HOE ONS REDENEER OM SONDE SOMS NIE SONDE TE MAAK NIE

HOE ONS REDENEER OM SONDE SOMS NIE SONDE TE MAAK NIE.

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my die volgende.

“'n Vroutjie het vir my een keer gevra. Is dit ook prostitusie as mens net saam met een man seksueel verkeer maar julle is nie getroud nie.  Dit is nie dat sy saam met elke man wat sy ontmoet seks het nie.  Ek weet hulle noem dit mos hoereer as jy van die een man na die ander man gaan en dan sê hulle met prostitusie verdien jy geld maar nie met hoereer nie.”

Toe ek hierdie skrywe aan my lees, moes ek glimlag oor hoe ons soms redeneer om sonde, al is dit net soms, nie sonde te maak nie.

Eerstens moet ek net hier noem, dat as ek my Afrikaans nou reg het, is die woord “hoer” en die woord “prostituut” sinonieme van mekaar.

Ek wil dan hierdie vraag antwoord soos ek persoonlik dit uit die Woord verstaan.
Vir my is die eerste feit omtrent seks, dit –
God is die Ontwerper en Skepper van seks.
Vir my nog ‘n feit is dit –
God het wat die mens aanbetref, seks so ontwerp, dat seks net tussen ‘n man en ‘n vrou behoort plaas te vind.
Daarom het ons Here die man en vrou se liggame so ontwerp dat hulle in absolute harmonie die wonderlikheid daarvan kan ervaar.
Dan, soos ek die Woord verstaan, ons Here het seks wat die mens aanbetref, net vir die huwelik bedoel.

Waarop baseer ek hierdie stelling van my?
Ons lees:

GEN 2:24  Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.

Hierdie; “… En hulle sal een vlees wees.”  het, soos my groot held Paulus, aan wie ons Here so 'n geweldige groot gedeelte van die Nuwe Testament toevertrou het, en ek die Woord verstaan, verseker op seks ook betrekking.

1KOR 6:16  Of weet julle nie dat hy wat ‘n hoer aanhang, met haar een liggaam is nie? Want die twee, sê Hy, sal een vlees wees.

Dan ook:
Een van die groot redes waarom ons Here seks geskep het, was terwille van voortplanting.

GEN 1:27  En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.
GEN 1:28  En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit …

Soos ek die Woord verstaan, is ons Here se idee dat deel van seks ook is om kinders in gesinsverband te hê.
Voor ek my volgende stelling maak net die volgende:

Die skrywers wat ons Here gebruik het om die Woord/Bybel tot stand te bring, was net instrumente in Sy hand.  Aste ware die penne waarmee Hy geskryf het.

Enige persoon wat dus met die stelling kom, wat deesdae deur so baie mense gebruik word en dan is baie van hierdie mense, mense wat hulleself dominees, pastore ens. noem, dat wat vir ons lering geskryf was, nie meer vandag geld nie want; “tye het verander”,  plaas na my mening, om dit baie lig uit te druk, ‘n limiet op ons Here se Alwetendheid.

Nou goed.
As ons Here seks net vir binne die huwelik bedoel het –
Wat het Hy Sy skrywers laat skryf?
Hoe sien ons Here seks buite die huwelik?

1KOR 7:1  Met betrekking tot die dinge waaroor julle aan my geskryf het—dit is goed vir ‘n man om ‘n vrou nie aan te raak nie.
1KOR 7:2  Maar vanweë die hoererye moet elke man sy eie vrou hê, en elke vrou moet haar eie man hê.

Soos ek dit verstaan, sê ons Here in Sy Woord hier onder andere –
Seks moet binne die huwelik plaasvind anders is dit hoereer.

1KOR 7:2  Maar vanweë die hoererye moet elke man sy eie vrou hê, en elke vrou moet haar eie man hê.

Om die waarheid te sê, so lyk dit vir my, ons Here hou nie eens daarvan dat ‘n Christen man buite die huwelik vatterig moet wees nie.

1KOR 7:1   … dit is goed vir ‘n man om ‘n vrou nie aan te raak nie.

Soos ek persoonlik die Woord verstaan, al noem jy dit prostitusie, egbreek, of seks met net een maat, ons Here noem seks buite die huwelik; hoereer.
Hy het seks vir die huwelik geskep en Hy laat my in geen onsekerheid oor wat Hy van my in hierdie verband verwag nie.

HEB 13:4  Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel. 

Groete
Sakkie