DIE 'CORONAVIRUS' PANDEMIE ASOOK ANDER SIEKTES IN DIE WÊRELD
Sakkie Parsons
Iemand skryf aan my die volgende vraag:
Mag ek asb oom se opinie vra oor die Corona virus? Dink oom dis die einde van die wêreld?
Eintlik wil ek in hierdie skrywe met jou deel net oor siektes en in die besonder oor pandemiese siektes en hoe ons as Christene dit moet hanteer maar omdat deel van die vraag was – of ek dink dit is die einde van die wêreld – wil ek net in baie kort daardie gedeelte van die vraag ook antwoord.
Nee, ek dink nie dit is die einde van die wêreld nie maar ek kyk na al die dinge wat om my gebeur en ek onthou Jesus, ons Verlosser Redder en Saligmaker se woorde en ek neem dit terdeë ter harte as ek lees:
MAT 24:6-14
6 En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.
7 Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.
8 Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.
9 Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.
10 En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.
11 En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.
12 En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. (Maar jy en ek hoef nie in daardie “meeste” kategorie te val nie.)
13 Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.
14 En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.
Terug by die eintlike rede vir hierdie skrywe, naamlik oor of ons Here siektes en ja, selfs pandemiese siektes toelaat of dan soms gebruik?
Nou wil ek dadelik sê, dat ek baie voorbeelde uit die Woord kon gebruik het om te staaf wat ek sê maar ek probeer my beperk tot twee om te staaf wat ek sê.
Eerstens is daar hierdie voldonge feit, dat niks maar absoluut niks in hierdie wêreld kan gebeur as God in Sy soewereine Almag dit nie toelaat nie en dit is weer ‘n onderwerp op sy eie.
Dan –
Verseker gebruik ons Here soms, weens die mens se balhorigheid, pandemiese siektes – soos byvoorbeeld die Corona virus om die mens aste ware tot stilstand te bring in sy dolle mal fatale gejaag agter satan aan hel toe.
As voorbeeld lees ek in die Woord die volgende:
2 KRON 7:13-14
13 Soms sal Ek die hemele toesluit sodat daar geen reën val nie, of Ek kan bepaal dat sprinkane julle oeste opvreet, of Ek kan dalk plae onder julle stuur.
14 Wanneer die volk wat my Naam dra, hulle ver ootmoedig en bid, en My weer soek en hulle afkeer van hulle bose lewens, sal Ek in die hemel hoor en hulle sondes vergewe en hulle land gesond maak.LEV 26:21-26
21“As julle My bly teenstaan en nie na My wil luister nie, sal Ek julle nóg swaarder straf, soos julle verdien oor julle sondes: 22 Ek sal roofdiere tussen julle loslaat, en hulle sal julle kinders vang en julle veetroppe uitroei. Hulle sal julle só uitdun dat die paaie verlate sal wees. 23 “As dit julle nie tot ander insigte bring nie en julle My nog bly teenstaan, 24 sal Ek júlle ook teenstaan. Ek sal julle nog swaarder straf oor julle sondes: 25 Ek sal 'n oorlog oor julle bring. Dit sal die wraak wees oor julle ontrou aan my verbond. As julle veiligheid soek in julle stede, sal Ek pes onder julle loslaat sodat julle sal móét oorgee. 26 Ek sal julle meel so min laat word dat tien vrouens saam net genoeg sal hê vir een baksel. Die stukkie wat vir elkeen afgeweeg word, sal nie julle honger kan stil nie.
Ons Here wil nie die dinge oor ons bring nie maar soos die ongehoorsame kinders wat die mens nou maar is, bring ons dit oor onsself.
Soms as ek so na mense se verkeerde leefwyses kyk, is dit amper of hulle God smeek om hulle swaar te straf maar soos ek gesê het, wil ons Here ons juis van siektes genees:
MAT 4:23-24
23 Jesus het deur die hele Galilea rondgegaan. Hy het die mense in hulle sinagoges onderrig, die Goeie Nuus van God se konings heerskappy aangekondig en elke siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak.
24 Kort voor lank het die nuus oor Hom oor die hele provinsie van Sirië versprei. Die mense het almal wat siek was na Hom toe gebring: dié wat geteister was deur allerhande siektes en pyne, dié in wie daar duiwels was, epileptici, verlamdes – en Hy het hulle gesond gemaak.
Soms gebruik ons Here selfs iemand se gebrek, wat as gevolg van die sondeval die wêreld ingekom het, tot eer en verheerliking van Sy Naam:
JOH 9:1-7
1 Terwyl Jesus wegstap, het Hy ’n man gesien wat van sy geboorte af blind was.
2 Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, wie het nou eintlik gesondig, hierdie man self of sy ouers, dat hy blind gebore is?”
