WANT WIE HET DIE GEDAGTE VAN DIE HERE GEKEN, OF WIE WAS SY RAADSMAN?

WANT WIE HET DIE GEDAGTE VAN DIE HERE GEKEN, OF WIE WAS SY RAADSMAN?

Sakkie Parsons

Iemand het my, my opinie oor die volgende stelling gevra. “Dit klink of God lank voor ons geboorte al besluit het of Hy ons wil hê of nie. Ongeag of ons vir of teen God kies.”

Die gedeelte wat die persoon dan aanhaal is:

ROM 9:13-18:
13  “Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.
14  Wat sal ons dan sê? Is daar miskien onreg by God? Nee, stellig nie!
15  Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.
16  So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.
17  Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde.
18  So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.”

Ek deel dan nou graag met jou wat ek vir die persoon gestuur het. ‘n Eenvoudige antwoord op hierdie stelling sal wees: God het ons almal voor die skepping reeds uitgekies.  ‘n Mens sou selfs kon sê dat God alle mense voor die skepping uitgekies het:

JHN 1:29  “Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”

JHN 1:12  “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo;

JHN 3:14-16 
14 En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word,
15  sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Nou sou ‘n mens as volg kan redeneer en jy sal verseker nie in die hel beland omdat jy so redeneer nie. Ek persoonlik is grotendeels gemaklik met hierdie redenasie. Ek is na die beeld van God geskape en deel van daardie beeld van God is dat ek nie kan doodgaan nie en dat ek ‘n wil van my eie het.

Die mens se liggaam sal tot niet gaan, maar elke mens gaan die res van sy lewe – wat vir ewig aanhou in die hiernamaals, òf in die Hel, òf in die Hemel, deurbring. God het, omdat Hy dit so wil hê, vir ons almal plek in die Hemel:

JHN 14:2  “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.”

Tog – die meeste mense gaan hel toe omdat hulle deur hulle wil, verkeerde keuses maak:

MAT 7:13  “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.
MAT 7:14  Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.”

Ek het vir jou gesê dat ek grotendeels gemaklik is met hierdie redenasie. Grotendeels, want daar staan ook geskrywe in die gedeelte wat jy vir my gestuur het:

ROM 9:15  “Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.
ROM 9:16  So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.“

Aan die een kant dus, doen God wat Hy wil, en aan die anderkant, maak ek deur my wil, keuses vir – of teen God:

DEU 30:19  “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, …”

Asook:

MAT 12:30  “Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.”

Ek weet uit die Woord, dat ek nie ‘n robot of marionet is wat niks kan of hoef vir myself te besluit nie.

Ek weet ook dat ons Here nie na die skepping nou maar magteloos moet toekyk hoe die wêreld se mense hulleself vernietig nie. Êrens tussenin is die antwoord, wat, so ver my kennis strek, op die oomblik net by ons Here bekend is. So, hoe hanteer, of verwerk ek hierdie saak in my hart?

Bo alles onthou ek – my Here is God Almagtig en om alles in verband met en om Hom te probeer verduidelik, is vir my Sy skepsel geheel en al onmoontlik.

In my omswerwinge deur die lewe, het ek nog nooit iemand teëgekom wat die harmonie tussen God se Wil en die wil van ons wat na Sy beeld geskape is, geheel en al kon verduidelik nie.

Die een verduidelik dit sus en die ander verduidelik dit so. Maar by almal is daar maar altyd, wat ek ‘n grys aria noem, wat ons met ons menslike verstand nie kan verduidelik nie en ek hanteer dit as volg. Ek wil jou aanmoedig om dit ook so te hanteer. Ek lees die Woord soos ons Here sê dat ons dit moet lees:

MRK 10:15  “Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

MAT 18:3  “… en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!”

So, hoe doen ek dit?

In kort is dit die resep wat vir my gewerk het en wat nog steeds vir my werk en ek verkondig dit dan ook so.

Eerstens moet ek ‘n besluit neem om op ons Here se roep aan my te antwoord:

HEB 3:7  “Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle Sy stem hoor,
HEB 3:8  verhard julle harte nie …”

Hoe doen ek dit?

HAN 2:37-39 
37 “Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?
38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
39  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.”

Dan, om ‘n ou geykte uitdrukking te gebruik: “Wandel ek in die weë van die Here.”

Wat beteken dit?

Hier kon ek baie en groot gedeeltes uit die Woord kwoteer het maar ek gebruik een gedeelte wat dit vir my persoonlik pragtig saamvat:

KOL 3:12-17 
12 “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.
13  Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.
14  En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.
15  En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.
16  Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.
17  En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.”

Terwyl ek al die tyd Sy opdrag aan my onthou:

MAT 28:19  “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

Verder, wat die dinge aanbetref wat ek nie heeltemal, of in sommige gevalle glad nie verstaan nie. Daarvan weet ek verseker dat my Here sal, dat wanneer ek moet weet, wat ek moet weet, ek sal weet, wat ek moet weet. Want, Hy sê mos vir ons in Sy Woord:

PSM 68:20   “Geloofd sy die Here! Dag ná dag dra Hy ons; God is ons heil! Sela.”

Asook:

HEB 13:5   “…want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”

In die tussentyd deel ek dit wat ek het; en van die res sê ek saam met my groot held Paulus. Wat sal ons dan van al hierdie dinge sê?

1KOR 13:12  “Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.”

ROM 11:33-36 
33 “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is Sy oordele en onnaspeurlik Sy weë!
34  Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was Sy raadsman gewees?
35  Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?
36  Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”

Groete
Sakkie