EENSAAM MAAR NOOIT ALLEEN

EENSAAM MAAR NOOIT ALLEEN

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my omtrent eensaamheid – en ek haal net twee sinne uit die brief en deel dan my antwoord met jou.

“Ek voel vandag so alleen.   Ek bid al vir jare vir iemand spesiaal in my lewe…”

Ek wil dan begin deur te noem, sodat jy darem kan weet, dat ek weet wat dit is om eensaam te wees.
Eers was daar die tyd, nadat my gewese vrou my vir ‘n ander man verlaat het.
Ek was toe baie eensaam, want ook my kinders was nie meer by my nie.
Ek wil net noem dat ek met haar getrou het voor my of haar bekering.
Toe is my vrou met wie ek 34 jaar getroud was oorlede en was ek eensaam in my woonstel, op myself aangewese.
Dit maar net sodat jy kan weet as ek praat, ek darem weet waarvan ek praat – Ek was daar.

Die eerste wat jy kan weet is dit –
Ons Here is al die tyd by Sy kinders en ons mag dalk eensaam wees, omdat ons nie ‘n lewensmaat by ons het nie en ons as sosiale wesens geskape is:

GEN 2:18  Daarna sê die HERE God:  “Dis nie goed dat die mens alleen is nie.  …

Ons, Sy kinders, is egter nooit alleen nie:

MAT 28:20  “Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het.  En weet vir seker:  Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

 

JOH 14:16-17
16 “En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Raadgewer (Helper, Trooster) stuur om vir altyd by julle te wees;
17 dit is die Gees van die waarheid.  Die wêreld is net nie in staat om Hom te ontvang nie omdat hy Hom nie sien of ken nie.  Julle ken Hom egter omdat Hy by julle gaan bly en in julle sal woon.
18  Ek sal julle mos nie soos wesies in die steek laat nie;  Ek kom terug na julle toe.

 

PSALM 68:20  Prys die Here wat ons dag na dag in Sy arms dra. ..

Ek dink as mense soms destyds onverwags by my woonstel ingestap het, sou hulle dink ek is van my trollie af as hulle hoor hoe lekker ek gesels met iemand wat niemand kan sien nie – maar ek gesels te heerlik met my God en Verlosser.

Ek weet natuurlik nie waarom jy eensaam is nie, net soos wat ek ook nie weet hoekom ek weer eensaam moes wees nie maar onthou, dat jy as kind van ons Here nooit ‘n verhouding met die teenoorgestelde geslag behoort te begin, voordat jy nie eers vasgestel het of die persoon haar hart aan ons Here gegee het nie.

Ek stel dit altyd so:
“Moet nooit jou hart aan iemand van die teenoorgestelde geslag gee, as jy nie eers vasgestel het, dat daardie persoon reeds sy/haar hart aan Jesus gegee het nie.”

2KOR 6:14-18 
14 Moenie saamspan met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg?  Of watter gemeenskap kan daar wees tussen lig en duisternis? 
15  Watter ooreenkoms kan daar wees tussen Christus en Belial (‘n naam vir die duiwel)?  Of watter gemeenskaplikheid kan daar wees tussen ‘n gelowige en ‘n ongelowige?
16  Watter ooreenkoms het die tempel van God met afgode?  Ons is mos die tempel van die lewende God.  Dit is soos God gesê het:
      “Ek sal onder hulle woon en rondbeweeg, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”
17  Daarom:  “Gaan van hulle af weg en hou julle eenkant, sê die Here, en moenie vat aan wat onrein is nie;  dan sal Ek julle ontvang.
18  En ook:  “Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, sê die Here die Almagtige.”

Ek het al baie mense hoor sê, en die meeste van wie ek dit al gehoor het is dames:

“Ek sal as ons eers getroud is, sal ek hom na ons Here lei.”

Glo my as ek vir jou sê –
Daar is baie bedienings in die Woord maar om met iemand te trou, en dan die persoon na ons Here te lei, is nie een van hulle nie.
Bid gereeld tot ons Here om jou ‘n Christen maat te stuur wat by jou pas.
Wees dan op die uitkyk vir daardie maat en terwyl jy op die uitkyk bly vir die lewensmaat wat by jou pas, beginnende by jou lewe wat jy lewe.
Voer die opdrag na die beste van jou vermoë uit, wat ons Here aan elkeen van Sy dissipels gegee het:

MAT 28:19  Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
MAT 28:20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Ek wil jou ook hiermee aanmoedig om, terwyl jy hierdie opdrag uitvoer, te onthou dat Jesus mense bedien en gehelp het en ons dit ook moet doen. 

1PET 4:10 Derdens:  God het aan elkeen van julle ‘n genadegawe gegee.  Met hierdie gawes moet julle mekaar dien sodat God se ryk en onverdiende goedheid deur julle na mekaar toe kan vloei.

Raak betrokke by jou gemeente se bedrywighede en as jy kan ook by ‘n organisasie wat gemeenskapsdiens doen van die een of ander aard.  Bid dat ons HERE jou lei waar Hy jou wil gebruik en onthou – gehoorsaamheid loop uit op Wonderwerke – jy ontmoet dalk net jou lewensmaat op so ‘n wonderlike manier terwyl jy Sy opdrag uitvoer. 

MRK 10:45 “Selfs Ek, die Seun van die Mens, het immers nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en so selfs my lewe te gee as ‘n losprys vir baie mense.”

Moenie die vyand vatkans op jou gedagtegang en jou vrye tyd gee nie – onthou die gesegde:  “Ledigheid is die duiwel se oorkussing”.  Gee jou vrye tyd aan ons HERE met liefde vir Hom en vir jou medemens.

Dan terwyl jy dit doen, onthou jy, dat jy vir die huidige wel eensaam is, omdat jy nie ‘n lewensmaat het nie maar dat jy nooit alleen is nie.

Die 1953 Vertaling stel dit so:

MAT 28:20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.  Amen.

Groete,
Sakkie