WAT BETEKEN: MAAR BUITE IS DIE HONDE? – DEEL 1

WAT BETEKEN ‘MAAR BUITE IS DIE HONDE’?  – DEEL 1

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en my, my opinie oor Openbaring 22:15 gevra en iemand anders het in een van daardie kategorieë geval en wonder of hulle nou buite gaan bly.  Nog ‘n ander persoon wil spesifiek weet wie die honde is wat in die gedeelte genoem word.
Lees net eers gou Opg 22:15:

OPG 22:15  Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.

Hier is dan hoe ek hierdie gedeelte lees en verstaan:

Dit is opsigtelik ‘n lys van mense wat hulle nié van hulle verkeerde leefwyse bekeer het nie en in hulle bose leefwyse voortploeter hel toe.

Dit moet duidelik verstaan word, dat hier nié gepraat word van mense wat towenaars, hoereerders, moordenaars ens gewees het, maar dit nié meer is nie –

Hier word van mense gepraat, wat ten spyte van die Evangelie van Jesus wat hulle gehoor het, nog steeds, of weer hierdie soort leefwyse deel van hulle lewe maak.

Die gedeelte waarvan ons praat, noem nie mense wat dit gewees hét nie.  Soos ek die Woord daar verstaan, word daar in die hede tyd gepraat.  Met ander woorde mense wat dit doen en nie, wat dit gedoen het nie.

OPG 22:15  Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.

Jy sien –
Wat ek ookal voor my bekering gewees het maak nie saak nie, ons Here dink nooit meer daaraan nie.

JER 31:34  … want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.

Lees net wat sê die Woord van iemand wat hom/haar wérklik bekeer het en in die weë van ons Here wandel:

ROM 8:1  Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.

So, ek wil dit weer beklemtoon, na my mening praat Openbaring 22:15 nie van mense wat al daardie booshede beoefen het nie maar van mense wat ten spyte van die Evangelie wat hulle gehoor het, of wat ons Here op hulle harte gelê het, nog steeds in die riool van hierdie wêreld bly voortploeter hel toe.

Vervolgens wil ek graag met jou deel oor die “honde” wat in Opg 22:15 genoem word.

Om mee te begin, het honde by die volke van destyds nie dieselfde, om dit so te stel, status gehad wat honde vandag het nie.
Die Israelitiese gesinne het nie normaalweg honde aangehou nie en mense het min of niks van honde gedink, of van honde gehou nie.  As iemand jou met ‘n hond vergelyk het, was jou aansien in die persoon se oë, om dit baie lig te stel, maar baie laag.  Ek kon baie voorbeelde uit die Woord genoem het maar omdat hierdie skrywe reeds ‘n bietjie lank gaan wees volstaan ek met die volgende:
Dawid laat haal vir Mefibóset, Jonatan se seun wat kreupel was om by hom te kom woon en dan lees ons:

2SAM 9:6-8 
6 Toe Mefibóset, die seun van Jónatan, die seun van Saul, by Dawid inkom, het hy op sy aangesig geval en hom neergebuig. En Dawid het gesê: Mefibóset! En hy het geantwoord: Hier is u dienaar.
7  En Dawid sê vir hom: Wees nie bevrees nie, want ek sal jou sekerlik guns bewys ter wille van jou vader Jónatan en al die grond van jou vader Saul aan jou teruggee, en jy self sal altyddeur aan my tafel brood eet.
Toe buig hy en sê: Wat is u dienaar, dat u na ‘n dooie hond soos ek is, omgesien het?
Vervolgens my tweede van drie voorbeelde:

2SAM 16:7-9 
7 En dit het Símeï gesê terwyl hy vloek: Weg, weg, jou bloedvergieter en jou deugniet!
8  Die HERE het al die bloed van die huis van Saul, in wie se plek jy koning geword het, op jou laat neerkom; en die HERE het die koningskap in die hand van jou seun Absalom gegee, en hier is jy nou in jou ongeluk, omdat jy ‘n bloedvergieter is.
Toe vra Abísai, die seun van Serúja, vir die koning: Waarom moet hierdie dooie hond my heer die koning vloek? Laat ek tog oorstap en sy kop afslaan!

Nou my derde voorbeeld:

DEU 23:18  Jy mag geen hoereloon of hondeprys in die huis van die HERE jou God as enige gelofte offer bring nie; want dié al twee is vir die HERE jou God ‘n gruwel.

Die Nuwe Vertaling gebruik in plek van die ‘honde’ in Openbaring 22:15 die woord ‘onreines’ en meld dan ook in ‘n voetnota dat die Grondteks praat van honde.

OPG 22:15 Al die onreines bly buite – die towenaars, die onsedelikes, die moordenaars, die afgodsdienaars en elkeen wat die leuen liefhet en beoefen.

Hierdie onreines, sluit dan natuurlik ook die mense in wat soos Judas Iskáriot Jesus aangeneem en weer hulle rug op Hom gedraai het – En dit is dan eintlik oor daardie ‘honde/onreines’ waaroor ek met jou wil deel maar dit sal ek in deel 2 van hierdie skrywe doen.

Vir nou net nog dit:

As jy Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, vergeet jou verlede sonder ons Here – jy het nou ‘n heerlike toekoms met ons Here.

Een van, in my oë die grootste mense wat ooit gelewe het en aan wie ons Here by verreweg die grootste gedeelte van die Nuwe Testament toevertrou het, was ‘n moordenaar en wrede vervolger van ons Here se kinders en hy, dit is nou Paulus,  skryf by geleentheid:

FIL 3:14  Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.

Deel 2 volg hierop en handel oor die eerste gedeelte van die teks naamlik "Maar buite is die honde.."

Groete,
Sakkie