DIE BOOM VAN DIE LEWE

DIE BOOM VAN DIE LEWE

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my:

“In Genesis 3 vers 24. Praat God van die Boom van die Lewe te beskerm. Verduidelik die Boom van die Lewe aan my asb.”

Ons lees drie keer daar aan die begin uit die Woord van die Boom van die Lewe naamlik:

GEN 2:9 Die Here God het ook verskillende soorte bome uit die grond laat opkom. Dit was mooi bome met heerlike vrugte. Die boom van die lewe het Hy in die middel van die tuin geplant en ook die boom van kennis van wat reg en verkeerd is.

GEN 3:22  Daarna sê die Here God: “Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hulle ook weet van goed en kwaad. Wat sal gebeur as hulle van die vrugte van die boom van die lewe vat en eet? Hulle sal dan vir altyd lewe!”

GEN 3:24 Nadat die Here God hulle uit die tuin verban het, het Hy gerubs oos van Eden aangestel om met ’n vlammende swaard, wat heen en weer beweeg, die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.

So,
Wat weet ons uit die Woord van hierdie boom van die lewe in die tuin Eden?

Ons weet dat hierdie boom in die middel van die tuin van Eden gestaan het en dat ons Here hom daar geplant het:

GEN 2:9 … Die boom van die lewe het Hy in die middel van die tuin geplant …

Verder, sou volgens die Woord mens wat van daardie boom eet nooit hier op aarde sterf nie:

GEN 3:22  … Wat sal gebeur as hulle van die vrugte van die boom van die lewe vat en eet? Hulle sal dan vir altyd lewe!”

Dan weet ons ook, dat hierdie boom nog in die tuin Eden gewees het toe die mens nie meer daar was nie.

GEN 3:24  Nadat die Here God hulle uit die tuin verban het, het Hy gerubs oos van Eden aangestel om met ’n vlammende swaard, wat heen en weer beweeg, die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.

Dit wil voorkom en dit is maar net ‘n afleiding wat ek maak en jy moet maar self in jou hart besluit of jy saam met my stem, dat Adam en Eva vIr ewig op aarde sou geleef het, omdat hulle gereeld van die Boom van die Lewe kon eet en dit ook die rede is waarom ons Here hulle uit die tuin laat gaan het.  Want dit sal, vir my persoonlik byvoorbeeld verskriklik gewees het, as ek moes weet, dat ek vIr ewig op hierdie aarde waar al die boosheid net erger en erger word moes lewe.
Dit sou nou letterlik vir my hel op aarde gewees het.

Ons weet nie wat van die Boom van Lewe geword het nie maar dan, ons weet ook nie wat van die Tuin van Eden geword het nie.
Ons weet net verseker dat daardie Tuin Eden nie meer op aarde bestaan nie.
Die afleiding wat ek en ander wat soos ek glo maak, is dat die Tuin waarskynlik in die sondvloed op die aarde verlore gegaan het.

Ons lees natuurlik weer van die Boom van die Lewe en dit is interessant, dat ons die eerste keer van die Boom van die Lewe in die eerste boek van ons Here se Woord lees en dan weer, vir my baie interessant in die laaste boek van ons Here se Woord aan ons van die Boom van die Lewe lees en ek gaan net voorbeelde daarvan met jou deel:

OPB 2:7  Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.
Elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek laat eet van die boom van die lewe wat in die paradys van God staan.

OPB 22:2  Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Dit dra twaalf keer per jaar vrug; elke maand dra
hy sy vrugte. En die blare van dié boom gee genesing aan die nasies.

OPB 22:14  Geseënd is dié wat hulle klere skoon was sodat hulle aanspraak mag hê op die boom van die lewe, en mag ingaan deur die poorte van die stad.

Ons Here is die Almagtige die Skepper van die hemel en die aarde. Met ander woorde Hy is die Skepper van die heelal en Hy doen soos Hy wil en dit is die beste wat kan gebeur.

Ek weet daar was ‘n Boom van die Lewe op aarde en ek weet daar gaan weer ‘n Boom van die Lewe op die nuwe aarde wees, soos jy gelees het.

Waar daardie boom nou is, weet ek nie en ons Here sê dit nie vir ons nie, en dit is goed genoeg vir my.

Ek wil dan afsluit om met jou nog iets te deel, so met die Boom van die Lewe, om dit so te stel, in die agterkop.
Eintlik wil ek sommer dat jyself dit lees.
Ek praat van die Druiwestok wat lewe gee:

JOH 15:1-6 
1 “Ek is die ware druiwestok en my Vader is die tuinier.
2 Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af. Elkeen wat egter vrugte oplewer, snoei Hy sodat dit nog meer vrugte kan dra.
3 Julle is reeds skoon gesnoei deur die boodskap wat Ek met julle gedeel het.
4 Julle moet aan My verbonde bly soos Ek aan julle.
’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as dit nie aan die druiwestok verbind bly nie, en só julle ook nie as julle nie aan My verbonde bly nie.
5 “Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.
6 Wie nie aan My verbind bly nie, word weggegooi soos ’n loot en verdroog. Hulle maak gewoonlik sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur en dit verbrand.

Kom jy en ek sorg dat ons aan Jesus Christus, die lewendgewende Druiwestok verbind bly, dan sal ons ook eendag op die nuwe aarde lewe, omdat ons gedurig van die Boom van die Lewe kan pluk en eet en lewe.

Groete,
Sakkie