JESUS – ‘N GENTLEMAN

JESUS –  ‘N GENTLEMAN

Sakkie Parsons

Toe ek besig was om stiltetyd te hou en die volgende gedeelte uit Markus gelees het, het my gedagtes so deur die Bybel gedwaal en ek wil graag met jou deel wat ons Here my pad langs gestuur het.

Eintlik sou die verhaal in Lukas beter gewees het om te lees maar dit wat in my hart gestalte gekry het, het gebeur toe ek Markus gelees het en daarom kwoteer ek uit Markus:

Jesus genees iemand met baie bose geeste

MARKUS 5:1-20
1  Hulle het toe oorkant die see in die gebied van die Geraseners aangekom.
2  Net toe Jesus uit die boot klim, het ‘n man met ‘n onrein gees Hom van die begraafplaas af tegemoetgehardloop.
3  Hy het tussen die grafte gebly.  Hy kon op geen manier beheer word nie – selfs nie met ‘n ketting nie.
4  Hy is dikwels met voet- en handboeie vasgemaak;  dan het hy die handboeie oopgeforseer en die voetboeie uitmekaar geruk.  Gevolglik kon net mooi niemand hom beheer nie.
5  Die hele tyd, dag en nag, was hy tussen die grafte en op die hoogtes aan die skree terwyl hy homself met klippe stukkend kap.
6  Hy het Jesus van veraf raakgesien.  Toe hardloop hy nader en val voor Hom neer.
7  Hy het met ‘n harde stem geskreeu:  “Los my uit, Jesus, Seun van God die Allerhoogste!  In Godsnaam, moenie my seermaak nie!
8  (Die rede hiervoor was dat Jesus alreeds vir hom gesê het:  “Onrein gees, gaan uit die man uit!”)
9  Toe vra Jesus hom:  “Wat is jou naam?”  “My naam is Legio,” antwoord hy, “want ons is baie.”
10  Daarna het die onrein geeste Jesus gesmeek om hulle nie heeltemal landuit te stuur nie.
11  Teen die heuwel was daar ‘n groot trop varke aan die wei.
12  Die onrein geeste smeek Hom toe:  “Stuur ons in die varke in.  Laat ons in hulle invaar.”
13  Jesus het hulle dit toegelaat.  Die onrein geeste het uit die man gegaan en in die varke in.  Die trop van omtrent 2 000 hardloop toe teen die skuinste af die see in, waar hulle versuip het.
14  Hulle wagters het weggehardloop en die nuus in die dorp en op die plase gaan vertel.  Daarop het die mense gekom om self te sien wat gebeur het.
15  Toe hulle by Jesus kom en die man wat die menigte bose geeste gehad het daar sien sit, behoorlik aangetrek en by sy volle positiewe, was hulle verskrik.
16  Die mense wat dit gesien het, vertel toe vir hulle wat met die besetene en die varke gebeur het.
17  Hulle het vir Jesus gesoebat om uit hulle omgewing weg te gaan.
18  Toe Jesus weer terug was in die boot, het die man wat voorheen besete was, Hom gesmeek om saam met Hom te mag gaan.
19  Jesus het egter vir hom gesê:  “Nee, gaan huis toe na jou mense toe.  Vertel vir hulle wat die Here vir jou gedoen het, en hoe goed Hy vir jou was.”
20  Hy het wyd en syd in die Tien Stede-gebied gaan vertel wat Jesus vir hom gedoen het.  En almal was verwonderd oor wat hy aan hulle vertel het.

Die eerste ding wat my hierdie keer getref het toe ek die gedeelte gelees het, is dat Jesus niks sê of doen, toe hulle Hom smeek om uit hulle gebied weg te gaan nie (MRK 5:17-18)

Hier het ons nou ‘n klassieke geval van:
“Stank vir dank.”
Hy kom los ‘n groot bose probleem vir hulle op en hulle vra Hom, om asseblief tog Sy ry te kry en Jesus die “Gentleman,” vaar nie teen hulle uit nie.  Nee, Hy respekteer hulle wense en dit wat hulle wil, en Hy klim in die skuit.

Jy sien – dit is vir my presies ons Here se geaardheid.    Hy is ‘n “Gentleman.”
Hy wil so graag hê dat alle mense moet Hemel toe gaan, dat Hy aan ‘n kruis gaan hang het om dit vir ons moontlik te maak, maar Hy gaan niemand dwing om Hom aan te neem as Verlosser en Saligmaker nie.

