DIE GEES VAN GOD WAT IN ONS WOON
Sakkie Parsons
Iemand het my gevra wat die verskil is waarop God se Gees in die Ou-Testamentiese tyd met die mens gedeel het en die manier wat God se Gees nou met ons deel.
God, soos jy weet, was maar altyd daar en omdat Hy Gees is, was Hy as Gees altyd daar.
GEN 1 :1 In die begin het God die ganse heelal gemaak, die hemel daarbo en die aarde hieronder.
GEN 1:2 Maar die aarde was ‘n vormlose, onbewoonbare massa, en die diep waters was toegevou in duisternis. Tog het die kragtige, skeppende Gees van God oor die oppervlakte van die water gesweef.
JHN 4:24 God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom in ‘n hegte verhouding met die Gees en in waarheid aanbid.”
Ek verstaan dit so:
Voor die uitstorting van die Heilige Gees, het God van die mens, jy kan maar sê, besit geneem as Hy die mens wou toelaat om vir Hom iets te doen.
NUM 11:25
Die HERE het in ‘n wolk afgekom en met Moses gepraat. Hy het sy Gees wat in Moses was ook oor die 70 mans laat kom. Toe die Gees oor hulle gekom het, het hulle begin profeteer. Dit het net hierdie een keer met hulle gebeur.
Let op, God het afgekom na Moses toe, Hy was nie in Moses nie.
NUM 11:25 Die HERE het in ‘n wolk afgekom en met Moses gepraat..
Let ook op dat God op, of dan in die sewentig leiers gewees het maar nie in of op hulle gebly het nie, sodat dit wat hulle gedoen het, hulle net daardie een keer kon doen.
NUM 11:25
Hy het ook van die Gees wat Hy vir Moses gegee het, in hierdie sewentig leiers gegee. Toe die Gees op hulle kom, het hulle geprofeteer, maar dit het net daardie een keer gebeur.
Ek gee nog een voorbeeld om te demonstreer wat ek bedoel:
RIG 15:13-15
13 Hulle het hom belowe: “Ons sal jou nie doodmaak nie. Ons gaan jou net boei en aan die Filistyne uitlewer. Ons sal jou regtig nie doodmaak nie.” Hulle het hom toe met twee nuwe toue vasgemaak en hom weggeneem van die rots af.
14 Toe hy in Legi aankom, het die Filistyne gejuig en op hom afgestorm. Die Gees van die HERE het Simson sterk gemaak. Hy het die toue om sy arms gebreek asof dit garingdraadjies was wat wegbrand. Die toue waarmee hy geboei was, het van sy hande afgeval.
15 Hy het die vars kakebeen van ‘n donkie van die grond af opgeraap en daarmee het hy 1000 Filistyne doodgeslaan.
Die Ou Vertaling stel vers 14 so:
RIG 15:14 Toe hy tot by Legi kom, juig die Filistyne hom tegemoet; maar die Gees
van die HERE het oor hom vaardig geword, en die toue wat aan sy arms was, het
geword soos linnedrade wat in die vuur brand, en sy bande het versmelt van sy hande af.
Jy sien – en wat ek nou gaan sê, sê ek met groot respek teenoor ons Here maar dit is die enigste manier waaraan ek nou kan dink om te verduidelik hoe ek dit sien.
In die Ou Testamentiese tyd was God se verhouding met die mens ‘n, op ‘n afstand verhouding maar toe kom JESUS en Hy stap Golgota toe en die kruis vul die afstand tussen ons en God tot oorlopens toe.
Ek kon nou baie verse gekwoteer het om te wys hoe God nou so naby ons gekom het, dat Hy tot binne in ons kom woon het en met ander woorde, dat Hy jou eintlik een met Hom gemaak het maar ek volstaan met die volgende:
GAL 2:20 Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God. Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf.
GAL 3:26 Julle is almal God se kinders deurdat julle in Christus Jesus glo.
GAL 3:27 Almal wat deur die doop met Christus één geword het, se lewe word nou heeltemal deur Christus bepaal.
Die Ou vertaling stel vers 27 so:
GAL 3:27 want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.
Wie is hierdie Christus wie in jou en my lewe en met wie ons as te ware aangetrek is?
Wie is hierdie Jesus wat so naby gekom het, dat Hy binne en buite ons is?
JOHANNES SE BESKRYWING VAN DIE GOEIE NUUS OOR JESUS CHRISTUS
DIE WOORD HET ’N MENS GEWORDJHN 1:1-5
1 Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan. Die Woord was by God,, en die Woord was self God.
2 Hy was reeds in die begin by God.
3 Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.
4 In Hom was daar lewe, en dié lewe het gedien as die lig vir die mense.
5 Die lig verlig die duisternis en die duisternis kan dit nie uitdoof nie.JHN 14:8-9
8 Toe sê Filippus: “Here, wys ons net die Vader en dit is vir ons genoeg.”
9 Jesus antwoord hom só: “Ek is al vir só ’n lang tyd by julle, Filippus, en jy ken My nog nie? Wie My reeds gesien het, het ook reeds my Vader gesien. Hoe sê jy dan: ‘Wys ons die Vader?’
Om dan op te som soos ek dit verstaan:
In die Ou Testamentiese tyd het God se Gees, met ander woorde God op of oor die mens gekom.
Toe kom JESUS en Hy sê:
OPG 3:20 “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As jy My stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die feesete saam geniet.”
God wil nie net nou en dan oor ons vaardig word, met ander woorde so nou en dan deel van ons wees nie. Nee Hy wil so graag permanent deel van ons wees, dat Jesus nie net aan die kruis ons met Sy lewe gekoop het nie maar daarna nog by ons pleit om Hom aan te neem en toe te laat om in ons te woon om so vir ons die ewige lewe te gee.
As ek aan my God en Sy liefde dink, kan ek maar net saam met Paulus dit uit jubel:
ROM 11:33-36
33 Hoe ongelooflik wonderlik is God nie –
hoe ontsaglik ryk en wys en vol kennis is Hy nie! Sy beslissings gaan ons begrip te bowe; sy manier van doen kan ons nie deurvors nie.
34 Wie van ons kan regtig verstaan hoe God dink? Of wie sou as sy raadgewer kon optree?
35 Of wie sou ooit aan Hom ‘n guns kon bewys vir wie Hy dit sou moes vergoed?
36 Hy is die bron van alles. Alles bestaan deur sy krag, en alles is op Hom gerig. Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. Amen.
Mag dit so wees.
Groete,
Sakkie