COVID, ENTSTOF EN DIE MERK VAN DIE DIER

COVID, ENTSTOF EN DIE MERK VAN DIE DIER

Sakkie Parsons

Ek deel met jou my antwoord aan iemand wat aan my geskryf het en my opinie oor covid en die sameswerings-goed wat oor die internet versprei word, gevra het.

Ek het ‘n paar gedagtes uit die Woord oor die 666 geskryf waar ek ‘n bietjie meer in diepte uit wys hoe mense dwaal wat die 666 aanbetref en deel dit graag met jou as jy dit nie al gelees het nie.
Vir nou net die volgende:
Al die, soos ek dit sien, snert wat nou oor die internet oor Covid wat konsuis met die dier te doen het en waar satan deur die valse gemors poog om Christene bevrees te maak, versprei word, vergeet twee baie belangrike feite:

Eerstens:
Die boek Openbaring is vir jou en vir my geskryf maar heel eerste was dit aan 7 gemeentes in Asië geskryf:

OPG 1:4  Johannes aan die sewe gemeentes in Asië: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is,

OPG 1:11  Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste, en skryf wat jy sien in ‘n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is: na Éfese en Smirna en Pérgamus en Thiatíre en Sardis en Filadelfía en Laodicéa.

Dan skryf Johannes aan hierdie 7 gemeentes en aan jou en aan my en aan al die bevreesde mense wat hierdie sameswerings snert onder ons Here se kinders versprei:

OPG 13:18  Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig.

Sien jy?
Ons vandag – maar ook die mense in die 7 gemeentes wat in Asië was, kan die getal bereken as ons die verstand en die gepaardgaande wysheid van ons Here het en ook mense in die 7 gemeentes wat in Asië destyds was, kan en kon die getal van die dier bereken en in die dae van daardie 7 gemeentes wat in Asië was se tyd was daar nie Covid en al die ander dinge wat die bevreesde sameswering verspreiders uitdink en versprei nie.

Tweedens:
Volgens wat ek die Woord verstaan en nou ook met jou deel, gaan jy en ek nie eens meer hier wees as, om dit so te stel, die hel hier op aarde gaan losbreek nie, want ek lees, wat al ons Here se ware volgelinge aanbetref die volgende:

1THS 5:9-11
9  God se bedoeling met ons is nie dat ons gestraf moet word nie, maar dat ons deur ons Here Jesus Christus verlos word!

10 Jesus het in ons belang gesterf sodat ons, of ons nog lewe of reeds dood is, saam met Hom mag lewe.

11 Daarom, soos julle reeds doen, (of dan behoort te doen) moet julle aanhou om mekaar moed in te praat en geestelik op te bou. 

Nie mede broers en susters wat die dier aanbetref, bang te praat met allerlei sameswering teorieë drek, waarvan die 7 gemeentes wat in Asië gewees het nooit van gehoor het nie.

Ons Here kom dan en onderstreep as te ware in OPB 3:10-13 wat jy nou net in THS 5:9 en verder gelees het as Hy vir ons in Openbaring laat skryf:

OPB 3:10-13 
10  Omdat jy vasgehou het aan die getuienis van hoe Ek volhard het, sal Ek jou ook bewaar gedurende die tyd van hewige toetsing wat vir die hele bewoonde wêreld voorlê – daardie tyd wanneer al die bewoners van die aarde deeglik getoets word.
11  Ek kom gou; hou vas wat jy het sodat niemand jou kroon wegneem nie.
12  Die een wat aanhou oorwin, hom sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hulle sal nooit weer daaruit weggeneem word nie. Ek sal op hulle die Naam van my God graveer, asook die naam van die stad van my God, naamlik die nuwe Jerusalem wat neerdaal uit die hemel, van my God af, asook my nuwe Naam.
13  Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

Wees versigtig vir mense wat die Evangelie van Jesus Christus, wat ‘n Evangelie van redding en vol liefde en sonder vrees is, en wat deur so ‘n ontsettende duur prys vir die mens bekom is, te misbruik om hulle siening te staaf.

Ek wil ook graag net die volgende noem:
Laat ons nie, soos dit nou al amper mode onder baie Christene word nie, ons bekommer oor die eindtyd van die wêreld en wat met die wêreld gaan gebeur nie.
Ons word uitdruklik in die Woord vertel, dat nie ons of enige iemand anders weet wanneer dit gaan gebeur nie.
So, dit is dan mos sinneloos om daaroor te bespiegel.
Ek hoor iemand vertel, dat jy ‘n 2% kans het om van Covid dood te gaan en dan volg die hiernamaals en waar gaan jy die hiernamaals deurbring?
Nou ek weet nie of daardie syfer korek is nie maar ek weet verseker van een syfer wat absoluut 100% korek is.
Luister –

As jy wil bekommer wees oor die einde, wees dan liewer bekommer oor jou einde hier op aarde, want jy het ‘n 100% kans, dat jy ‘n einde hier op aarde gaan hê.
So, jou kanse om van Covid dood te gaan mag dalk 2% wees maar jou kanse, al was daar nie ‘n Covid nie is 100% om, wat hierdie lewe aanbetref, dood te gaan en dan volg die hiernamaals en waar gaan jy dit deurbring?

Ek laat jou dan met die een gedeelte uit ons Here se kosbare Woord, wat ek reeds met jou gedeel het wat jy in jou hart kan bêre en weer onthou as iemand met een van hierdie bangmaak sameswering snert teorieë na jou kom om jou met die dier tokkelossie bang te maak:

1THS 5:9-11
9  God se bedoeling met ons is nie dat ons gestraf moet word nie, maar dat ons deur ons Here Jesus Christus verlos word!

10 Jesus het in ons belang gesterf sodat ons, of ons nog lewe of reeds dood is, saam met Hom mag lewe.

11 Daarom, soos julle reeds doen, moet julle aanhou om mekaar moed in te praat en geestelik op te bou.

Groete,
Sakkie