DIE VERBORGE MANNA EN DIE GEGRAFEERDE WIT KEURSTEEN – DEEL 2

DIE VERBORGE MANNA EN DIE GEGRAFEERDE WIT KEURSTEEN – DEEL 2

Sakkie Parsons

Hierdie is dan die tweede gedeelte van ‘n gedagte uit die Woord, oor iemand wat aan my gevra het om Openbaring 2:17 te verduidelik soos ek dit verstaan.

In die eerste gedagte uit die Woord oor hierdie saak, het ek verduidelik hoe ek die “weggesteekte manna” verstaan en ek kan dit aan jou stuur as jy dit dalk nie ontvang het nie en jy wil dit graag hê.
Hier is dan nou ook hoe ek die “wit steentjie” in OPB 2:17 verstaan.
Ons Lees:

OPB 2:17  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee ‘n wit keursteen, en op dié steen ‘n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang.

Volgens bronne wat ek geraadpleeg het, was ‘n wit steentjie, in baie gevalle was dit ‘n stukkie wit marmer, in ‘n hele paar gevalle gebruik.
Byvoorbeeld ‘n regter het, om aan te toon of iemand skuldig in ‘n saak is, ‘n swart steentjie vir die beskuldigde gewys en as die beskuldigde onskuldig was, het die regter aan hom ‘n wit steentjie gewys.
Dit het veral goed te pas gekom as die regter nie die persoon se taal kon praat nie.
Dan het atlete en mense wat by ander groot funksies of byeenkomste ook as erkenning ‘n wit steentjie, soos ek gesê het, gewoonlik ‘n stukkie wit marmer ontvang waarop hulle name uitgegraveer is en dit het dan vir hulle, as bevoorregte mense, toegang tot baie dinge gegee wat nie vir die gewone mens beskore gewees het nie.
Ook hierdie beginsel het die gemeentes in Asië baie goed begryp en kon hulle die ware betekenis daarvan in hierdie gedeelte goed verstaan,, omdat hulle geweet het:

HAN 4:11  Hy is:
      ‘Dié klip wat deur julle bouers geminag is;
      Hý het nou die sluitklip geword.’
HAN 4:12 “Daar is geen verlossing by iemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om verlos te word nie.”

In ‘n ouer vertaling lees hierdie gedeelte soos volg:

HAN 4:11  Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n
      hoeksteen geword het.
HAN 4:12  En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.

Jesus self sê die volgende:

MRK 12:10 Julle het tog sekerlik al in die Skrif gelees:
      ‘Juis daardie klip
      wat die bouers afgekeur het,
      Hý het die hoekklip
      van die gebou geword.
MRK 12:11  Dit is die Here wat dit gedoen het
     en dit is vir ons wonderlik!’”

In ‘n ouer vertaling lees hierdie gedeelte soos volg:

MRK 12:10  Het julle nie ook hierdie Skrifwoord gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword?
MRK 12:11  Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë.

Jy onthou mos nog wat ons in Openbaring 2:17 gelees het:

OPB 2:17  … asook ’n wit steentjie met ’n nuwe naam op gegraveer wat niemand anders ken nie behalwe die een wat dit ontvang het.

Prys die Naam van ons Here, dat jy en ek hierdie wonderlike wete in ons harte het en ek plaas die gedeelte soos ek dit verstaan:

JES 49:15 “ Kan ’n ma die baba vergeet wat aan haar bors drink? (ons wie aan ons Here behoort en van Hom afhanklik is.)
      Kan sy geen medelye hê met die kind wat sy in die wêreld
      gebring het nie? (ons wie deur ons Here self geskep is.)
      Selfs al sou dit tog (vir ‘n ma) moontlik wees,
      Ék sal jou nie vergeet nie!
JES 49:16  Kyk, Ek het jou naam in my hand gegraveer.

Hoe wonderlik om te weet en dit ook aan almal te verkondig, sodat hulle ook deel van hierdie grootse heerlike waarheid kan word:

EFE 2:19-22 
19 Julle is dus nie meer uitlanders en bywoners nie, maar medeburgers van hulle wat aan God behoort. Ja, julle is lede van God se huisgesin
20  wat gebou is op die fondament wat die apostels en die profete gelê het. Christus Jesus is self die hoekklip
21 op wie die hele gebou, terwyl dit kunstig inmekaargepas word, verrys tot ’n tempel wat aan die Here toegewy is.
22  Deur julle verhouding met Hom word ook julle saam opgebou tot ’n gebou waarin God deur sy Gees woon.

Kom jy en ek laat die Heilige Gees toe om deur ons getuienis, maar verál ook deur ons lewe hierdie evangelie van Jesus Christus aan die mense om ons verkondig.

Want iemand het eendag hierdie groot wysheid gespreek:

“Verkondig die Evangelie van Jesus Christus aan al die mense om jou en as dit dan nodig is, gebruik woorde ook”.

Groete,
Sakkie