MOET NET NIE GAAN STAAN NIE

MOET NET NIE GAAN STAAN NIE

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en so tussen die lyne het ek gelees, dat die persoon nie lekker voel oor die feit dat hy/sy so baie sondig nie.

Ja, ons almal struikel dikwels en dit kan nooit goed gepraat word nie maar gelukkig lees ek ook in die Woord:

HEB 4:14-16 
14 Ons het dan nou ‘n groot Hoëpriester wat deur die hemele beweeg het, Jesus die Seun van God.  Laat ons voortdurend aan ons geloofsbelydenis aangaande hierdie Jesus vashou.
15  Hierdie Hoëpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy moes presies dieselfde versoekings as ons trotseer – behalwe dat Hy nie voor die sonde geswig het nie.
16  Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God.  Hy sal aan ons Sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word.

ROM 3:23  Ons het immers almal gesondig.  Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom.
ROM 3:24  Maar nou spreek God ons in sy onverdiende goedheid vry op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het – en dit sonder enige verdienste van ons kant.

1JOH 1:9 As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede.
1JOH 1:10 As ons beweer dat ons tot nou toe nie gesondig het nie, maak ons Hom tot ‘n leuenaar.  Dit beteken ook dat sy woord nie in ons lewe plek gekry het nie.

Ek mag natuurlik nooit maar nooit aanvaar dat sonde, of dan ‘n spesifieke sonde maar iets is waarmee ek moet saamlewe nie.

Ek moet van my kant af voluit en aanhoudend daaraan werk om van die sonde en dan veral die sonde in my lewe wat eintlik ‘n gewoonte sonde geword het, ontslae te raak.

Ook as ek swaar tye beleef, is dit nie lekker nie maar ook dit is nie onverwags
of ‘n verrassing nie, want ek weet immers dat daar geskryf staan:

JOH 16:33 Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan
      vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed:
      Ek het die wêreld reeds oorwin.”

Ek persoonlik – omdat ek blind is – het nie hierdie of daardie wat ander mense het nie.
Ek kan weens my omstandighede nie hierdie of daardie doen wat ander mense kan doen nie – maar omdat ek weet waarheen ek op pad is, al gaan dit soms strompelend en struikelend – het ek hierdie heerlike groot, groot vrede.

JOH 14:27  Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.

In die dae toe ek nog aan marathons deelgeneem het, het ek altyd vir my “pilot” wat my gelei het gesê as ons moeg word:

Moet net nie gaan staan nie, want dan word jy styf.  Loop as jy moet – maar as jy gaan staan, is dit geweldig moeilik om weer aan die gang te kom.”

So, ek word elke môre wakker, staan op, gryp die kruis wat ek gegee is om te dra en
storm die dag in wetend, dat ek op my pad Hemel toe is en vandag is nog een dag
nader aan daardie wonderlike dag, dat ek Jesus en al my ander geliefdes gaan sien.

Dan werk ek maar weer onder die genade van ons Here kliphard aan my swakhede.
As iemand dan vir my vra:
“Hoe gaan dit?”
Dan antwoord ek:
“God is op die troon en die saak loop mooi.”
Want, al wat werklik vir my saak maak, is dat God ten volle in beheer van my lewe
moet wees.

HEB 12:1  Met so ‘n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ‘n houvas op ‘n mens kry.  Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê,
HEB 12:2  ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun.  Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur.  Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie.  En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!

FIL 3:12-15
12 “Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie.  Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het!”
13  Nee, liewe broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker:  ek vergeet dit wat agter my lê en strek my uit na dit wat voorlê.
14  Ek jaag na die wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee omdat Christus Jesus dit vir my verdien het.
15  Almal van ons wat dan geestelik volwasse is, behoort hierdie doel te hê.  As daar enigiets is waaroor julle nog wonder, sal God ook dít vir julle duidelik maak.

‘n Groot deel van hierdie grootse vrede wat in my is bestaan daaruit dat ek hierdie sekere wete het:

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Een ding – ek gaan nie staan sodat ek geestelik styf en kragteloos word nie.

Groete,
Sakkie