DALANEY SE SANDWICH

DELANEY SE SANDWICH

Sakkie Parsons

Een Sondagoggend ‘n hele paar jaar gelede, kom my kleinseun Delaney, hy was toe sewe jaar oud, net nadat hy wakker geword het, by sy ma en sê vir haar dat hy honger vir ‘n “sandwich” is.

Sy vra hom toe wat se soort “sandwich” hy wil hê.  Waarop hy antwoord:

“Het ons Macdonalds in die huis?”

‘n Ruk nadat Alta my hierdie kostelike insident vertel het en ek weer met ‘n glimlag daaraan gedink het, het ons Here my weer herinner aan wat Hy by geleentheid gesê het.

Mrk 10:14-16 

14 Maar toe Jesus dit sien, het Hy hulle dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.

15  Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.

16  En Hy het sy arms om hulle geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën.

Jy sien, Delaney het geweet dat sy ma lief is vir hom en sy het gevra watter soort hy wil hê en hy wou ‘n Macdonalds hê, so hy vra ‘n Macdonalds.

Natuurlik het hy nie ‘n Macdonalds gekry nie maar die “sandwich” wat hy gekry het, was toe baie lekkerder as ‘n Macdonalds en weet jy hoekom?

Dit was met die liefde van ‘n ouer vir haar kind gemaak.

Nie net was dit met liefde gemaak nie maar al die kennis van Delaney se voor- en afkeure het ook in daardie “sandwich” in gegaan.

Jy sien, die “sandwich was “customized” vir Delaney, iets wat Macdonalds nie presies sou kon doen nie.

Presies dit wil ons Here vir Sy kinders doen, as ons Hom net kinderlik wil vertrou.

Ek het ons Vader ook al baie dinge gevra wat ek nie gekry het nie en ek het al baie dinge gekry wat ek nie gevra het nie.  Ek het selfs al baie dinge gekry, wat ek nie eens wou hê nie maar as ek terug kyk oor my lewe sal ek niks verander nie, want ek weet dat my liefdevolle Vader in Sy Woord vir my sê en ek kan getuig, dat dit presies so werk.

Rom 8:28  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

So, jy kan na jou Vader gaan met jou behoefte en vir Hom vra:  “Is daar ‘n Macdonalds in U huis?”maar dan moet jy dit werklik met kinderlike geloof doen.

Mrk 10:15  Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.

Mrk 10:16  En Hy het sy arms om hulle geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën.

Dalk gaan jy nie presies kry wat jy wou hê nie maar wat jy gaan kry, gaan “customized” wees net vir jou, omdat dit met die liefde van jou Hemelse Vader presies net vir jou gemaak is.

Nie net sal dit met al Sy liefde presies “customized” net vir jou wees nie – maar in die beantwoording van jou behoefte, sal al die Goddelike kennis van jou voor- en afkeure wees.

In Sy huis het Hy alles om vir jou behoefte die heerlikste “sandwich” te maak.  Want, Hy sê in Sy Woord:

Psm 24:1  Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon;

Psm 24:2  want Hy het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome.

Weet jy wat nog?

Ons Here wil ook wanneer jy Hom vra, doen wat Alta ook daardie Sondagoggend wou doen toe Delaney haar vra: “Het ons Macdonalds in die huis?”

Onthou jy wat Hy gedoen het, nadat Hy die kindertjies as voorbeeld gebruik het, van hoe ons moet glo?

Mrk 10:16  En Hy het sy arms om hulle geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën.

So, kind van God, gaan kinderlik met jou behoefte na jou Vader, sodat Hy Sy arms om jou kan slaan en jou kan seën.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.