SO SAL JULLE OPTREE SOOS WARE KINDERS VAN JULLE HEMELSE VADER

SÓ SAL JULLE OPTREE SOOS WARE KINDERS VAN JULLE HEMELSE VADER
  
Sakkie Parsons

Voordat ek verder gaan met hierdie skrywe, net die volgende:
Wat ek nou gaan antwoord, geld na my mening uiteindelik vir almal.
Of jy te na gekom is en of jy iemand anders te na gekom het.  Ja, of jy sonde van watter aard ookal gedoen het.

Iemand skryf aan my en vra, dat as jy teen iemand gesondig het en die persoon skade aangedoen het en jy vra ons Here om verskoning, is alles dan “ok.”
Kan jy nou maar heerlik aangaan met jou lewe?
Wat van die pyn en smart waardeer die ander persoon gaan as gevolg van jou dade?
Het jy geen verantwoording teenoor die persoon aan wie jy skade en of hartseer berokken het nie?

So met ‘n glimlag.
Dit lyk vir my in hierdie skrywe aan my, dat dit in hierdie geval die ander persoon is wat nie kan vergewe nie.
So, ek wil amper sê, dat die sogenaamde ander persoon van wie hier gepraat woord, ook baie goed moet aandag gee in wat sy/hy hier lees.
Hoe ook al.
Die eerste wat ons oor sonde, of dit nou sonde teen my is en of ek teen iemand anders gesondig het en of ek gewoon net gesondig het.
Wat ek moet besef en nooit uit die oog moet verloor nie is, dat sonde van watter aard ookal, is eerstens ‘n vergryp, of dan sonde teen ons Here en daarom verdien ons almal eintlik, of dit ‘n sogenaamde groot en of dit ‘n sogenaamde baie klein sondetjie is, ons verdien om vir ewig in die hel te wees.

ROM 6:23 Want wat die sonde uitbetaal, is die dood. …

In ‘n ouer vertaling lees hierdie gedeelte so:

ROM 6:23  Want die loon van die sonde is die dood, …

As hier iemand lees wat dink jy het nie sonde nie, want ek het al so ‘n sogenaamde Christen in my lewe ontmoet, wat die Woord verdraai en dan verkondig, dat hy nou nie meer sonde het nie.

1JOH1:8-10
8 As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie.
9 As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alles wat verkeerd is.
10 As ons beweer dat ons tot nou toe nie gesondig het nie, maak ons Hom tot 'n leuenaar. Dit beteken ook dat Sy woord nie in ons lewe plek gekry het nie.

Dan lees ek ook in PREDIKER 7:20:

PRE 7:20  want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie.

Sien jy?
Dit maak nie saak hoe ons lewe nie, maar omdat sonde die wêreld ingekom en ons mense is, sal ons altyd vergifnis vir sonde in ons lewe moet vra.
God weet dit.
Daarom het Jesus die Hemel verlaat en deur die stal in Betlehem na Golgota gestap, want net ‘n volmaakte offer kon die mens van die Hel red en die enigste volmaakte offer in die heelal was Jesus Christus.
Nou as ek in opregtheid bid, soos wat Jesus ons leer om te bid:

MAT 6:12 En vergeef ons, ons sondeskuld soos ons ook ons skuldenaars vergewe het.

Dan is al my baie sonde wat ek elke dag doen deur ons Here vergewe – maar ek moet dan ook die bietjie sonde wat my medemens, dalk lank terug aan my gedoen het ook vergeef.
Ja, al lyk dit wat my medemens nou aan my gedoen het ook hoe groot, dit kan nooit eens begin om op te weeg teen dit wat ek deurlopend teen ons volmaakte God Almagtig deur woord, daad en in my gedagtes doen nie.

Jesus self illustreer baie mooi dit wat ek nou met jou gedeel het in die gelykenis van die onvergewensgesinde onbarmhartige amptenaar.
Die amptenaar het miljoene geskuld en die koning het sy skuld afgeskryf maar die amptenaar wou nie dieselfde doen teenoor ‘n persoon wat hom net ‘n paar rand geskuld het nie
Jy kan Jesus se vertelling van hierdie gelykenis self gaan lees in MAT 18:22-35.
Aan die einde van hierdie gelykenis sluit Jesus Sy vertelling af met hierdie woorde, wat ons terdeë ter harte behoort te neem:
Want onthou, dat Jesus hier met Sy dissipels praat.  Met ander woorde ook met jou en my.

MAT 18:35 “So sal my hemelse Vader ook met julle maak as julle weier om julle medegelowiges met julle hele hart te vergewe.”

