KON GOD NIE MAAR ‘N ANDER PLAN GEMAAK HET NIE?

KON GOD NIE MAAR ‘N ANDER PLAN GEMAAK HET NIE?   

Sakkie Parsons

Iemand het vir my gevra, hoekom Jesus aan die kruis moes gaan hang het en of God nie maar ‘n ander plan kon gemaak het nie, Hy is tog God.

Ek deel hier met jou, soos ek dit insien:

Hoekom het Jesus aan die kruis gaan hang en op daardie verskriklike manier die dood ingegaan?

Jy sien alle mense het gesondig.

ROM 3:23 Almal het sonde gedoen en daarom kan hulle nie uitkom by die wonderlike dinge wat God vir ons bestem het nie.

Nie net kan ons met ons sonde nie ontvang wat God vir ons bestem het nie, maar daar was net een uiteinde vir ons en ons sonde, want daar is net een beloning vir sonde:

ROM 6:23  Want die sonde het sy loon wat hy uitbetaal, en dit is die dood. Maar God het ’n geskenk wat Hy ons verniet gee, en dit is die ewige lewe wat Christus Jesus ons Here vir ons moontlik gemaak het.

Jy sien, God het ‘n verskriklike afsku in als wat met sonde gepaard gaan.

PSM 5:5-7
5 U is nie ’n God wat onreg ooit kan verdra nie en ’n kwaaddoener sal nooit by U welkom wees nie.
6 Vir spotters is daar by U nie plek nie, want U haat almal wat slegte dinge doen.
7 U vernietig leuenaars en U het ’n afsku aan moordenaars en bedrieërs.

Nou kan ‘n mens vra:
Hoekom dan Jesus?  Hoekom moes juis Jesus daardie verskriklike offer vir jou en my sonde wees?
Kon God nie maar ‘n ander plan gemaak het nie?

My antwoord soos ek dit sien, is die volgende:

God is volmaak en net ‘n volmaakte offer kan die sonde wat aan jou en my kleef, eens en vir altyd tot niet maak.
Daar is egter niks in die wêreld wat volmaak is nie, behalwe God.
By dit alles het God ‘n wet vir die mens neergelê:

HEB 9:20-27

20 Hy het ook vir hulle gesê: God het met julle ’n verbond gemaak wat julle moet hou, en hierdie bloed is die bewys daarvan. 21Moses het die bloed op dieselfde manier gesprinkel oor die tent en al die dinge wat by hulle aanbidding van God gebruik is. 22Ons kan sê die wet het bepaal dat byna alles met bloed gereinig moes word en dat God die sonde nie vergewe het as daar nie bloed vergiet is nie.

23Die tent wat op aarde gemaak is saam met alles wat daarin was, was maar ’n afbeelding van die oorspronklike dinge in die hemel. Die afbeeldings moes met die bloed van sulke offers gereinig word. Maar vir die oorspronklike dinge in die hemel was baie beter offers nodig. 24Dit was nie in die mensgemaakte plek van aanbidding, die afbeelding van die egte, waar Christus ingegaan het nie. Maar Hy het in die hemel self ingegaan om ons saak by God te stel. 25Die hoofpriester moes jaar na jaar in die heiligste vertrek ingaan met bloed wat nie sy eie was nie. Maar Christus het Homself nie meer as een keer geoffer nie. 26Want dan moes Hy ook elke keer oor en oor gely het van die begin van die wêreld af. Maar nou het Hy een maal gekom op die bepaalde tyd nadat baie eeue verbygegaan het, en Hy het Homself geoffer om die sonde tot niet te maak. 27’n Mens sterf net een maal en word dan geoordeel. 28Christus is ook net een maal geoffer om die sonde van baie mense weg te neem.

Ek sê altyd vir die mense met wie ek deel –

God se liefde is onmeetlik groot en so is ook Sy regverdige geregtigheid.
Net ‘n volmaakte offer kon eens en vir altyd die mens red en omdat net God volmaak is, het God eenmaal Sy enig gebore volmaakte Seun, Jesus Christus, gestuur, om eenmaal eens en vir altyd die volmaakte offer vir die mens se redding te bewerkstellig.

GAL 4:4  Maar toe die tyd aangebreek het wat God daarvoor bepaal het, het Hy sy Seun gestuur. Hierdie Seun van God het ’n aardse moeder gehad en Hy was ’n Jood wat ook onder die gesag van die wet geval het.

‘n Ouer vertaling stel dit so:

GAL 4:4  Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet,

Nou is dit vir alle mense moontlik om eendag as hulle uit hierdie lewe uittree, by God te wees.

Dit is Jesus wat hier praat:

JOH3:13-18
13 Geen mens was nog ooit in die hemel gewees nie, behalwe Ek, die Redder wat uit die hemel gekom het.
14 Net soos Moses destyds die koperslang in die woestyn op ’n paal gehang het, so sal Ek, die Redder, ook op ’n paal gelig word
15 sodat elkeen wat op My vertrou die ewige lewe kan hê.
16 “God het die mense so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gestuur het. Iemand wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie maar hy sal die ewige lewe hê.
17 God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die mense te kom veroordeel nie maar om hulle te kom red.
18 “’n Mens wat op Hom vertrou, word nie veroordeel nie, maar ’n mens wat nie hierdie vertroue het nie is reeds veroordeel omdat dit die enigste Seun van God is in wie hy nie wou glo nie.

Luister mooi hierna:

HAN 4:12 “Daar is geen verlossing by iemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om verlos te word nie.”

Hoe wonderlik om te weet:

JOH 1:12 Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

As jy nog nie vir Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie, kan jy dit nou doen, net daar waar jy nou sit.

Sê net in volle opregtheid nou vir Jesus:

Here ek besef dat ek sonder U verlore is en gedoem is, om die ewigheid in die hel deur te bring.
Ek draai vandag, nou hier, my rug op die lewe soos wat ek geleef het.
Ek gee my hart en my lewe in U goddelike hand oor.
Ek neem U aan as my Verlosser en my Saligmaker.

Nou soek jy as ‘n saak van groot dringendheid ‘n Christelike gemeente wat Jesus verkondig as die Alfa en die Omega van die hele skepping en die Bybel aanvaar as die onfeilbare Woord van God.

Gaan na een van hulle dienste en maak kontak met die herder van die gemeente en maak ‘n afspraak met hom vir verdere leiding.

Die herder wat gepreek het, of een van die herders van die gemeente staan gewoonlik by die deur van die kerk om sy gemeentelede te groet op hulle pad uit maar hy staan ook daar juis om mense soos jy te ontmoet.
As hy of een van die ander herders van die gemeente nie by die deur is nie, moet jy miskien volgende keer na ‘n ander Christelike gemeente se diens gaan maar soek ‘n ware Christelike gemeente en raak deel van die gemeenskap van die heiliges:

Nou leef jy vir Jesus.  Hou jou oë in die gees op Hom.

Dan, wat ook al in jou lewe met jou gebeur, onthou jy Sy belofte aan jou:

1KOR 1:8-9
8 Hy sal julle enduit vas laat staan sodat, op die groot dag wanneer ons Here Jesus Christus terugkom, geen vinger na julle gewys sal kan word nie.

9 God sal dit beslis vir julle doen, want Hy hou altyd by sy woord. Dit is tog Hý (wat jou nou hierdie gedagte uit die Woord laat lees het) wat (jou) julle geroep het om in hierdie wonderlike persoonlike verhouding met sy Seun, Jesus Christus ons Here, te deel.

Groete,
Sakkie