VOL LIEFDE IN NEDERIGHEID BETROKKE

VOL LIEFDE IN NEDERIGHEID BETROKKE

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my wat min of meer so gegaan het:

Ek gebruik my eie woorde want ‘n paar dinge word genoem en ek wil niemand in verleentheid bring, deur dat iemand dalk iets êrens in die skrywe aan my herken nie.
Dit gaan maar met hulle soos wat op baie plekke gaan.
Hulle gemeente is klein en hulle kan nie ‘n voltydse dominee bekostig nie.
Nou het hulle ‘n afgetrede dominee en hulle het ‘n hele klomp probleme met hom en sy manier van preek en hulle wonder of hulle nie maar by die huis na die preek oor die radio en of oor die internet by die verskillende netwerke of voor die TV na ‘n diens kan luister nie.
Ek kan maar net noem, om dit so te stel, dat die dominee is al ver bejaard.

Ek deel met jou hierdie skrywe, omdat ek soms aan die pos aan my agterkom, dat baie mense van baie denominasies nie regtig weet wat dit behels, as ek ‘n lidmaat van ‘n gemeente is nie maar kom ons begin by die begin.
As dit enigsins moontlik is, behoort jy die dienste van jou gemeente by te woon.
Hoekom?
Die antwoord is vir my om mee te begin, voordat jy na enigiets anders kyk, heel eenvoudig.
Omdat die Woord, met ander woorde, omdat ons Here  so sê.

HEB 10:25  En laat ons tog nie – soos party gemeentelede die gewoonte het – versuim om die gemeentebyeenkomste by te woon nie.  Kom ons moedig mekaar aan, nog meer omdat ons sien dat die dag van Christus se koms al hoe nader kom.

Na my mening, omdat dominees, pastore, herders en leraars ens oor verskillende redes die kudde wat aan hulle toevertrou is, wat hierdie saak aanbetref nie reg opvoed nie, het in baie gemeentes, ek wil amper sê, in die meeste gemeentes, het baie lidmate, ek wil amper weer sê, die meeste lidmate, nie ‘n werklike benul wat dit beteken om ‘n lidmaat van ‘n gemeente te wees nie.
Baie lidmate en amper skryf ek weer, die meeste lidmate, dink, omdat hulle verkeerd geestelik opgevoed is, dat die plig van ‘n gemeentelid bestaan net daaruit om baie, of selfs die meeste van die dienste, veral Sondae, by te woon.

Iemand sal sê:
Ek sorg dat ek Sondag vir Sondag in die kerk is en dit is ook al wanneer ek die dominee/pastoor/herder/leraar sien.
Ek vra, waarom is jy dan so onbetrokke by die werksaamhede van jou gemeente, dat jy hom so min sien.

Iemand sê:
Ons dominee doen nie huisbesoek nie.
Ek vra:
Doen jy huisbesoek?
Met ander woorde besoek en bemoedig jy jou medebroers en susters.
Anders gestel:
Waarom doen jy nie huisbesoek nie?

Iemand sê:
Ons dominee besoek nie eens die siekes of die oues van dae in die oue tehuise nie.
Vir so iemand vra ek:
Besoek jy die siekes of die bejaardes in die oue tehuise in jou gemeente?
Anders gestel:
Waarom besoek jy nie die siekes en die bejaardes nie en so kan ek aan en aan gaan.

Dit is vir my ‘n ontstellende neiging, wat ek sommer ‘n tragedie noem, in die kerk vandag, dat so ‘n groot persentasie Christene glo, dat, hulle taak as Christen bestaan daaruit om Sondae in die kerk te sit as die diens begin en eindig as hulle daarna huis toe gaan.

My groot held Paulus skryf by geleentheid oor hoe ons as gemeentelede se gesindheid moet wees as volg.