Saam met dit wat jy nou net gelees het, is dit ook goed om te onthou wat Jesus ook by ‘n ander geleentheid gesê het:

MAT 6:14 As julle die mense vergewe wat teen julle oortree, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.
MAT 6:15 Maar as julle weier om die mense te vergewe, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.

As jy dit onthou, maak dit wat Jesus ons in die “onse Vader” gebed geleer het, ook heeltemal sin:

MAT 6:12 En vergeef ons, ons sondeskuld soos ons ook ons skuldenaars vergewe het.

Iemand sê nou dalk:
“Sakkie dit is darem eintlik nie moontlik om altyd te doen wat jy nou van praat nie.”
Ja, as jy en ek net op ons self aangewese is, is dit eintlik onmoontlik maar nou het ons mos ons Here se Gees in ons, op wie ons moet vertrou.

EFE 2:8-10
8 Dit is mos dié onverdiende goedheid wat julle gered het toe julle tot geloof gekom het.  En julle geloof kom nie uit julleself nie, maar is ‘n gawe van God.
9 Dit is nie die gevolg van julle dade nie.  Niemand kan daaroor grootpraat nie,
10 want ons is God se handewerk.  Hy het ons in ons verhouding met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.

Jy sien –
As ek nie aan my eie begeerlikhede en grille toegee nie maar my oë op Jesus hou, dan en dan alleen is dit moontlik.

EFE 2:10 want ons is God se handewerk.  Hy het ons in ons verhouding met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.

Hoe heerlik dat jy en ek met EFE 2:10 wat jy nou net gelees het, na die mense om ons, ja ook hulle wat verkies om ons vyandig gesind te wees kan kyk en dit in ons harte kan uitjubel:
“Dit is moontlik om met “compassion” na jou te kyk, want:”

GAL 2:20 Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf.

Hoekom gebruik ek die Woord “compassion”?
Want vir my is “compassion” so ‘n heerlike amper alles omvattende woord van dit wat ek in my hart behoort te hê as ek na my medemens, in watter rol my medemens ookal verkies om teenoor my te wees, te kyk.

Die Woordeboek sê van “compassion” onder andere:
Compassion: medelye, simpatie, empatie en erbarming.

So, as ek bely:

GAL 2:20 Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf.

Dan kan ek na ander mense kyk, soos Jesus wil hê ons na ander moet kyk, met “compassion.” Ja, kom jy en ek strewe daarna om Jesus ook in hierdie saak gehoorsaam te wees.
Onthou jy wat Hy by geleentheid gesê het?

MAT 5:43-45
43 “Julle het gehoor dat gesê is: ‘Jy moet jou eie mense liefhê, maar jy hoef nie jou vyand lief te hê nie.’
44 Maar Ek sê vir julle, julle moet julle vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg.
45 Só sal julle optree soos ware kinders van julle hemelse Vader.  …

Ten slotte wil ek net iets meer noem wat my optrede teenoor die ander persoon van wie die skrywer aan my melding gemaak het, wat my te na gekom het aanbetref en dan sommer ook oor my optrede, as ek dalk my in die rol van die “ander persoon” bevind.

Eerstens moet ek altyd daarteen waak, dat die verkeerd wat iemand anders aan my doen, nie my optrede, of dan manier van lewe negatief beïnvloed nie.
Vir een, dit is al klaar weer sonde en met ander woorde ‘n vergryp teen ons Here en tweedens, laat ek toe dat iemand anders in ‘n meerdere of mindere mate beheer oor my wyse van lewe uitoefen.
Uiteindelik sê die Woord vir ons so kinderlik eenvoudig hoe my optrede moet wees.
Of ek die persoon is wat iemand te na gekom het en of ek die persoon is wat te nagekom is:

LUK 6:31  “En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.”

Is dit nou nie heerlik kinderlik eenvoudig om te verstaan nie?
As die ander persoon dit dan nie wil doen nie, is dit daardie persoon se probleem en gelukkig nie myne nie.
Dit wat jy nou in LUK 6:31 gelees het, moet nog steeds my kriteria van optrede bly terwyl ek ook onthou, dat ons Here verder in Sy Woord vir my, Sy kind in hierdie verband sê

EFE 4:31 Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek.
EFE 4:32 Wees eerder vriendelik met mekaar.  Gee vir mekaar om.  Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het.

Ja, kom jy en ek doen soos hulle in Engels sê:
“Let us walk the walk, of the talk that we talk.”

Groete
Sakkie