ALLE DINGE IS DEUR EN VIR HOM GESKEP – GOD HET SY LIEFDE OOR ONS UITGESTORT IN SY SKEPPING

ALLE DINGE IS DEUR HOM EN VIR HOM GESKEP

God het Sy liefde oor ons uitgestort in Sy skepping

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

Baie dankie vir jou boodskappe.

My vraag aan jou vanoggend is: Hoekom het God besluit om die aarde te maak? 

Ek wil dan begin deur te noem, dat daar baie verskillende antwoorde oor “hoekom het ons Here met die skepping begin”, waarvan die aarde onder die groep kleinste planete is waarvan ons weet.

Baie mense wat slim is en baie mense wat dink dat hulle slim is, en onder beide hierdie groepe is daar baie teoloë, het baie lang en soms baie diep verklarings – maar ek probeer in al my antwoorde aan my lesers bly by die eerste hervormers se leuse, wat ek ook my leuse in my bediening gemaak het naamlik:

“Die Woord, net die Woord en niks anders as die Woord nie.”

So kom ons kyk wat sê ons Here in Sy Woord, waarom ons Here die heelal en die aarde geskep het:

KOL 1:16  omdat God alles deur Hom geskep het.

Ja, alles in die hemel en op die aarde –

die dinge wat gesien kan word en die dinge wat nie gesien kan word nie,

of dit nou konings of heersers, regeerders of magshebbers is –

álle dinge is deur Hom

en vir Hom geskep.

HEB 2:10 God – wat alles gemaak het en op wie alles gerig is wou baie mense deel laat kry aan die heerlikheid. Daarom was dit net gepas dat Hy hulle Voorganger – naamlik Jesus wat vir hulle die pad tot verlossing sou oopmaak – deur lyding volkome vir sy taak gereedmaak.

Dit wat jy nou gelees het, word wonderlik saamgevat as ons lees:

ROM 11:36  Hy is die bron van alles. Alles bestaan deur sy krag, en alles is op Hom gerig. Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. Amen.

Ek kan egter nie in my antwoord aan jou, anders as om ook oor ons Here se Hoogste skepping in die skepping te praat, as ek praat oor waarom ons Here die heelal en die aarde geskep het nie – maar voor ek oor ons Here se skep van Sy hoogste skepping in die skepping praat, is dit nodig, dat ek onthou hoe lyk dié GOD wie die heelal en die aarde geskape het, met groot respek gesê hoe lyk Sy wese.

Wat is die hoof kenmerk van die GOD wie die Heelal, die aarde en almal en alles op en in die aarde geskape het?

Ons lees:

1JHN 4:8  Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.

1JHN 4:16  En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.

Met dit wat jy nou net gelees het in gedagte, lees ons:

GEN 1:26-27

26 God sê toe: “Laat Ons ‘n mens maak wat met Ons ooreenstem om te heers oor die visse in die see, oor die voëls in die lug, oor die mak diere, oor die wilde diere, en oor alles wat op die aarde kruip.”

27 God het die mens in ooreenstemming met Homself geskep; volgens sy eie beeld het God hulle geskep; manlik en vroulik het Hy hulle geskep.

As ek alles in die Woord lees oor ons Here, wie liefde is, en Sy liefde vir die mens wie Hy na Sy beeld geskape het, kan ek nie anders as om tot die volgende gevolgtrekking te kom nie:

Ons Here wie liefde is, het uit liefde die mens na Sy beeld geskape, want Hy wou Sy liefde met die mens deel, en wil hê, dat die mens Hom moet liefhê en dat die mens ook die liefde wat ons Here met hom deel, die mens ook so sy liefde met sy medemens sal deel.

Dit word so mooi en sterk sigbaar, as jy ons Here Jesus se Liefdeswet lees wat in Sy Nuwe Testament wat Hy vir ons opgestel het, laat skryf het:

MAT 22:36-40 

36 “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”

37  Jesus se antwoord was: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’

38  Dit is die eerste en belangrikste opdrag.

39  Die tweede, ewe belangrike opdrag is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

40  Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee gebooie.”

Ek wil hierdie skrywe aan jou dan afsluit deur jou te vra om tyd te maak en jouself te ondersoek.

Ek het jou gewys, dat ons Here die Almagtige Skepper van hemel en aarde en ook van jou en my, met die skepping begin het, want hy wou Sy liefde oor ons uitstort en het dit ook gedoen.

Ons lees:

JOH 3:16-17 

16God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.

Nou is die vraag aan jou wie nou tot hier gelees het:

Hoe lief is jy vir ons Here?

Eintlik moes ek eers gevra het:

Is jy enigsins lief vir ons Here?

Weet jy daar is ‘n baie eenvoudige wyse om jou liefde vir ons Here te toets.

Lees hier:

1JOH 4:19-21 

19 Laat ons mekaar liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het.

20  As enigeen beweer: “Ek het God lief,” maar ’n broer of suster haat, is só ’n persoon ’n leuenaar,

want as ons ’n broer of suster wat ons elke dag sien, nie liefhet nie, kan ons mos nie vir God liefhê wat ons nie kan sien nie.

21 Hierdie opdrag het ons van Hom ontvang: As ons God liefhet, moet ons ook ons broer en suster liefhê.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.