As hulle vir Hom sê om te gee pad, wel dan sal Hy gee pad.  Hy gaan nie Homself of Sy evangelie op hulle af forseer nie maar omdat Hy ‘n “Gentleman” is en weet dat hulle nou in hul onkunde verskriklik droogmaak, gaan Hy hulle nie sommer so vir satan los nie.
Kyk net wat gebeur nou:

MRK 5:18  Toe Jesus weer terug was in die boot, het die man wat voorheen besete was, Hom gesmeek om saam met Hom te mag gaan.

MRK 5:19  Jesus het egter vir hom gesê:  “Nee, gaan huis toe na jou mense toe.  Vertel vir hulle wat die Here vir jou gedoen het, en hoe goed Hy vir jou was.”

Jesus los die mense nie vir die satan nie.  Hy los die mees bekwame man, die man wat die beste toegerus is, om hulle die pad terug na Jesus, met ander woorde die pad na die ewige lewe te wys.
Kyk gou na hierdie man se kwalifikasie –
Lukas stel dit so:

LUK 8:35  Daar het gou ‘n skare rondom Jesus vergader, want hulle wou self sien wat gebeur het.  Hulle het die man wat voorheen van duiwels besete was, by Jesus se voete sien sit, geklee en by sy volle verstand…

Ek sê altyd, dat as jy eers werklik eenkeer by die voete van Jesus gewees het, jy nooit weer die selfde kan wees as daarvoor nie.

Jesus stuur toe hierdie man terug na sy mense, (MRK 5:18-19) omdat hulle hom geken het,
om deur sy lewe en getuienis die evangelie van wie Jesus is, te gaan
verkondig.

Toe, ‘n tyd na hierdie gebeurtenis doen Jesus dit weer en weer volgens my mening soos die grootste “Gentleman” van alle tye.

Hulle spyker die Seun van God kaal aan ‘n kruis vas en Hy vervloek hulle nie. Ook vernietig Hy hulle nie.
Nee, Hy kyk so, oor die menigte wat Hom spot en  – tussen die grafte van hulle haat en woede eintlik hulleself geestelik stukkend slaan en hy sê:

LUK 23:34  Daarop het Jesus gesê:  ”Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!” …

Toe ‘n ruk later toe Hy al die bose magte van die heelal oorwin het en dit moontlik gemaak het dat ek en jy nie meer nakend in ons sonde hoef voort te ploeter tussen die grafte van ons sondige begeertes nie –
Het Hy oor die menigtes van die eeue gekyk en ook vir jou en vir my gesien
en gesê:

JHN 19:30  Toe Jesus die suur wyn proe, het Hy gesê:  “Dit is nou afgehandel!”  Toe het Hy sy kop vooroor laat val en sy asem uitgeblaas.

Tog, as ek vandag so om my kyk, wil ek amper in wanhoop uitroep:
Dit is maar weer ‘klassieke geval van:
“Stank vir dank.”
Want as ek so om my kyk na alles wat die mens doen, besef ek dat die mens maar weer vir Jesus wil wegstuur.
Gelukkig onthou ek dan daardie heerlike versekering wat Jesus vir ons gee:

OPG 3:20  “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.  As jy my stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die feesete saam geniet.”
OPG 3:21  “Elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek toelaat om saam met My op my troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon sit.

Hy staan nie voor die deur en skreeu op jou en my nie.
Hy staan ook nie aan die deur en hamer nie. 
Hy probeer jou of my met ander
woorde nie forseer nie.

Nee, Hy staan soos ‘n “Gentleman” en Hy klop en die beste ding wat ‘n mens
in jou hele bestaan vir jouself op hierdie aarde kan doen, is om die deur van
jou hart vir Hom oop te maak.

As jy dit nog nie gedoen het nie, kan jy dit nóú doen net daar waar jy nou is.
Dit is hoe maklik dit is.
Sê vir Hom – en sê dit uit jou hart uit waaraan Hy klop:

”Jesus ek maak my hart nou vir U oop.
Ek neem U aan as my God en my Verlosser.
Kom woon in my hart, want ek plaas myself van vandag af in U hand.”

As Jy dit gesê het en dit bedoel het, behoort jy nou aan Jesus Christus.
Nou moet jy ‘n herder kontak van ‘n gemeente wat Christus en Hom as
gekruisigde verkondig en hy sal jou verder leiding gee.

Groete,
Sakkie