MAG ‘N CHRISTEN ‘N KINDJIE AANNEEM?

MAG ‘N CHRISTEN ‘N KINDJIE AANNEEM

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my ‘n Engelse brief waarin hulle wil weet:
Hulle kan nie kinders van hulle eie hê nie en wil nou ‘n boetie en sussie aanneem, wat baie jonk in ‘n weeshuis is.
Hulle wil nou weet of ‘n Christen so iets mag doen.

Ek deel graag met jou ook my antwoord aan hulle.
Ek kyk maar altyd wat die Woord vir ons sê en/of wys.
So hier volg wat ek in die Woord in hierdie verband vind:

Daar is ‘n hele paar gevalle in die Woord, so sien ek, waar ‘n paartjie nie kinders kon hê nie en dit is al vir my of ons Here iets spesiaal in Sy hart vir sulke paartjies gevoel het en miskien omdat ek ‘n man is, en dalk so ‘n bietjie bevooroordeelde na daardie gevalle kyk, is dit vir my, of ons Here ‘n nog meer spesiale iets in Sy hart vir die vrou van daardie paartjies gehad het.
Lees gou hier:

GEN 11:30  Sarai was onvrugbaar;  sy het geen kinders gehad nie.

Tog nadat Sarai baie jare moes wag, word sy, jy kan sê, die moeder van ‘n hele volk, naamlik Israel.

GEN 25:21  Rebekka was kinderloos.  Daarom het Isak by die HERE gepleit vir ‘n kind.  Die HERE het sy gebed verhoor en sy het swanger geword.

Toe na verloop van ‘n lang tyd, word Rebekka die moeder van die vader van die 12 stamme van Israel.

GEN 30:22  Uiteindelik het God aan Ragel gedink en haar gebede verhoor deur vir haar ‘n kind te gee.

Toe word Ragel die moeder van Josef, die man wat die hele destydse bekende wêreld, van hongersnood sou red.

LUK 1:7  Hulle het nie kinders gehad nie omdat Elisabet onvrugbaar was en hulle albei al oud was.

Toe word Elisabet die moeder van Johannes die doper van wie Jesus die volgende gesê het:

MAT 11:11  “Ek verseker julle, onder al die mense wat ooit geleef het, is daar niemand groter as Johannes die Doper nie.

Persoonlik as ek die Woord lees, dink ek dat ons Here ‘n besondere dink en doel met
veral godvresende paartjies het waarin die vrou nie swanger raak nie.

Ek sou as jy my dogter gewees het, verseker voorgestel het dat julle oorweeg om ‘n kindjie aan te neem.
So ‘n babatjie word werklik ook in jou hart, jou eie.
Ons het ‘n bediende gehad.
Haar dogtertjie was gebore terwyl sy in ons diens gewees het.  Klein Alta het in ons
huis groot geword en menige kere tussen ons geslaap.
Die bediende is toe later weg van ons af en ons verlang nou nog na baie jare, na wat
ons, ons kindjie genoem het.
Dink net hoe sal die band tussen julle en ‘n babatjie ontwikkel wat julle aanneem.
Dan gaan die angstigheid ook sommer iets van die verlede wees en dan soos in Ragel en Lea se gevalle byvoorbeeld, wat ook kinders aangeneem het en soos ander gevalle wat ek ook al van gehoor het, het julle dalk later meer as een kindjie.
Daar is so baie wonderlike babatjies en kindertjies wat ‘n Pappie en ‘n Mammie en ‘n
normale lewe en ‘n kans in die lewe wil hê, soos wat julle ook nou self met hierdie
twee kindertjies sien.

Wat julle ook al doen, hou julle oë biddend op ons Here. 
Verseker sal dan vir julle gebeur,wat net die heel beste vir julle is.