1KOR 12:26-31
26  As een lid swaar kry, kry al die lede saam swaar, en as een lid vereer word, juig al die lede saam.
27  Julle is Christus se liggaam en elkeen van julle is ‘n noodsaaklike liggamsdeel.
28  Hier volg nou ‘n lys van sommige van die “liggaamsdele” wat God aan sy gemeente gegee het:  eerstens die apostels, tweedens die profete, derdens dié wat onderrig gee, dan dié wat wonders doen, dié met gawes van genesing, dié wat ander ondersteun, dié wat leiding gee, dié wat in tale praat.
29  Ons is mos nie almal apostels nie.  Ons is nie almal profete nie.  Ons het nie almal die gawe om onderrig te gee nie.  Ons het ne almal die vermoë om wonders te verrig nie.
30  Ons het nie almal gawes van genesing nie.  Ons kan nie almal tale uitlê nie.
31  In alle geval – konsentreer op die nuttigste gawes.  Maar laat ek julle nou eers vertel waar die eintlike geheim lê.

Dan volg die opskrif van 1KOR 13:  “Hoe onontbeerlik die liefde is.”

Soos ek die Woord verstaan is geen lidmaat van ‘n gemeente in die gemeente om niks te doen nie.  Net soos wat geen lid van ‘n mens se liggaam daar is om geen doel te dien nie.
Net ‘n rukkie vroeër skryf Paulus oor hierdie onderwerp as volg:

1KOR 12:15-22
15  As die voet sou sê:  “Omdat ek nie die hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” maak dit hom tog nie minder deel van die liggaam nie.
16  En as die oor sou sê:  “Omdat ek maar net ‘n oor is en nie ‘n oog nie, is ek nie deel van die liggaam nie, maak dit hom tog geensins minder deel van die liggaam nie.
17  Veronderstel ‘n mens se hele liggaam sou uit ‘n oog bestaan – hoe sou jy dan hoor?  Of as jou hele liggaam net een groot oor sou wees – hoe sou jy enigiets kon ruik?
18  Maar nou het God dit so beskik dat daar verskillende lede sal wees en dat elkeen van hulle sy eie plek in die liggaam sal hê, soos Hy dit goedvind.
19  As alles net een lid was, dan sou daar mos geen liggaam kon wees nie!
20  Ja, daar is baie lede maar net een liggaam.
21  Die oog kan nie vir die hand sê:  “Ek kan sonder jou klaarkom” nie.  En op sy beurt kan die kop nie vir die voete sê:  “Ek kan sonder julle klaarkom” nie.
22  Om die waarheid te sê, juis daardie liggaamsdele wat vir ons onbelangrik lyk, is des te meer noodsaaklik.

As Christen, is ek ‘n dissipel van Jesus en is ek onder ‘n verpligting om Sy opdrag aan my, wat een van Sy dissipels is uit te lewe:

MAT 28:18  Jesus kom toe nader en sê vir sy dissipels:  “God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou.
MAT 28:19  Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
MAT 28:20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Asook:

HAN 1:8  Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel – in Jerusalem, oor die hele Judea, in Samaria, en tot in die uithoeke van die aarde.”

Het jy gesien wat jy nou gelees het?
Daar staan nie:  En jy mag dalk as jy wil ‘n getuie vir My wees, as jy My dissipel is nie.
Daar staan baie duidelik in HAN 1:8  “… sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel…”

Jy sien:
Deur die Heilige Gees wat in my is en my liefde vir ons Here, word ek heerlik gedwing om myself op die een of ander wyse vir diens beskikbaar te stel.
Onthou ook:
As ons na ‘n diens gaan, dat dit in die eerste plek presies dit is, ‘n diens.
Dit mag ‘n ere diens, dankseggings diens ens, ens wees maar dit is ‘n diens.
Ek weet sommige mense sien dit as ‘n soort vertoning.
Soos die persoon wat aan my genoem het, dat sy so van ‘n sekere pastoor se preke hou, want hy beweeg en spring so lekker rond.
Of die ander persoon wat aan my gesê het, dat sy nie meer na ‘n sekere pastoor se dienste gaan nie, want dit is te dood.  Nee sy gaan waar die vuur hoog brand.
Sien jy die tragedie?
Ek moet nie soek waar die vuur hoog brand nie.
Ek moet die vuur wees wat hoog brand waar ek gaan.

