ABRAHAM SE HALWE WAARHEID PLAN
Sakkie Parsons
Iemand vra my om Genesis 12 te verduidelik soos ek dit verstaan – en natuurlik kan ‘n mens uit ‘n paar ander hoeke ook na hierdie hoofstuk kyk maar ek deel met jou wat in my hart opgekom het toe ek die skrywe aan my gelees het.
Soos wat die mens nou maar is, het die mense waar Abraham gewoon het, hulle rug op ons HERE gedraai en net boser en boser geword.
God kies toe vir Abraham uit wie Hy ‘n volk vir hom gaan verwerf wat anders as al die ander nasies Sy volk gaan wees, wie Hom gaan dien en Sy volk gaan wees:
GEN 12:1 En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.
Toe kom Abraham (ons HERE het sy naam verander vanaf Abram na Abraham in Genesis 17: 5) in die land aan wat die HERE hom aanwys en hy trek al hoe dieper in die land af en rond maar dit is nou nie presies wat hy verwag het nie en Abraham is ‘n mens en soos baie van ons mense maar maak, kyk hy vas in wat hy sien en dit is nie vir hom heeltemal aanvaarbaar nie en hy skuif dit wat ons HERE vir hom gesê het eenkant toe en volg sy eie kop met dit wat hy in sy mensheid sien en beoordeel en gaan liewer af na Egipte, waar dit baie beter lyk maar as jy ongehoorsaam aan ons HERE is, kom dit altyd teen ‘n prys en gewoonlik, teen ‘n verskriklike prys.
Hy trek nou Egipte in, uit die land uit waarin hy rondgetrek het en nie van gehou het wat hy gesien het nie.
Al het ons HERE gedink dit is ‘n land van melk en heuning, want ons HERE is alwetend:
EXO 3:8 Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle te laat optrek uit daardie land na ‘n goeie en wye land, na ‘n land wat oorloop van melk en heuning, na die woonplek van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete.
So, saam met die droogte was die:
EXO 3:8:… Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete.
Ja, vir hom was die land wat ons HERE hom wou laat in woon darem net een te veel maar hy het ‘n plan:
GEN 12:11-13,
11 En toe hy op die punt staan om Egipte in te trek, het hy met sy vrou Sarai gespreek: Kyk, ek weet dat jy ‘n vrou is mooi van aansien.
12 As die Egiptenaars jou nou sien, sal hulle sê: Dit is sy vrou en hulle sal my doodmaak en jou laat lewe.
13 Sê tog jy is my suster, dat dit met my goed kan gaan ter wille van jou en ek om jou ontwil in die lewe kan bly.
Nou lyk dit met die eerste oogopslag of dit ‘n wonderlike plan gewees het. Want ons lees:
GEN 12:15 Ook het die vorste van Farao haar gesien en haar by Farao geprys. En die vrou is na die paleis van Farao geneem.
GEN 12:16 En hy het goed gedoen aan Abram om haar ontwil, sodat hy kleinvee en beeste en esels, slawe en slavinne, eselinne en kamele in besit gekry het.
Dit het egter, soos ek dit persoonlik met my geaardheid verstaan en ek dink nie ek is anders as ander mans wie vir hulle vrouens lief is nie, teen ‘n verskriklike prys gekom.
Ek dink nie dit was vir Abraham anders nie, want volgens al die getuienis tot ons beskikking, was hy baie lief vir sy vrou maar ek dink, dit moes vir hom baie erg gewees het, om so oor al die geskenke wat hy gekry het te kyk en seker vir homself met ‘n verskriklike verwyt iets soos die volgende te sê:
Wat het ek nou oor myself gebring!
“Vanaand slaap my vrou vir wie ek so lief is in Faro se paleis. Dalk in Faro se bed. Dalk in Faro se arm
Want, Faro het Sara as sy vrou geneem.
Ons lees:
GEN 12:18 Daarop laat Farao Abram roep en hy sê: Wat het jy my nou aangedoen? Waarom het jy my nie te kenne gegee dat sy jou vrou is nie?
GEN 12:19 Waarom het jy gesê: Sy is my suster—sodat ek haar vir my as vrou geneem het? …
Ek wil dan hierdie skrywe afsluit met die volgende gedagte wat by my opgekom het toe ek weer Genesis 12 gelees het.
As Abraham, die aartsvader van Israel en uiteindelik ook van jou en my, ons wie Jesus Christus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker, want ons lees onder andere in hierdie verband:
GAL 3:7 Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham.
GAL 3:8 En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word.
Asook:
GAL 3:29 En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.
Wel, as Abraham, in ‘n onbewaakte oomblik deur satan tot so ‘n groot verkeerd verlei kon word, watter kans het jy en ek, as ons, ons oë van Jesus af haal?
Hoe dikwels, volg ons, as kinders van ons HERE, nie ons eie koppe nie en beland ons in die allergrootste gemors.
Ons HERE gaan egter nie Sy kind in daardie onhoudbare omstandighede los nie.
Abraham het nou ervaar wat hy homself en sy vrou aangedoen het en ons HERE het nou nadat Abraham sy kop gestamp en sy les geleer het, soos ons HERE maar altyd in Sy groot liefde maak – tot Abraham se hulp gekom. Want ons lees:
GEN 12:17 Maar die HERE het Farao en sy huis met groot plae besoek ter wille van Sarai, die vrou van Abram.
Onder heidense se normale omstandighede, sou Abraham en sy hele huis met hulle lewens geboet het vir die onder andere bespotting wat hulle van die Farao gemaak het – maar ek dink die Farao het so na die plae gekyk wat hom getref het:
GEN 12:17 Maar die HERE het Farao en sy huis met groot plae besoek ter wille van Sarai, die vrou van Abram.
Toe wou hy net so gou as moontlik hierdie man met sy hele gevolg uit sy land kry:
GEN 12:20 En Farao het aan enkele manne aangaande hom bevel gegee, en hulle het hom weggebring met sy vrou en sy hele besitting.
Ek laat jou dan nou met hierdie gedagte wat in my hart opgekom het toe ek Genesis 12 nou weer lees en op ons HERE wag oor wat ek met jou moet deel:
Ons lees:
HEB 11:17-21
17 Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer,
18 aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word—want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek;
19 daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang.
20 Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.
21 Deur die geloof het Jakob op sy sterfbed al twee die seuns van Josef geseën; en hy het aanbid terwyl hy leun op die knop van sy staf.
Dan volg daar nog ‘n paar voorbeelde en dan lees ons en ek los jou dan nou met hierdie gedeelte wat vir my so spesiaal is:
HEB 12:1 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,
HEB 12:2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
Groete,
Sakkie