ELKE KEER AS ONS AS ONS AS GOD SE KINDERS BID, GEBEUR DAAR IETS –
DEEL 1
Sakkie Parsons
Ek luister eendag na iemand wat die volgende stelling oor TV maak:
“All the sick in the days of the Gospels were healed.”
Dit is natuurlik nie waar nie.
Na my mening was nie eens al die mense wat siek was, wat in Jesus se onmiddellike teenwoordigheid gewees het genees nie maar hieroor sal ek by ‘n later geleentheid meer sê.
My gedagtes gaan toe terug na ‘n hele paar ondervindings wat ek oor die jare self belewe het en ek dink toe so:
Mense kan so maklik deur onkundige en soms deur oorywerigheid die domste dinge kwytraak en omdat ons hier te doen het met mense en die evangelie van Jesus, kan daar groot skade gedoen word.
So, ek probeer op my manier deur met jou te deel wat ek beleef het, hierdie soort skade teë te werk maar ek is bevrees dit is te veel vir een e-pos, so ek gaan dit oor twee e-posse versprei.
Ek herinner my byvoorbeeld aan ‘n diens wat deur ‘n groot prediker gelei gewees het en toe op die uitnodiging, dat daar vir siekes gaan gebid word, kom daar ‘n man in ‘n rystoel na vore. Toe die prediker klaar vir hom gebid het, sê hy vir die man in die rystoel om op te staan en toe die man dit nie kon doen nie, sê die prediker vir die arme man ten aanhore van ons almal in die omgewing: “Jy het nie genoeg geloof nie.”
My gids sê toe vir my, dat die absolute verslaentheid waarmee die gestremde man die prediker agterna gekyk het, terwyl die prediker vir die volgende persoon gaan bid het, was hartverskeurend.
Toe ek later weer aan daardie gebeurtenis dink, het ek gewonder oor die man in die rystoel.
Miskien was dit die eerste keer wat hy ooit in ‘n kerk gekom het en miskien as gevolg van die ondervinding wat hy gehad het, was dit ook die laaste keer wat hy ooit in ‘n kerk gekom het.
As ek byvoorbeeld onbekeerd gewees het en ek kom vir die eerste keer in ‘n kerk waar daar vir my gebid word en daar was so teenoor my opgetree, sou dit dalk die laaste keer gewees het wat ek ooit in die kerk of enige ander kerk gekom het. Veral as ek iemand met ‘n skugter geaardheid gewees het.
Jesus sê by geleentheid vir Sy dissipels.
MRK 11:22 Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê.
MRK 11:23 Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see—en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur—hy sal verkry net wat hy sê.
Jy sien, dit is nie sommer net vir bid nie.
As ek vir iemand bid moet ek glo en ek moet sorg dat my verhouding met God reg is en dit sluit my verhouding met die mense om my in.
Jesus sê dat as ek as Sy kind bid, gaan dit nie net om geloof nie, daar is nog iets wat bykom:
MRK 11:25 En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe.
MRK 11:26 Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie. (Sien voetnota)
Dalk verhoor God my gebed nie, omdat ek nie genoeg geloof het nie.
Dalk verhoor God nie my gebed nie, omdat daar sonde is wat ek doen en nog nie van ontslae geraak het en God se vergifnis gevra het nie.
As my saak met my Vader reg is en ek as kind van God bid tot Hom, sal daar altyd iets gebeur, al is dit wat gebeur in my oë ook niks, dan weet ek die beste ding vir my, Sy kind, het nou net gebeur.
Een ding wat ek nooit moet doen, veral as ek vir iemand bid wat dalk nie gelowig is nie, of dan nie so gelowig soos ek is nie. Ek moet nie sommer goedsmoeds maak of dit nou daardie persoon se skuld is, as dit vir my lyk of God my nie antwoord nie.
Ten eerste omdat dit verkeerd is, om soos hulle in Engels sê: “To pass the buck.”
Ten tweede, omdat dit nie noodwendig ‘n fout van my of enige iemand anders is, as dit vir my lyk of God my nie antwoord nie.
Die feit dat dit vir my lyk of daar nie ‘n antwoord is nie, is nie te sê dat daar nie ‘n antwoord was nie.
Immers, as kind van God weet ek verseker:
ROM 8:28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.
Vir my persoonlik is dit verseker ook ‘n antwoord van ons Here af, as dit lyk of daar
nie ‘n antwoord is nie.
Jy sien ek weet verseker dat my Vader nooit vir my Sy kind vir wie my Jesus aan die
kruis gesterf het, deur stilswye sal ignoreer nie.
Omdat ek wat sleg is, dit nooit sal doen nie, is dit vir my heeltemal ondenkbaar dat my Vader in die Hemel dit sal doen.
MAT 7:11 As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!
Om dan net weer op te som:
Ons Vader reageer nie altyd wanneer en soos ons wil hê dat Hy moet reageer nie – maar Hy reageer altyd maar áltyd as Sy kinders tot Hom roep, ook as ons vir ander mense bid en Hy reageer altyd met goeie dinge.
MAT 7:11 … hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!
Een ding weet ek verseker! Daar sal altyd iets gebeur as God se kinders tot Hom bid.
MAT 7:7 Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.
MAT 7:8 Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.
Daar sal altyd gegee word maar miskien nie presies wat ek wou hê nie.
Ek sal altyd vind maar nie altyd wat ek wou vind nie.
Daar sal altyd ‘n deur oopgemaak word maar nie altyd die deur wat ek wou oop hê nie.
Ek het egter altyd hierdie sekere heerlike wete:
MAT 6:8 … want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.
Daarom jubel ek dit saam met die profeet uit:
HAB 3:17-19
17 Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie—
18 nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.
19 Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes.
Voetnota: : Die hart vol vergewensgesindheid sal ander vergewe. As ons harde, onvergewensgesinde harte het, bestaan daar twyfel of ons ooit die vergifnis wat God ons bied ontvang of waardeer het.
i. "Dit is nie 'n arbitrêre weiering deur God om ons te vergewe nie. Ons het in ons eie onvergewensgesinde gees dit vir onsself onmoontlik gemaak om die vergifnis wat vrylik deur God aangebied word te aanvaar aangesien ons weier om die enigste houding aan te neem waarin dit toegeëien kan word." (S J Cole)
Groete,
Sakkie