Want jy sien, ons Here is almagtig en alwetend en julle is Sy kinders en Hy sal vir julle net die heel beste in julle omstandighede gee.
Dit wat julle oorweeg, is verseker ‘n baie, baie nobele iets wat julle wil doen.
As iemand my vra wat ek sou doen as ons nie kinders kon hê nie, sou ek sonder aarseling gesê het – kom ons neem ‘n kindjie aan.
As ek en my vrou alles probeer het waar net ons twee betrokke is, wat ons met die medici se hulp kon doen en my vrou het nie swanger geword nie, sou ons verseker probeer het, om ‘n kind aan te neem.

Daar is wonderlike voorbeelde in die Woord, waar ons Here, die  aanneming  van kinders tot Sy eer en verheerliking gebruik het.
Ek dink hier aan Moses wat deur Farao se dogter aangeneem was en toe die redder van Israel uit Egipte geword het.
Dan was daar Ester wat deur haar oom Mórdegai aangeneem was en die redder geword het, wat Israel van algehele uitwissing gered het.

Dan!!!
Prys die Naam van die Here!!!
Was daar Josef wat Jesus as sy seun aangeneem het.
Jesus wat toe Golgota toe gestap het.
Jesus van wie die Woord sê:

JHN 3:16  God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Hier waar ek sit en skryf, kan ek nie aan iets beter of meer edel dink, wat ‘n kinderlose egpaar kan doen, as hulle werklik ‘n kindjie wil hê, as om ‘n kindjie wat deel is van ons Here se hoogste skepping, aan te neem en tot Sy eer groot te maak nie.
Soos ek reeds genoem het, is daar ook baie gevalle, dat sodra die egpaar ‘n kindjie  aanneem, die nuwe moeder dan ook sommer swanger raak .

Ten slotte:
Onthou jy wat Jesus van ‘n kindjie sê, ook van die wees of aangenome kindjie?

MAT 18:2-6 
2 Jesus roep toe ‘n klein kindjie nader en laat dié tussen hulle staan.
3  Toe sê Hy:  “As julle nie wegdraai van julle sondige lewe en soos die kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van God ingaan nie.
4  Daarom is elkeen wat so nederig soos hierdie kindjie word die belangrikste in God se koninkryk. 
5  En elkeen wat ‘n kindjie soos hierdie een ter wille van My verwelkom, verwelkom My.
6  Maar elkeen wat een van hierdie kleinstes wat in My glo, tot ‘n val bring – vir hom sal dit beter wees om met ‘n meulsteen om sy nek in die see te verdrink.”

Ek weet nie hoekom sommige getroude vroue nie swanger raak nie.

Net soos ek ook nie weet hoekom ekself nie kan sien nie –

Maar ek kyk na hierdie dinge en na my en na al die ander dinge om my en ek juig dit saam met my groot held Paulus uit:

ROM 11:33  Hoe ongelooflik wonderlik is God nie – hoe ontsaglik ryk en wys en vol kennis is Hy nie!  Sy beslissings gaan ons begrip te bowe;  sy manier van doen kan ons nie deurvors nie.

Want ek, Sy kind wat Hy aangeneem het –

ROM 8:15  ,,,,Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God:  Abba – ons liewe Vader.

Die Ou Vertaling lees so:

ROM 8:15… julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!

Ek, Sy kind, wat Hom my Vader mag noem, weet mos:

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Ja!
Hoe wonderlik om te weet, dat ons Here ons ook aangeneem het!!!

EFE 1:5  Deur wat Christus gedoen het, het God vooraf besluit om ons as sy kinders aan te neem.  Hy het dit gedoen omdat dit is hoe Hy dit wou hê.  

EFE 1:6  daarom prys ons God se grootheid.  Deur sy Seun wat Hy liefhet, het Hy onverdiende goedheid aan ons gegee.

Ons Here het jou en my aangeneem en nou kan ons Sy kinders na Hom gaan en Hom aanspreek as ons Vader.

ROM 8:15  Die Gees wat julle ontvang het, is nie ‘n Gees wat weer van julle vreesbevange slawe maak nie.  Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God:  Abba – ons liewe Vader.

Ek vertrou ek kon so ‘n bietjie help met lig – as iemand wat met hierdie vraag worstel, hierdie gedagte uit die Woord gelees het.

Groete,
Sakkie