DAAR SAL VALSE MESSIASSE EN PROFETE NA VORE KOM

DAAR SAL VALSE MESSIASSE EN PROFETE NA VORE KOM.

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my oor sogenaamde foto’s wat aan haar gestuur was, wat iemand, so lyk dit vir my, dan konsuis geneem het, wat op die een of ander wyse vir ons wys dat die einde onder andere ophande is.
Die persoon wou toe by my weet of sy dit behoort te gebruik in die verkondiging van die Evangelie.

Ek wil sommer hier reg aan die begin net noem, dat ek nie die program “Photoshop” afkraak of so iets nie.  Ek dink dit is ‘n baie goeie program.  Ongelukkig egter gebruik satan sommige mense om hierdie uitstekende program verkeerd te gebruik.

Ek deel graag met jou my antwoord aan die persoon wat aan my geskryf het, omdat jy seker ook die een of ander tyd die soort ding gaan ontvang.

So met ‘n glimlag –
Ek het net weer besef, dat my blindheid voordele het waarvan ek nie eens geweet het nie.

Ek wil dan so begin:
Ekself steur my nie vir een oomblik aan al hierdie prentjies en of gesigte wat vir ons vertel, dat die koms van ons Here op hande is nie.  Al die tekens en bewyse wat ek nodig het, vind ek in die Woord en ek het niks meer nodig nie.
Ek wil in groot erns aan jou voorstel, dat jy en ek, altyd onsself daaraan sal herinner, dat satan na ons kan kom soos ‘n engel van die lig:

2KOR 11:13  Want sulke mense is vals apostels; hulle is bedrieglike werkers wat voorgee dat hulle apostels van Christus is.
2KOR 11:14  Geen wonder nie!  Die satan self gee immers voor dat hy ‘n engel van die lig is.
2KOR 11:15  Daarom is dit ook niks besonders dat sy diensknegte hulleself voordoen as dienaars van geregtigheid nie.  Hulle uiteinde sal wees wat hulle volgens hulle dade verdien.

Mense kan vandag ‘n foto van jou neem, dit “Photoshop“ en as jy weer sien, poseer jy in ‘n naakfoto op die een of ander strand waar jy nog nooit in jou lewe gewees het nie.
So, ek steur my nie aan wat ook hóé indrukwekkend ookal lyk nie.
Ek bepaal my by wat ons in die Woord lees en daarvolgens leef ek.

Soos byvoorbeeld:

1PET 5:7  Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om.
1PET 5:8  Wees versigtig!  Pas op vir die duiwel se aanvalle.  Hy is julle groot vyand.  Hy loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.
1PET 5:9  Hóm moet julle teenstaan deur standvastig in julle geloof te bly. 

Terwyl ons dit doen moet ons suiwer die evangelie van Jesus Christus verkondig soos ons dit in Sy Woord vind en mense vir Jesus wen, nie bangmaak stories verkondig nie en of Photo ge-shopte prentjies rondstuur wat net mense wat in staat is om die toerusting te kan bekostig, kan sien nie.

So asof ons Here Hom nie meer steur aan al die arm mense wat nie die rekenaars en fone kan bekostig waarop hierdie sogenaamde tekens gesien kan word nie.

MAT 28:18  Jesus kom toe nader en sê vir sy dissipels:  “God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou. 

MAT 28:19 Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
MAT 28:20  Leer hulle (nie wys hulle prentjies nie) om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het.  En weet vir seker:  Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Ek dink so aan al hierdie tekens, dit is nou die prentjies ens wat so kwistig deur die bangmaak evangeliste rondgestuur word en ek onthou liewer wat Jesus ons vertel het, hoe ek Sý evangelie moet verkondig en terwyl ek die “Photo ge-shopte” gemors “delete,” onthou ek wat Jesus ook aangaande tekens en mense wat dit soek gesê het:

MAT 12:39  Jesus het egter geantwoord:  “Dit is net slegte en goddelose mense soos julle wat ‘n wonderteken as bewys wil hê.  Die enigste teken wat julle sal kry, is dié van die profeet Jona.
MAT 12:40  Net soos Jona vir drie dae en nagte in die maag van ‘n groot vis was, so sal Ek, die Seun van die Mens, vir drie dae en nagte in die
binneste van die aarde wees.

Ek en jy ken die teken waarvan Jesus praat.

Jesus Christus is gekruisig.
Hy het gesterf en is begrawe.
Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan
.

Ons het die teken van Jona waarvan Jesus praat en ons het niks meer nodig nie:
1933 Vertaling:

MAT 12:40  Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.

So, laat jy en ek geen bekommernisse hê oor die wederkoms van Jesus nie, omdat ons weet waarheen ons oppad is en laat ons, ons lewe en energie liewer gebruik om die Evangelie deur ons lewe en deur ons woorde suiwer soos wat ons dit in die Woord vind, te verkondig – aan soveel mense as moontlik, omdat ons ook onthou wat Hyself omtrent Sy wederkoms gesê het:

MAT 24:38-42 
38 Destyds, voor die groot vloedwater gekom het, het die mense soos gewoonlik voortgegaan om fees te vier en oor en weer te trou, selfs nog totdat Noag in die ark ingegaan het.
39  Hulle het eers besef wat aan die gang was toe die vloedwater kom en hulle almal verswelg het.  Net so sal die koms van die Seun van die Mens wees.
40  Twee persone sal saam op die land werk.  Die een sal saamgeneem word en die ander een sal agtergelaat word.
41  Twee vroue sal saam by die meul koring maal.  Die een sal saamgeneem en die ander een sal agtergelaat word.
42  Wees dus waaksaam, want julle weet nie watter dag julle Here kom nie.

Ek persoonlik bepaal my nét by dit wat ek in ons Here se kosbare Woord vind, want ek het net Sy Woord onder leiding van Sy Gees nodig om Sy evangelie uit te lewe en te verkondig en om gereed te wees vir Sy wonderlike wederkoms.

Ten slotte laat ek jou dan by dit alles wat jy en ek uit Sy Woord weet, ook met die volgende uit Sy kosbare Woord:

MAT 24:24  Want daar sal baie valse messiasse en profete na vore kom  Hulle sal indrukwekkende tekens en wonders doen om, as dit moontlik sou wees, selfs God se uitverkorenes te probeer mislei.

MAT 24:25  Let goed op, Ek het julle vooraf gewaarsku.

Groete,
Sakkie