3 Jesus het geantwoord: “Nie hierdie man of sy ouers het gesondig nie, maar hy is blind sodat God se werke in hom sigbaar kan word.
4 Ons moet aanhou om die werke te doen van Hom wat My gestuur het – terwyl dit nog dag is; die nag is in aantog, wanneer niemand meer kan werk nie.
5 Terwyl Ek nog in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”
6 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en klei met die spoeg aangemaak. Hy het die klei op die man se oë geplak
7 en vir hom gesê: “Gaan was jou in die bad van Siloam.” (Siloam beteken “gestuurde”) Hy het toe gegaan en hom gaan was, en op pad terug kon hy sien!
Ek het verseker nie die antwoord op al die vrae wat gevra mag word nie maar ek weet: Jy en ek kan in watter omstandighede ons ook al mag wees – Of dit ‘n siekte is. Of dit ‘n gebrek is. Of watter ander omstandigheid dit ook al is – Ons kan van hierdie groot waarheid seker wees:
ROM 8:28 En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.
Hoe heerlik om dan as kind van ons Here hierdie sekere wete te hê:
Ek kan deur my siekte, gebrek of watter omstandighede ook al my God verheerlik en dien – en ek gaan eendag vir ewig by hom wees!
Ook kan geen siekte of gebrek of omstandighede in my lewe so erg wees, soos die ewige Hel wat wag vir hulle wat Jesus Christus nié aanneem as hulle Verlosser, Redder en Saligmaker nie.
Want geen omstandighede op aarde, wat jy selfs “hel op aarde” wil noem, kan eens begín om vergelyk te word met die hel wat wag vir hulle wat sonder Jesus aan die anderkant van die graf arriveer nie!
JOH 3:17-21
17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.
18 “Die persoon wat aanhou glo in Hom, word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.
19 Dít is die beslissende vonnis: die lig het na die mensewêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was boos.
20 Elkeen wat doen wat sleg is, haat die lig en kom nie na die lig toe nie sodat sy dade nie bekend word nie.
21 Elkeen wat egter die waarheid beoefen, kom na die lig toe sodat dit sigbaar word dat sy dade vanuit ’n noue verhouding met God gedoen is.”
MAT 8:11-12
11 Glo My, daar sal baie mense van oor die hele wêreld kom, en saam met Abraham, Isak en Jakob die feesmaaltyd in God se koninkryk geniet.
12 Maar die Israeliete, (en na die prys wat Jesus op golgota betaal het, ook almal wat Hom nie wil aanneem as Verlosser, Redder en Saligmaker nie) die mense wat daardie koninkryk eintlik moes beërwe het, sal uitgegooi word in die donker daarbuite. Hulle sal bitterlik huil (tot in alle ewigheid) en van selfverwyt (tot in alle ewigheid) op hulle tande kners.”JOH 1:12 Aan almal wat Hom (Jesus Christus) egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
Vir nou moet jy en ek in hierdie – wat in alle omstandighede, uiters moeilike tye is, ons lig laat skyn:
MAT 5:14-16
14 Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie!
15 ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit onder ’n emmer toe nie. Inteendeel! Jy sit dit bo-op ’n lampstander. Dan maak dit lig vir almal in die huis.
16 Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys!”
Hoe doen jy en ek dit in die wêreld in ons persoonlike lewe daar waar ons lewe en beweeg?
MAT 3:8 Dra dan vrugte wat by die bekering pas. (lewe die lewe wat by bekering pas)
MAT 7:17-21
17 ’n Gesonde boom dra immers goeie vrugte en ’n siek boom slegte vrugte.
18 ’n Gesonde boom kan nie slegte vrugte dra nie en ’n siek boom nie goeie vrugte nie.
19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
20 “So sal julle hierdie mense aan hulle vrugte uitken.”
Vroom praatjies tel nie in God se koninkryk nie
21 “Nie almal wat vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie. Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was.
Jy en ek hoef ons nie te bekommer wat met ons in die eindtyd gaan gebeur nie. Laat ons net sorg dat ons gereed is om die Hemel in te gaan as ons einde, of dan as jy wil, ons eindtyd, hier op aarde aangebreek het.
Kom jy en ek, lewe midde in die Corona en die ander dinge om ons, so higiënies en gesond, ook geestelik, as wat dit vir ons moontlik is en verkondig verder die evangelie van Jesus Christus deur die vrugte van ons bekering:
Watter ‘vrugte’?
GAL 5:22 Maar die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid,
GAL 5:23 sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie ’n wet nie.
Groete,
Sakkie