WANNEER MENSE LELIK TEENOOR ONS OPTREE
Sakkie Parsons
Iemand skryf aan my en deel met my hoe sy deur mense se optrede teenoor haar geweldig aangeval word en hoe moeilik dit is om dan jou Christenskap uit te lewe. Toe deel sy ook met my die een en ander wat met haar gebeur.
Hier is dan hoe ek haar geantwoord het en ek is seker jy sal dit ook met vrug in jou eie lewe kan gebruik, want dit werk.
Ek dink, dat jy geweldig deur mense wat deur satan gebruik word aangeval word. ‘n Mens sou selfs kan sê, dat satan hulle gebruik om jou te kasty.
Ek noem dat satan hulle gebruik. Want jy sien, uiteindelik tree mense verkeerd teenoor ons op, omdat dit presies is wat gebeur. Die satan gebruik, eintlik, misbruik hulle. So hulle is maar net sy, soms gewillige en soms onwetende werktuie.
Jou en my stryd wanneer mense so teen ons optree is eintlik teen satan en sy engele:
EFE 6:12 Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose regeerders en maghebbers, teen die geeste wat heerskappy in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes.
Ek wil die volgende voorstel, wat jy moet doen wanneer satan jou so deur mense aanval. Dit is wat ek na die beste van my vermoë probeer doen en dit werk wanneer ek dit reg kry. Ek is seker dit sal vir jou ook werk.
Daar is natuurlik tye dat satan ons onverhoeds vang en ons dan nie optree as of Jesus by ons is nie maar omdat Jesus se Heilige Gees in ons woon, ruk ons onsself gou reg, vra onmiddellik vir ons Here se vergifnis en maak dan ons brouwerk reg.
Wanneer ons egter eers geleentheid kry om oor ons optrede te besluit voor ons optree, of reageer, sê ons vir onsself:
“Dit is nie my leraar, pastoor, dominee of iemand anders vir wie ek baie respek het wat nou hier by my is wanneer ek gaan optree of reageer nie.
Dit is Jesus. So Hý sien wat ek dink en doen. Ook as Hy nou in my plek was, Wat sou Hy nou gedoen het?”
As ons dit doen, sal ons nie verkeerd gaan nie.
Onthou ook, dat ons Here nooit sal toelaat dat ons bo ons kragte deur satan versoek sal word wanneer hy ander mense so misbruik vir sy vuilwerk nie. Want Hy het vir ons laat skryf:
1KOR 10:13 Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.
Dan, as ek die Woord reg verstaan, gebruik ons Here soms ons omstandighede om met ons te spog, soos in Job se geval en ek is so lief om hierdie voorbeeld te gebruik.
Lees gou hier:
JOB 1:1 Daar was ‘n man in die land Us wie se naam was Job; en dié man was vroom en opreg en godvresend en een wat afgewyk het van die kwaad.
Kyk nou hoe spog ons Here met Job:
JOB 1:6 En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom.
JOB 1:7 Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van ‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het.
Het ons Here nie geweet waarvandaan satan kom nie?
Natuurlik het ons Here geweet waarvandaan satan kom maar ons Here wil met satan oor Job spog, Job wie natuurlik, om dit so te stel, ‘n doring in satan se vlees gewees het.
JOB 1:8 En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.
Dit klink darem vir my baie na ‘n Vader wat met een van Sy kinders spog.
Toe – nou gebruik ek my eie woorde opsommend van wat verder gebeur het en wat satan gesê en soos ek dit verstaan seker gedink het –
Toe sê satan, dat as hy met Job klaar is, sal ons Here ‘n ander deuntjie sing. Toe probeer satan en val toe lekker uit die bus uit, want ons Here het geweet hy spog nie verniet met Job nie.
Gaan lees gerus Job, veral die eerste en die laaste hoofstukke, dan sal jy sien wat ek bedoel as ek sê dat ons Here, om dit so te stel, die wêreld van iemand dink, as satan so toegelaat word om ons aan te val.
Ek weet nie hoekom dit soms so in die geesteswêreld werk nie. Ek weet net, dit werk so en omdat ek nie meer as dit nou weet nie, is dit vir my heeltemal genoeg. Want ek weet, dat niks met my, Sy kind, kan gebeur, as dit nie uiteindelik vir my beswil is nie:
ROM 8:28 En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.
Die ander heerlike groot ding van beproewings en of versoekings en ek dink dat ek nou vir sommige mense soos ‘n Jobstrooster gaan klink maar dit is tog waar – ekself het dit oor en oor in my eie lewe ervaar – is dat jy word as kind van ons Here, geestelik net sterker en sterker.
JAK 1:3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.
JAK 1:4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.
Asook:
1PET 1:6-9
6 Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge,
7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;
8 vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap,
9 en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.
Gaan lees en dink ‘n bietjie oor hierdie dinge en jy sal soos ek al baie in die verlede, heerlike vrede kry. Want as jy vrede het, het jy geweldig baie.
Ek weet van miljoenêrs wat dwelms gebruik en daaraan verslaaf geraak het en wat selfs selfmoord gepleeg het, omdat hulle als wat die wêreld hulle kon bied gehad het maar nie die vrede van Jesus Christus in hulle lewe gehad het nie.
Omdat jy en ek egter van bogenoemde waarhede uit ons Here se Woord weet, het ons altyd, al is dit soms nie op die oomblik waar ons aangeval word vanweë ons mensheid dit in ons gedagtes nie, maar wanneer ons nabetragting hou, en ons ook soms weer vir ons Here vergifnis vir ons eie optrede moes vra, kry ons dan vrede, ons Here se wonderlike vrede.
Want ons weet dat die ewige lewe by ons Here vir ons wag, as ons ons oë stip op Jesus hou en die kortstondige lewe op aarde verby is:
JOH 5:24 “Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en wie vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe.
Dit is hiérdie wete wat vir ons die vrede gee waarmee jy en ek deur hierdie lewe gaan.
Dit is as ons aan bogenoemde en al die ander beloftes in ons Here se Woord in hierdie verband dink, dat ons, midde in ons stryd hier op aarde, waar ons soms voel as of ons nou net strompelend vorentoe beweeg, ons Jesus se groot vrede in ons hart ervaar:
JOH 16:33
Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.JOH 14:27
Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld of beangs word nie.
Groete,
Sakkie