MAT 5:14  Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie!
MAT 5:15 ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit onder ’n emmer toe nie. Inteendeel! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis.
MAT 5: 16  Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal.
Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys!”

Dit moet in my manier van lewe onmoontlik vir mense wees om nie te weet dat ek ‘n Christen is nie.
Wat gevoel en as jy wil sensasie aanbetref.
Ek dank ons Here vir die heerlike gevoel wat ek in my godsdiens ervaar maar ek sal nooit my godsdiens net daarop bou nie.

Vervolgings –
As jy ‘n probleem met enige van jou broers of susters in die gemeente het – Byvoorbeeld, hulle doen iets of doen nie iets nie, wat vir jou ‘n probleem is en dit sluit die dominee/pastoor/leraar, en die ouderlinge, of diakens, of iemand in enige ander amp en natuurlik al jou ander broers en susters in die gemeente ook in, sê die Woord baie duidelik wat jy behoort te doen:

MAT 18:15  “As een van jou medegelowiges iets verkeerds teen jou gedoen het, gaan wys hom daarop.  Maar hou dit tussen julle twee.  As hy sy fout insien en erken, het jy hom teruggewen.
MAT 18:16  Maar as jy nie daarin slaag nie, neem nog een of twee saam met jou.  So sal daar twee of drie getuies wees om te bevestig wat gesê word.
MAT 18:17  Maar as hy nog steeds weier om te luister, moet jy dit aan die gemeente gaan meedeel.  As hy egter ook weier om na die gemeente te luister, moet hy vir jou wees soos ‘n ongelowige of ‘n korrupte tollenaar.

Onthou, dat een van die uitstaande kenmerke van ‘n dissipel/dienskneg van Jesus, behoort te wees.

2TIM 2:24 Die Here se diensknegte moenie twis nie, maar moet goedgesind teenoor almal wees.  Hulle moet bekwaam wees om mense doeltreffend te onderrig en geduldig wees met moeilike mense.

Ek sluit hierdie gedagte uit die Woord af met die volgende:

JAK 4:10  Val voor die Here neer en wys dat julle van Hom afhanklik is, en Hy sal julle optel en aan julle aansien gee.
JAK 4:11  Moenie lelike goed van mekaar sê nie, liewe broers en susters.  As julle lelike dinge van ‘n medegelowige sê, of ‘n medegelowige kritiseer, dan sê julle eintlik lelike dinge van die wet van God en kritiseer julle dié wet.  Julle is tog nie regters wat kan besluit of die wet reg of verkeerd is nie.  Julle taak is om te dóén wat die wet voorskryf, nie om daaroor te oordeel nie;
JAK 4:12  Net God – Hý het die mag om te red of te vernietig.  Dit is dus baie duidelik dat julle nie regter oor julle naaste kan speel nie.

Van watter wet word hier gepraat?

JHN 13:34  “Ek gee julle ‘n nuwe opdrag:  Julle moet mekaar liefhê;  soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê.
JHN 13:35  As julle liefde teenoor mekaar beoefen, sal almal daaraan sien dat julle My dissipels is.”

ROM 13:9  “Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgesom in hierdie een groot opdrag: “Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.”
ROM 13:10 Die liefde doen niemand kwaad aan nie.  Daarom voldoen die liefde aan al God se vereistes.

As ek nou in een sin raadgewend mag saamvat alles wat ek nou met jou gedeel het, sal ek dit met die volgende sin doen:

Raak vol liefde in nederigheid betrokke in die werksaamhede van jou gemeente.                                                                                                                                                                                                        

Groete,
Sakkie