IS EENMAAL GERED ALTYD GERED?

IS EENMAAL GERED ALTYD GERED?

Sakkie Parsons

Ek wil graag oor hierdie baie belangrike onderwerp met jou deel.  Ek dink dat “eenmaal gered, altyd gered is een van die mees gevaarlikste mistastings in mense se verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus.
Is:
“Eenmaal gered, altyd gered?”

Ek sê; Nee.

Of dan, laat ek myself reg uitdruk en wat ek sê, sê ek met al die respek in my teenoor ons Here.

Ons Here sou dit graag so wil hê.  Dit is wat Hy voor die sondeval in Sy gedagte gehad het maar nou het ons ‘n eie Wil, omdat ons volgens Sy beeld geskape is en die meeste mense gebruik hulle wil vanweë die sondeval om tog maar satan hel toe te volg.

Laat ek verduidelik hoe ek dit verstaan en dan wil ek begin met iets wat Jesus vir Sy VADER gesê het:

JHN 17:12  Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word.

Sien jy wat daar geskryf staan?
Nie een van hulle wat vir Jesus gegee was het verlore gegaan nie behalwe een.
Anders gestel, net een van die 12 wat Hy spesiaal uitgekies het, wat toe vir Hom gegee was het verlore gegaan.

JHN 17:12  … Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf …

Ek het Jesus Christus aangeneem as my Verlosser en Saligmaker.  Ek is nou ‘n dissipel van Jesus.
Kom ons kyk gou na die eerste dissipels van Jesus en dan by name na die een wat die seun van die verderf geword het:

MRK 3:13-19 
13 En Hy het op die berg geklim en na Hom geroep die wat Hy wou hê, en hulle het na Hom gekom.
14  En Hy het twaalf aangestel, sodat hulle saam met Hom kon wees en Hy hulle kon uitstuur om te preek
15  en mag te hê om siektes te genees en die duiwels uit te dryf.
16  En aan Simon het Hy die bynaam Petrus gegee;
17  en verder Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, die broer van Jakobus—aan hulle het Hy die bynaam Boanérges gegee, dit is, seuns van die donder—
18  en Andréas en Filippus, en Bartholoméüs en Matthéüs, en Thomas en Jakobus, die seun van Alféüs, en Thaddéüs en Simon Kananítes,
19  en Judas Iskáriot, hy wat Hom verraai het.

Het jy gesien?
Hy het na Hom geroep die wat hy wou hê en van hulle het Hy 12 spesiaal uitgesonder en aan die 12 het Hy selfs spesiale mag gegee en Judas Iskáriot was een van hierdie 12.        
 

MRK 3:13-15 
13 En Hy het op die berg geklim en na Hom geroep die wat Hy wou hê, en hulle het na Hom gekom.
14  En Hy het twaalf aangestel, sodat hulle saam met Hom kon wees en Hy hulle kon uitstuur om te preek
15  en mag te hê om siektes te genees en die duiwels uit te dryf.

Ja, Judas Iskáriot een van die 12 het ook daardie mag gehad. 
Hy was ook aan die begin vol van ons Here en Sy krag maar êrens tussen die dag toe hy vir Jesus ja gesê het en waar hy geëindig het, het hy sy wil uit geoefen om weg van Jesus af te beweeg, totdat hy so ver van Jesus af gewees het, dat hy nie meer wou terugkom totdat dit te laat gewees het nie.

Laat ek net gou iets sê oor Judas Iskáriot en jou en my wil:

Ons is na God se beeld geskape en een van die eienskappe van God wat ons as mens het, is dat ons ‘n wil van ons eie het.
God het Sy Seun gestuur om die hele wêreld te red.

JHN 1:29  Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

JHN 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
JHN 3:17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

Alhoewel God se verlossingsdaad terwille van die hele wêreld gewees het, het Hy self geweet, omdat die mens na God se beeld geskape is, het hy ‘n wil van sy eie en omdat die meeste mense hul wil gaan uitoefen om die sondige wêreld bo God te kies, gaan die meeste mense in die hel beland.

MAT 7:13  Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.
MAT 7:14  Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.

*Een van die gedeeltes wat mense gebruik om te verkondig ‘eenmaal gered, altyd gered’ is die volgende:

ROM 8:38  “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge
ROM 8:39  of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”

In die gedeelte wat jy nou net gelees het, dek my groot held Paulus alles en almal buiten vir een – en dit is jyself. Die naaste wat hy aan jou kom is “of enige ander skepsel.“

Maar jy wie dit lees, lees van ‘n ander skepsel, jy lees nie “jyself ook nie.”
Hierdie woorde is vir elke persoon persoonlik geskryf en ek sal nie aan jou skryf en dan van jou praat as ‘n ander skepsel nie.

