AAN HOM WAT OORWIN, SAL EK GEE …

AAN HOM WAT OORWIN, SAL EK GEE…

Sakkie Parsons

Ek wil vandag graag met jou deel oor die Woord wat vir ons leer, dat jou lewe, maar veral jou geestelik lewe, met ‘n wedloop vergelyk kan word.

Nou is dit so, dat hoe meer en gereelder ‘n mens oefen hoe fikser raak jy. Dit is ook so met die geestelike lewe.

FIL 3:12-15 
12 Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie.  Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het!
13  Nee, liewe broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker:  ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê.
14  Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee omdat Christus Jesus dit vir my verdien het.
15  Almal van ons wat geestelik volwasse is, behoort hierdie doel te hê.  As daar enigiets is waaroor julle nog wonder, sal God ook dit vir julle duidelik maak.

Ek kry verseker hierdie geestelike fiksheid ook nie op ‘n skinkbord nie, daarvoor sorg ‘n baie aktiewe satan.

1PET 5:8  Wees versigtig!  Pas op vir die duiwel se aanvalle.  Hy is julle groot vyand.  Hy loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.

Jesus sê egter:

JHN 16:33  “Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind.  In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed:  Ek het die wêreld reeds oorwin.”

Ons volg dus die EEN wat reeds vir ons oorwin het.  Daarom kan ons ook met groot vrede die toekoms ingaan.  Want, ons het ware vrede tot ons beskikking.

JHN 14:26  en wanneer die Raadgewer, (Trooster) die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

JHN 14:27  “Ek laat vir julle vrede na;  my vrede deel Ek met julle.  Ek gee nie soos die wêreld gee nie.  Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie.

Daarom dan ook waarom ons soos Paulus elke dag die toekoms met heerlike ywer en groot determinasie kan aanpak.

1KOR 9:25-27 
25 Al die deelnemers pas absolute selfdissipline toe.  Húlle doen dit nogal om ‘n prys te wen wat heel gou sal vergaan.  Maar óns doen dit vir ‘n ewige prys.
26  Daarom pyl ek reguit op die wenpaal af, doelgerig met elke tree wat ek gee.  Ek is soos ‘n bokser wat met elke hou tref.
27  Ek brei my liggam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees.  Ek wil tog nie, terwyl ek vir ander gepreek het, self deur God gediskwalifiseer word nie.

As daar dan iets op my pad kom, wat vir my te groot lyk, onthou ek waar my krag vandaan kom en ek jubel dit in groot sekerheid uit:

FIL 4:13  Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee.

Die Ou Vertaling lees:

FIL 4:13  Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.

Met daardie Krag in en om my, is dit moontlik om met ‘n lied in my hart en ‘n glimlag om my mond na die lewe te kyk en te sê:

2KOR 4:6-9 
6 God het gesê:  “Laat daar lig skyn uit die duisternis.”  So het Hy ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God wat uit die gesig van Jesus Christus straal.
7  Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte (ons sterflike liggame) – die allesoortreffende krag kom van God en nie van ons nie.
8  Op elke manier word ons onder druk geplaas, maar ons is nie verpletter nie;  ons is verward, maar nie wanhopig nie; 
9  ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie;  platgeslaan, maar nie vernietig nie.

In die dae toe ek nog maratons en ultra maratons gehardloop het, het ek altyd raad gevra by verskillende eksperte en almal het vir my goeie raad gegee maar nie almal se raad was altyd presies dieselfde nie.

Hulle het egter gewoonlik by die raad wat hulle vir my gegee het ook die volgende bygevoeg:
“Die raad wat ek jou gee, is wat vir my gewerk het.”

Iemand vra my nou dalk ook:
“Hoe kan ek geestelik fiks word en bly tot die einde toe?”

Hier is dan drie dinge wat ek veral op konsentreer, wat ek vir jou wil gee, omdat dit verseker vir my werk:

1. Maak elke dag tyd om met ons Here te praat.
Daar is ‘n liedjie wat die volgende in sy koor het:
“Take time out for Jesus, He took time for you.”
2. Lees gereeld die Woord.  Dit is presies wat dit sê.  Dit is die Woorde van God.
3. Leef jou Christelike geloof skaamteloos in die praktyk uit teenoor almal maar kies jou vriende baie versigtig.

MAT 7:6  “Moenie wat heilig is vir onheilige mense gee nie.  Hulle sal dit nie respekteer nie.  Hulle sal soos honde omspring en julle verskeur.  Moet ook nie julle kosbare pêrels vir elke morsige hierjy aanbied nie.  Hulle sal dit nie waardeer nie, maar dit vertrap soos varke onder hulle pote.”

Jou lewe wat jy lewe is die beste preek wat jy kan preek.
So kom ek en jy lewe ons lewens so, dat ons ook eendag sal kan getuig:

2TIM 4:7  Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly.

Hoe wonderlik om verseker te weet –
As ek oor die wenstreep stap, is ek vir ewig by my liefdevolle Here.

OPG 3:21  Elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek toelaat om saam met My op my troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon sit.

OPG 3:22  Elkeen wat gewillig is om te luister, moet hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Groete
Sakkie