WANT VIR MY IS DIE LEWE CHRISTUS EN DIE STERWE WINS

WANT VIR MY IS DIE LEWE CHRISTUS EN DIE STERWE WINS

Sakkie Parsons

Na aanleiding van ‘n vraag wat in die verband aan my gevra gewees het, gee ek hier in kort ‘n paar riglyne soos ek dit verstaan en beleef het en soos wat ek deur ons Here se genade nog steeds doen in alles in my lewe.
Ek moet begin deur te sê, dat dit natuurlik nooit maklik is om met iemand te deel wat die dood in die gesig staar nie.  Of, wat ‘n geliefde het wat nog net ‘n sekere tyd het om te lewe nie.
Ek gee hier net my sienswyse en ek reken ek kan met ‘n sekere mate van gesag oor hierdie saak praat, want ek het die pad in 1997 geloop, toe hulle melanoom kanker by my ontdek het en die dokter vir my en my vrou gesê het, dat as hulle nie die kanker kan keer nie, ek drie tot ses maande het om te lewe.
Een van die voordele van om ‘n goeie gidshond te hê, is dat as jy werk toe loop, hoef jy nie vreeslik baie aandag te gee oor wat om jou aangaan nie en baie oggende het ek geloop en huil terwyl ek met ons Here praat oor my omstandighede, terwyl my hond my werk toe lei.
Ek het nie gehuil oor die doodgaan nie maar omdat ek mens is, het ek gehuil oor my geliefdes en soos ek dit gestel het, die proses.
Immers het ek mos geweet waarheen ek op pad is.

FIL 1:21  Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.

So, as ‘n Christen my vra:
“Ek gaan ‘n geliefde verloor deur die dood, wat kan jy vir my sê om my en my geliefde te help?”
Of:
“Wat sê ek vir iemand wat nie meer lank het om op hierdie aarde te lewe nie?”

Ek wil begin deur te sê:
Moet nie skuldig voel omdat jy hartseer is en gebroke voel nie.
Ons Here weet hoe jy voel, Hy het ook die pad geloop, toe Sy geliefde vriend Lasarus gesterf het.

JHN 11:33-36 
33 Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel
34  en gesê: Waar het julle hom neergelê? Hulle sê vir Hom: Here, kom kyk.
35  Jesus het geween.
36  Die Jode sê toe: Kyk, hoe lief Hy hom gehad het!

Weet jy wat vir my in hierdie gedeelte so wonderlik heerlik is?
Alhoewel Jesus oor Lasarus geween het, sê Hy net ‘n paar oomblikke vroeër vir ‘n baie hartseer suster van Lasarus.

JHN 11:25-27 
25 Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;
26  en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?
27  Sy antwoord Hom: Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom.

So, al het Jesus geweet waarheen ‘n kind van God gaan as hy/sy uit hierdie lewe uittree, het Hy ook geween oor iemand vir wie Hy lief was, as die persoon uit hierdie lewe uittree.
Die antwoord van Martha aan Jesus bring my dan ook by die volgende wat ek verseker aandag aan sou gee.

JHN 11:27  Sy antwoord Hom: Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom.

Het die persoon al vir Jesus aangeneem as Verlosser en Saligmaker?

Want, dan – al huil ek en al is dit vir my ‘n verskriklik verlies, het ek die heerlik wete:
Nie net is die sterwe vir die persoon ‘n wins nie.

FIL 1:21  Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.

Hoe absoluut wonderlik die wete, dat my geliefde binnekort van al die smart, pyn en ellende verlos gaan wees en vir ewig by Jesus gaan wees.

FIL 1:23  … ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;

Onthou ook hierdie wonderlike heerlike waarheid:
Solank as wat ek lewe, is dit nooit te laat om Jesus aan te neem as my Verlosser en Saligmaker nie.

Onthou jy die moordenaar aan die kruis langs Jesus?

LUK 23:39-43 
39 En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons.
40  Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? —
41  ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.
42  En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.
43  En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.

So, al huil ek oor my groot verlies, weet ek dit is net die liggaam wat tot niet gaan, want my Jesus sê:

JHN 11:25  Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;
JHN 11:26  en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.

Jy sien:
As ek Jesus Christus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker en Hom volg, groei daardie verhouding, dat al gebeur wat ook al met my, ek het hierdie wete, wat ook hierdie heerlike berusting en vrede in my sit:
Aan die einde van die pad, is daar ‘n volmaakte begin, wat vir ewig gaan aanhou.

JHN 14:27  Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.

FIL 4:7  En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Groete,
Sakkie