As ons Here jouself ook hier wou noem, sou dit mos beter gewees het om in plaas van net ”enige ander skepsel,” liewer vir ons laat skryf het in Romeine 8:39  of hoogte of diepte of jyself of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”

Alles wat hy hierbo noem, plus “enige ander skepsel” of dan mens, kan jou nie skei van God of Sy liefde nie – behalwe jy.

Ons Here sal nooit van Sy kant af iemand laat verlore gaan nie.  As ek verlore gaan, is dit omdat ek my wil uitgeoefen het om ‘n ander pad te loop.

Het jy al gewonder waarom, as dit waar is:
“Eenmaal gered, altyd gered,” sê Jesus vir ons:

MAT 24:42  Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.

Asook.

MAT 26:41  Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.

Want jy sien, die antwoord so verstaan ek dit is die volgende:

As ek nie waak en bid nie –
As ek nie in Jesus bly en aan Hom verbonde bly nie –
As ek nie die volle wapenrusting van God aantrek nie –
Gaan dit verseker gebeur, dat ek soos Judas Iskáriot later aste ware saam met Jesus aan tafel sit. Dat ek aste ware my hand saam met Syne in die skottel sal steek en vere sal voel, soos Judas Iskáriot vere gevoel het.

Daar kom ‘n tyd as ek aanhou om God se liefdevolle genade onder my voete vertrap, dat die volgende uit die Woord op my van toepassing sal word, soos wat dit op Judas Iskáriot van toepassing geword het.

Ten spyte daarvan dat hy ‘n dissipel van Jesus gewees het.
Ten spyte daarvan, dat hy onder leiding van God se Gees wonders kon doen.
Ten spyte daarvan, dat hy die Evangelie verkondig het.
Ten spyte daarvan, dat hy duiwels uitgedryf het.

HEB 6:4-6 
4 Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het,
5  en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld,
6  en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.

Het jy gesien wat jy onder andere nou gelees het?

Jy kan nie praat van “weer tot bekering vernuwe,” as daar nie in die eerste plek bekering gewees het nie.

HEB 6:6  en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.

As jy nou wonder of jy dalk al in laasgenoemde kategorie val, wil ek vir jou sê:

Wees baie bly.  Ja, spring op in die gees en jubel dit uit:
“Prys die Here!  Ek hoor nog Sy stem!  Ek kan nog omdraai!”

Want sien:
As jou verhouding met ons Here nie op hierdie oomblik goed  is nie en dit pla jou, dan hoor jy nog verseker Sy Gees jou smeek om terug te kom.

Jy is verseker nog nie, “past the point of no return” nie.
Hy smeek jou weer vandag:

HEB 3:7  Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor,
HEB 3:8  verhard julle harte nie …

Nou sê jy vir my, dat jy iets aan jou toestand wil doen maar hoe gaan jy te werk?
Ek wil graag drie dinge voorstel om mee te begin:

Eerstens, bid hierdie gebed in opregte geloof.

Here ek het U stem gehoor.
Ek kom terug na U toe.
Help my!
Ek vra dit in die Naam van Jesus.

Nou sluit jy aan by ‘n gemeente wat die hele Bybel as basis het vir sy prediking en jy raak betrokke.
Onthou ook asseblief:

MAT 26:41  Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.

Want jy sien:

1PET 5:8  Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.

Jesus sê:

JOH 15:4 “Julle moet aan My verbonde bly soos Ek aan julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as dit nie aan die druiwestok verbind bly nie, en só julle ook nie as julle nie voluit aan My verbonde bly nie.”

Ek sê weer:

Ons Here wil nie hê dat iemand verlore moet gaan nie.  Daarom is Jesus gekruisig.
 

Die keuse lê by my of ek op die nou pad gaan bly en Jesus deur die nou poort gaan volg.
 

As ek dit doen sal ek nooit verlore gaan nie.

JHN 10:27  My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.
JHN 10:28  En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

Niemand kan jou of my uit die hand van ons Here los ruk nie maar jy kan jou wil uitlewe om jouself uit Sy arms los te maak en soos Judas weg te stap hel toe.

Ek het nog meer hieroor geskryf wat jy enige tyd kan bestel en ek stuur dit met groot graagte aan jou.  Die Opskrifte is:

Kan ek as Christen my redding verloor? 
In U Boek is hulle almal opgeskrywe – dae dat alles bepaal was.
Bly in alle omstandighede op julle hoede
Pas tog op dat jy nie geestelik verongeluk nie 
Wie ‘n oor het laat hom hoor

Groete,
Sakkie