BAIE WAT EERSTE IS, SAL LAASTE WEES, EN WAT LAASTE IS, EERSTE

BAIE WAT EERSTE IS, SAL LAASTE WEES, EN WAT LAASTE IS, EERSTE

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

Wat is jou siening van die gedeelte in die Bybel waar Jesus sê in MAT 19:30 die laaste vers,  die wat eerste is sal laaste wees en die laaste sal eerste wees?”

Daar is ‘n hele paar verklarings vir hierdie gedeelte maar ek deel met jou volgens wat ek dit met die getuienis uit die Woord tot my beskikking verstaan.

Ek begin dan met Jesus se woorde in die verband uit ‘n vroeëre vertaling, soos wat die persoon wat aan my geskryf het ook heel waarskynlik gebruik het.

In my verduideliking, sal jy ook sien waarom ek later die NLV vertaling met jou deel, wat ek natuurlik dink vir my so ‘n wonderlike vertaling na heerlike hedendaagse Afrikaans is en daarom dan hoekom ekself die NLV verkies.
Nou goed.
Ons lees: (Ou Vertaling)

MAT 19:30  Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.

Om te begin om te verstaan wat Jesus hier sê, moet jy onthou met wie Hy praat.  Jy moet aste ware – en dit is nie moeilik as jyself ‘n belydende volgeling van Jesus is nie – in hulle skoene, eintlik moet ek sê, sandale, want dit is wat hulle gedra het, gaan staan.
Jesus praat hier met Sy volgelinge / dissipels, met ander woorde ook met jou en my.

Eers lees ons van Petrus wat namens al die ander dissipels praat en sê:

MAT 19:27  Toe sê Petrus vir Hom: “Ons het alles opgegee om u dissipels te word. Wat sal ons daaruit kry?”

Nou antwoord Jesus hom en die ander dissipels en natuurlik ook vir jou en my wat met hierdie vraag in ons binneste rondloop en ek glo Jesus praat hier veral met twee groepe mense.
Eerstens praat Jesus, soos ek die Woord verstaan met mense veral in die kerk wie so belangrik voel vanweë hulle status, soos byvoorbeeld hulle posisie in die kerk of hulle status vanweë hulle rykdom en of besittings in die gemeente en Jesus sê vir hulle, dit gaan nie hulle loon eendag bepaal wanneer hulle beoordeel gaan word nie, want God is die kenner van die hart:

PSM 44:22 sou God dit nie weet nie?
Hy ken immers die geheime van die hart.

Nee, die wat Hom aanbid moet Hom in gees en in waarheid aanbid en dit kan jy baie opsigtelik, sonder selfverheerliking  natuurlik, doen – maar jy kan dit ook stil doen, byvoorbeeld net deur jou lewe wat jy lewe.

JOH 4:23-24
23 Daar kom egter ’n tyd, en dit het reeds aangebreek, wanneer die egte aanbidders die Vader vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader verkies dat die mense Hom só aanbid.
24 God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid aanbid.”

Soos ek genoem het, nou antwoord Jesus vir Petrus en al die dissipels wat daar gestaan het en vir jou en vir my, ons wie ook Sy dissipels is, wat hieroor wonder:

MAT 19:28-29 
28 Jesus se antwoord was: “Ek verseker julle dat wanneer Ek, die Seun van die Mens, in God se nuwe wêreld op my heerlike troon sal sit, sal julle wat My gevolg het, ook op twaalf trone sit en julle sal regspreek oor die twaalf stamme van Israel.
29 En elkeen wat ’n huis om my ontwil opgegee het, of broers of susters of ’n pa of ’n ma of kinders of grond – hy sal honderd maal soveel terugontvang en boonop die ewige lewe verkry.

Hy het nou net vir hulle, en natuurlik ook vir jou en my gesê, dat al Sy volgelinge beloon gaan word en dan sluit Jesus af met hierdie baie veelseggende woorde, want Jesus, wie ook God is, kyk nie soos die mens na dit wat gesien kan word nie maar Hy kyk na die mens se hart:

MAT 19:30 (Nuwe Lewende Vertaling)
Maar baie (let baie mooi op, nie almal nie maar baie) wat nou so vernaam lyk, sal eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.”

Ek sien ook, dat Jesus hier vir ons in MAT 19:30 iets sê soos die volgende en jy kan nou in jou eie geestelike lewe, as volgeling van Jesus, weer na vers 30 kyk en ‘n groot stuk heerlike troos daaruit vind, of jy kan in jou geestelike lewe vers 30 gebruik, om geestelik net weer so ‘n bietjie af aarde toe te kom en dat jyself dalk nie meer so krities kyk na daardie suster of broer in die kerk, wat nou nie altyd hardop wil/kan hard bid, of in tale praat of saam koordans ens nie.
Want in die gemeente sit daar byvoorbeeld ekstroverte en introverte.  Daar sit mense wat van nature uitbundig is en daar sit mense wat van nature stil en ingetrokke is, wat so deur ons Here geskape is maar dit wil nie sê dat hulle, wie voor die mense uitstaan, meer heilig of meer guns by ons Here vind as diegene wie nie eintlik in hulle aanbidding en eer in byvoorbeeld die erediens uitstaan nie.

Nou met dit in gedagte, asook dit wat ek eerste met jou gedeel het, asook die gesprek van Jesus met Sy dissipels voor vers 30 in gedagte, kom ons lees nou weer vers 30 en ek is seker jy sal die vers nou beter verstaan:

MAT 19:30 Maar baie (let baie mooi op, nie almal nie maar baie) wat nou so vernaam lyk, sal eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.”

Ek sluit dan af met die volgende baie goeie, eintlik moet ek sê, die heel beste raad wat ek in die verband van hierdie skrywe aan jou kan gee –

Of jy ‘n ekstrovert of introvert is.
Of jy ‘n uitbundige geaardheid het en of jy ‘n stil en of teruggetrokke geaardheid het:

1KOR 10:31  Wat julle ook al eet of drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.

Asook daarmee saam en dit is die heel belangrikste:

KOL 3:17  Verder, doen alles – of dit nou met woorde of dade is – in die Naam van
die Here Jesus. Só is julle heeltyd besig om deur Hom dank aan God die Vader te bring.

Groete,
Sakkie