julle gebring moet word. Julle kan voorgee dat julle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Ons is reg om hom voor sy aankoms permanent uit die weg te ruim."
16 Paulus se susterskind het egter gehoor van die hinderlaag. Hy is na die kaserne toe en het by die barakke ingekom en Paulus ingelig.
17 Paulus roep toe een van die offisiere oor honderd man en sê vir hom: "Vat hierdie jong man na die offisier oor duisend man toe, want hy het iets om aan hom te rapporteer."
18 Hy vat hom toe na die offisier oor duisend man toe en sê: "Paulus, die gevangene, het my geroep en my gevra om hierdie jong man na u toe te bring omdat hy iets het om aan u te rapporteer."
19 Die offisier vat hom toe aan die hand, gaan met hom eenkant toe en vra vir hom: "Wat is dit wat jy aan my wil rapporteer?"
20 Hy het geantwoord: "Die Jode het ooreengekom om u te vra om Paulus môre weer voor die Raad te bring, kwansuis om sy saak noukeuriger te ondersoek.
21 U moet u nie deur hulle laat oorreed nie, want meer as 40 mans uit hulle geledere lê hom voor om hom te vermoor. Hulle het gesweer dat hulle nie sal eet of drink voordat hulle hom permanent uit die weg geruim het nie. Hulle is gereed en wag nou net vir instemming van u kant af."
22 Die offisier het hom toe dié opdrag gegee: "Moenie vir iemand sê dat jy dit vir my vertel het nie." En hy het die jong man laat gaan.

Jy kan maar self die verdere verloop van daardie gebeure gaan lees. Dalk, omdat hyself ‘n Fariseër voor sy bekering gewees het en hy die Fariseërs se denkwyses goed geken het, het hy ook in hierdie tweede geval waarvan ek nou vertel, geweet in ‘n hof in Jerusalem staan hy nie ‘n kat se kans nie en dalk het hy weer gehoor dat hulle soos ‘n paar jaar vantevore, toe hy nog ‘n gevangene van Feliks gewees het, weer beplan om hom, noudat hy ‘n gevangene van Festus is, in ‘n hinderlaag te vermoor.

Hoe ook al, toe Festus, nou meer as twee jaar later, terwyl Paulus nog steeds in die tronk is oor die Evangelie van Jesus wat hy verkondig, ek glo dit was ons Here wat Festus so laat optree het, vir Paulus vra of hy in Jerusalem tereg sou staan, het Paulus hom op die Keiser beroep en daarvoor sal hy na ‘n tronk in Rome moes gaan.

HAN 25:12 Festus het die saak met sy raad bespreek en toe geantwoord: "Jy het na die keiser geappelleer; na die keiser toe sal jy gaan!"

Uiteindelik het Paulus toe in ‘n tronk in Rome beland en dit uit ‘n menslike oogpunt gesien, na ‘n veel bewoë lewe is die laaste woning van Paulus hier op aarde waarvan die Woord ons vertel. Hy is heelwaarskeinlik soos die oorlewering dit wil hê, daar onthoof.

Hierdie Paulus van Christus, eers ‘n moordenaar van Christene, toe die grootste apostel van alle tye, sit as ‘n ou man in ‘n tronk in Rome en wag vir sy teregstelling omdat hy die Evangelie van Christus verkondig het.

2TIM 4:6 Wat my betref, word my lewe alreeds uitgegiet as 'n offer aan God. Die tyd van my dood is op hande.

Dan skryf hy en ‘n mens voel om uit te roep: “Wat ‘n lewe en wat ‘n getuienis!” Ja, terwyl hy, jy kan maar sê, aste ware die voetstappe van die laksman hoor nader gestap kom, skryf hy:

2TIM 4:7 Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly.

Hoe wonderlik sal dit nie wees nie, as jy en ek ook aan die einde van ons lewens hier op aarde dit kan uitjubel:

"Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly!"

Groete,
Sakkie